‘Oneerlike’ Noordwes-burgemeester bedank

Kgotso Khumalo het uit sy pos as burgemeester bedank. (Foto: JB Marks-munisipaliteit/Facebook)

Die lang verwagte bedanking van die ANC se Kgotso Moses Khumalo (52), burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, is uit verskeie oorde verwelkom. Dié munisipaliteite bedien die dorpe Potchefstroom en Ventersdorp.

Maroela Media het berig dat Khumalo en Cyril Hendry (54), die direkteur van die munisipaliteit, verlede jaar in hegtenis geneem is en dat hulle teregstaan op aanklagte van diefstal en bedrog.

Die Valke het uit ondersoeke na ’n trustrekening bevind dat sowat R5 miljoen wat vir die munisipaliteit bedoel was in dié rekening gedeponeer is, maar nooit aan die ouditeur-generaal verklaar is nie.

Die bedanking volg glo op ’n dringende skrywe van die VF Plus aan die speaker van die raad, Kgosie Mogoeemang, waarin dié party geëis het dat die munisipaliteit formeel moet reageer op die status van Khumalo se burgemeesterskap.

“Die skrywe is gerig nadat daar verwarring ontstaan het weens verskeie berigte in die media wat sy bedanking aangekondig het. Die munisipaliteit het dit egter nie bevestig nie,” sê Marlene Steyn du Toit, VF Plus-raadslid.

“Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie te beveg en skoon administrasie in munisipaliteite te bevorder.”

DA-raadslid Chris Hattingh het gesê dat die party Khumalo se bedanking, wat maande lank gesloer het, verwelkom en dit aan openbare en politieke druk toeskryf.

“Dis egter kommerwekkend dat hy nie as raadslid bedank het nie en steeds op die betaalrol van die belastingbetaler is.”

Volgens Hattingh het ander ANC-raadslede in dié munisipaliteit ook hulle steun agter Khumalo geplaas toe die DA ’n mosie van wantroue teen hom ingedien het.

“Hy beskik steeds oor mag en invloed binne dié munisipaliteit en sal dit beslis in die toekoms uitbuit en tot sy voordeel gebruik.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Nou is hy sommer vrygespreek ook….? Gaan hy nog vervolg word en waar is die geld

Rian ·

Haai nooit. N skelm Anc burgemeester. Wie sou dit nou verwag het?

Pieter ·

Nou gaan ou cyril hom n menister maak. Hy het het sy eerste toets los hande geslaag.

Genis ·

Ontbloot die skelms…. ANC is korrup tot teen die been.. Nee dis nog te oppervlakking, murg dak?

Di ·

Dit help veel – het nie as raadslid bedank het nie en is steeds op die betaalrol! Was dit ek en jy, gewone burgers van hierdie land was ons nou in die trok gestop. Our people sorg vir our people. Hulle is al so voorbarig, hulle weier summier om uit die poste uit te tree terwyl hulle aangekla is van miljonene se korrupsie. Dit gaan baie kekker in hierdie land van ons.

Jack ·

Die valke sal seker nou beslag le op al sy eiendom en die van sy familie of hoe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.