Ongeïdentifiseerde liggame ‘stille massaramp’

Dr. Kathryn Smith [Foto: Universiteit Stellenbosch (US)]

Daar is elke jaar net minder as 10 000 ongeïdentifiseerde liggame in Suid-Afrika se regsgeneeskundige laboratoriums wat op identifikasie wag.

Só sê dr. Kathryn Smith, ’n interdissiplinêre beeldende en forensiese kunstenaar en voorsitter van die departement beeldende kunste aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Statistieke van onopgeëiste liggame word gehou, maar nie alle onopgeëiste liggame is ongeïdentifiseer nie. En by gebrek aan ’n enkele databasis waardeur inligting oor vermiste en ongeïdentifiseerde persone in Suid-Afrika maklik vergelyk kan word, asook in ’n konteks waar daar net een forensiese patoloog per miljoen mense is, kan die omvang van hierdie ‘stille massaramp’ nie akkuraat gekwantifiseer word nie.”

Volgens Smith word begrip vir die omvang van die probleem verder bemoeilik deur ’n gebrek aan gedigitaliseerde gevallerekords in al die provinsies, die Wes-Kaap uitgesluit.

Die identifikasie van liggame vereis noue samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die departement van gesondheid se forensiese patologiediens.

Smith het die VIZ.Lab-navorsingsgroep by die US gestig om navorsing oor forensiese identifikasie en eksperimente met digitale ontwerp en visualiseringsmetodes te bevorder.

Dit is die hoogtepunt van meer as 30 jaar van die oorbrugging van die kloof tussen wetenskap en kuns deur in forensiese laboratoriums te werk en kuns- en kuratorsprojekte te produseer om kulturele voorstellings van die dood te verken, asook maniere waarop forensiese kuns die waardigheid van oorledenes of onopgeëiste liggame kan herstel.

Daardeur bring dit afsluiting vir geliefdes en help om misdaadsake op te los.

Synde reeds ’n gevestigde beeldende kunstenaar, skrywer en kurator, het Smith se belangstelling in die forensiese wêreld meegebring dat sy die enigste beskikbare nagraadse kwalifikasie ter wêreld in forensiese kuns en gesigsidentifikasie voltooi het – dit is deur die vooraanstaande praktisyn prof. Caroline Wilkinson by die Universiteit van Dundee (Skotland) gevestig.

Daarna het Smith in 2015 ’n PhD verwerf as ’n lid van Face Lab, Wilkinson se navorsingsgroep aan die Liverpool John Moores-universiteit.

Haar PhD het gefokus op forensiese visuele identifikasieprosesse, insluitend om rekords van meer as 1 000 onopgeëiste liggame van ’n Kaapstadse lykshuis na te gaan en die gepaardgaande nadoodse foto’s vir beeldgehalte en die toestand van die gesig krities te assesseer.

“’n Gesigskonstruksie van die oorblyfsels van ’n skelet kan die enigste geleentheid wees om ’n onbekende persoon te identifiseer. Maar die rekonstruksie van ’n gesig uit ’n skedel is arbeidsintensief en tydrowend en kan kundige skoonmaak verg voordat antropologiese ontleding en rekonstruksie gedoen kan word.

“Die skedel onthul geweldig baie oor die vorm van die gesig en die gelaatstrekke, maar ander kritieke visuele inligting oor iemand se liggaamlike voorkoms – soos velkleur en -tekstuur, oogkleur, haarkleur, -lengte en -tekstuur, asook liggaamsgewig – kan nie net uit die skedel afgelei word nie.

“Hierdie inligting is gewoonlik beskikbaar, tensy die liggaam in ’n baie gevorderde stadium van ontbinding is. As voldoende gesigsinligting teenwoordig is om die lewende voorkoms af te lei, selfs met trauma aan die gesig, is dit moontlik om ’n nadoodse foto digitaal aan te pas om ’n geloofwaardige en aanvaarbare lewende voorkoms te herstel. Dit is baie vinniger en meer betroubaar as om ’n gesig uit ’n skedel te rekonstrueer.”

Smith verduidelik foto’s word van alle oorledenes geneem wat in ’n forensiese fasiliteit opgeneem word. Smith se rekords toon egter dat daar geen beeldstandaardisasie bestaan nie, wat beteken dat die nadoodse foto’s baie onbetroubaar is.

Dit kan nie met vrymoedigheid vir gesigsvergelyking of vir die skep van ’n gesigsvoorstelling vir ’n beroep op die publiek vir inligting gebruik word nie – albei aanvaarde metodes van gesigsidentifikasie.

Van die 1 010 ongeïdentifiseerde liggame wat Smith bekyk het, was daar net in 30% van die gevalle geskikte gepaardgaande foto’s. Dit beteken talle liggame kan langer as die gemagtigde 30 dae in die lykshuis lê voordat hulle wettiglik vir ’n armlastige begrafnis vrygestel kan word.

Vir Smith is die kompleksiteit van die identifikasieproses en die onderneming van die fasiliteit om ondanks alles die beste moontlike forensiese sorg te lewer, beliggaam deur een onbekende individu in haar monster wat 687 dae lank gehou is voordat dit vir ’n begrafnis vrygestel is.

Kostedoeltreffende ingryping

Smith bepleit derhalwe ’n kostedoeltreffende ingryping: Die opleiding van forensiese beamptes in nadoodse gesigsfotografie.

Sy het sodanige opleiding aan sowat 90 forensiese beamptes en begrafnisondernemers gebied as deel van ’n loodsprojek van die Wes-Kaapse Konsortium vir Onopgeloste Sake, ’n inisiatief wat sy in 2021 saam met kollegas van die Universiteit van Kaapstad en die US begin het om om multifaktoriale ontleding op komplekse identifikasiesake in dié provinsie toe te pas.

Sy voer voorts aan dat ’n nadoodse voorstelling so gou moontlik in die identifikasieproses geproduseer moet word en dat dit wyd op sosiale media gedeel moet word as ’n identifikasie nodig is.

Sy is opgewonde oor die geleenthede wat kunsmatige intelligensie (KI) en digitisering aan die veld van forensiese menslike identifikasie bied en voer samesprekings met die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke oor maniere om sintetiese beelding te verken, asook hoe data oor die vermistes en ongeïdentifiseerdes beter gekonsolideer en vergelyk kan word.

“Daar is inderdaad groot geleenthede vir samewerking met die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe,” bevestig prof. Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie.

“Om meer mense op te lei om oor dissiplines in hierdie veld te werk, sal baie help om die gaping te oorbrug.”

“Die werk van forensiese humanitêre inisiatiewe met betrekking tot die identifikasie van vermiste persone of diegene wat in die soeke na ’n beter lewe omkom wanneer hulle internasionale grense probeer oorsteek, toon dat sekondêre identifikasiemiddels soos klere, persoonlike items en gesigsbeelding moontlik meer bruikbaar is in komplekse kontekste met min hulpbronne soos ons s’n. Dit sal ’n bydrae tot misdaad- en maatskaplike geregtigheid lewer en as ’n kunstenaar-wetenskaplike wat bruikbaar wil wees, is hierdie derhalwe my fokus,” sê Smith.

“Ons moet kreatief en samewerkend dink oor hoe ons forensiese identifikasie in ons unieke konteks kan doen. Ons kan nie altyd staatmaak op die metodes wat as wetenskaplik en primêr aanvaar word nie, synde vingerafdrukke, DNS en tandheelkundige rekords. DNS is duur en die meeste Suid-Afrikaners kry nie gereelde tandheelkundige versorging nie, dus bestaan vergelykende rekords in die meeste gevalle nie. Ons het Afrika-oplossings vir Afrika-probleme nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die woord leer ons dat die dooies hulself moet begrawe,gebruik die fondse en tegnologie om misdaad te bekamp.

henndrik ·

Die idiaal sou gewees het as mens die gisig het om dan op gesigs ooreenstemming kan loop op ‘n app soos Facebook en ander – ek is seker daar behoort ‘n goeie terugvoer te wees.

TheSnake ·

Net een Forensiese Patoloog per miljoen mense. Dit terwyl my dogter en haar verloofde albei meester grade het in forensiese wetenskap en by 5 akedemiese hospitale aansoek gedoen het vir hul Zuma jaar, maar albei is onsuksesvol weg gewys!

mattk ·

‘n Kollega se dogter het haar honeurs in Forensiese Patologie en het die afgelope twee jaar by verskeie instansies, selfs die SAPD se Forensiese afdeling, aansoek gedoen, sonder sukses. Dit laat mens maar net wonder hoekom!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.