‘Ongekende steun’ vir veldtog teen NWU se taalplan

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Altesaam 61 275 individue, waarvan 2 116 voornemende ouers, 5 147 studente, 4 724 ouers van huidige studente, 4220 PUK-alumni, tientalle invloedryke Afrikaanssprekendes en 20 Afrikaanse organisasies is, het Saterdag ʼn groot nee-stem teen planne om die Noordwes-Universiteit (NWU) se taalbeleid te verander, uitgebring.

Dié veldtog van Solidariteit volg nadat die NWU aangekondig het dat die universiteit sy taalbeleid hersien.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en ʼn voormalige raadslid en studenteraadsvoorsitter van die NWU, het in ʼn verklaring gesê die enorme steun vir ʼn veldtog teen ʼn Engelse NWU is ongekend. “Ses keer meer mense het aan die konsultasieproses deelgeneem as wat aan die NWU se konsultasie oor die verandering van die universiteit se handelsmerk en kleur deelgeneem het. Die deelnemers het oorweldigend nee gesê,” het Hermann gesê.

In ʼn verdere verwikkeling het die konvokasie van die NWU byna eenparig ʼn resolusie aanvaar waarvolgens die huidige taalbeleid waar Afrikaans en Engels primêre onderrigtale is, gesteun word. Daar is ook besluit dat die ontwikkeling van Sotho en Tswana as onderrigtale versnel moet word.

Van die bekendes wat Solidariteit se veldtog gesteun het, sluit in dr. Theuns Eloff, voormalige rektor van die NWU; die historikus prof. Hermann Giliomee; prof. Irma Eloff, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; die rubriekskrywer Leopold Scholtz; Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging; die sanger Chris Chameleon; prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK; dr. Pieter Mulder, ʼn oudparlementslid, regter Wim de Villiers en die taalkenner Theo du Plessis.

Vyftien jaar se studenteraadsvoorsitters het ook hul steun aan die nee-veldtog toegesê.

Van die organisasies wat ook teen die universiteit se nuwe taalbeleid gekant is, sluit in die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), AfriForum, die FAK, die Voortrekkers, die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, Afrikaans Vriendelik, Rekenmeesters vir Afrikaans, die Afrikanerbond, die onderwysopleidingsinstelling Aros, en TLU SA.

“Hierdie oorweldigende reaksie is die groot saamstaan waarna Afrikaanssprekendes dikwels streef. Ons is oorweldig, maar dankbaar,” het Hermann gesê.

Hy het verduidelik die groep vra kortom dat die huidige taalbeleid, wat erken word as een van die wêreld se bestes, behou word; dat Afrikaans se status as primêre onderrigmedium op die Potchefstroom-kampus behoue bly; dat daar geen afwatering van die taalaanbod is nie; en dat Afrikatale as volledige onderrigtale ontwikkel word.

In ʼn volledige skrywe aan die NWU het die vakbond gestel dat die NWU se posisie rakende die primêre tale van onderrig en die verdere ontwikkeling van Setswana en Sesotho geensins duidelik is nie. In die skrywe stel Solidariteit voorts dat die geloofwaardigheid van die proses van hersiening ernstig geknou word, aangesien dit voorkom of ʼn besluit om te verengels reeds geneem is. “Die NWU doen dus juis waarteen die NWU self gewaarsku het – om ʼn instelling van parallelle eentaligheid te word,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann is die reusedeelname aan die konsultasieproses  ʼn toets vir die integriteit van die NWU se konsultasieproses. “Indien mense in hul tienduisende ‘nee’ sê, is die groot vraag of die NWU steeds ‘ja’ gaan sê. Die universiteit gaan met ʼn groot vergrootglas dopgehou word om te sien of daar na die massa-reaksie geluister word,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het Maandag in die verklaring gesê bespiegeling dat dié universiteit oorweeg om in die nabye toekoms te verengels is onwaar en op waninligting gegrond. Volgens hom staan die NWU se taalbeleid nog altyd veeltaligheid voor en gaan dit so bly.

Kgwadi het in sy verklaring benadruk dat die universiteit nog altyd baie duidelik meertalig was en streef daarna om sy meertalige aard te bevorder. Hy het bygevoeg die taalbeleid op die Potchefstroomkampus is in elk geval nie meer eksklusief Afrikaans nie.

“Die Afrikaanse gemeenskap is nie naïef oor die mooi woorde van veeltaligheid wat nou opklink nie. Tukkies, Kovsies en Maties het ons van alle naïwiteit in dié verband gestroop,” het Hermann in reaksie op Kgwadi se woorde gesê.

“Die basiese vraag is wat die taal van onderrig gaan wees as die klas 08:00 die oggend begin. Volgens ʼn werksdokument van prof. Robert Balfour, wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die taalplan, gaan die taal as die klas om 08:00 begin, Engels wees. Ironies, volgens die Balfour-dokument is die NWU verbind tot veeltaligheid, maar die fases van implementering kwyn en erodeer stelselmatig die Afrikaanse aanbod af tot niks,” het Hermann gesê.

Hy het gesê die groep bied ook weerstand teen die veranderings omdat dit nie net die taal is wat gaan verander nie. “Ongelukkig is dit ook so dat Engels bloot die voorwaarde vir transformasie is. Dit is nie die einde van transformasie nie; dit is die begin daarvan. Wat voorlê, is eise vir dekolonialisering, anargisme, die vernietiging van studentelewe en die radikale rassetransformasie van personeel en studente.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Cornelia ·

Hoe sê mens dankie? Dankie vir al die manne en vroue van moed, oortuiging en geloof. Dankie dat u net soos “keerwalle” stormwaters stuit met ‘n goeie gewete en met u oog op oorwinning en geregtigheid.

jaco ·

Verstaan Afrikaanssprekendes dan nie Engels nie? Selfs in die paar enkel-afrikaansmedium skole in SA is Engels dan ‘n verpligte vak tot op matriekvlak. Ek kom uit die ou SA waar Afrikaans ‘n baie beter posisie gehad het en selfs toe was Engels ‘n verpligte skoolvak. Die ook net wit Afrikaanse mense wat so kla. Ek sien nêrens kleurlinge kla nie. Swartes kla ook nie oor Engels hulle moedertale verdring nie. Hierdie wit Afrikaanse mense wat so kla moet eerder bly wees die algemene taal in SA word nou maar net ‘n ander wit taal uit Europa. Dis ook ‘n taal wat ons darem verstaan. WAT het julle gemaak as die algemene tale toenemend Zulu en Tswana was?

Vincent ·

Presies net so Jaco. Ek kan nie minder omgee nie. Dis in elkgeval n feit dat as enige iemand verder in n STEM (science, technology, engineering, maths) rigting wil vorder engelse onderig beter is.

Danie ·

Dalk is swartes en kleurlinge nie trots op hul moedertale nie? Ek raai maar net….

Mieke ·

Dankie Jaco vir jou skrywe. Stem 100%. Ek verstaan nie WAAROM mense so skop hierteen nie, Engels is dan immers die besigheids-taal van die wêreld. Ek is van opinie dat dit leerders veel meer sal baat om hul studies daarin te voltooi. Dit berei hul voor vir die wêreld daarbuite. Ek is lief vir Afrikaans net soos meeste hier, maar dink jul nie dit is beter indien ons eerder ons moedertaal tuis koester en lewendig hou nie, jy het immers meer seggenskap oor hoe dit toegepas word as by ‘n universiteit of hoe…
Om teen verandering te skop gaan ons niks help. Pas aan of raak agter.

Michelle ·

Julle kommentaar getuig van totale onkunde/verstaan/omgee van waaroor dit gaan? Oorweeg vanuit alle hoeke asb.

Gerrit ·

Jaco, ek respekteer jou opinie maar stem nie saam die afrikaans haters gaan nie daar ophou nie more is dit die skole se beurt en waneer daar glad nie meer afrikaans instellings is nie dan besluit iemand weer Zulu is die taal vir onderig wat maak jy dan ,Sa skree demokrasie maar jou reg om onderig in jou moedertaal is genoteer op die mense regte manifes so hoekom afrikaans aanval hoekom nie Zulu,xhosa,sotho ens ook implementeer nie ?

Edd ·

Ek sal jou antwoord as iemand wat tans in my 3de jaar is van bsc Fisika en wiskunde. Tswana en Zulu het nie die vak terme nie, afrikaans het. Dit lyk dalk vir jou of die hele wereld in engels wetenskap navorsing doen ma dis nie waar nie. Baie van die artikels wat ek na gekyk het kan in beide engels en nederlands of engels en duits verkry word. Moedertaal onderig is baie meer efektief as im iemand te vorseur om iets te vertaal.

Paul ·

Jaco, dalk glo jy werklik dit gaan net oor taal. In so ‘n geval sien ek jou as bitterlik naïef.

Anel ·

Jaco, ek neem aan jy was nie op die PUK nie anders sou jy nie so ‘n stelling gemaak het nie. Dit gaan meer oor as net ons Afrikaanse taal. Indien die Universiteit sou verengels val die dekades se Kultuur weg en word dit maar net nog een van die gewone ander Universiteite in ons land. Die wat in Engels wil swot kan mos na daardie Universiteite toe gaan.

Pieter ·

Jaco, jy het duidelik die kat aan die verkeerde kant beet! Dit gaan hier oor die stelselmatige uitfasering van Afikaans as onderrigtaal en alles wat daarop volg. Kyk maar wat by Maties gebeur.

Ja ·

Ja laat ons maar ons moedertaal wegsmyt jaco, jy het heel duidelik niks liefde of sal ek se hoop vir toekoms vir afrikaans nie, alklaar gaanle en jou pens gewys, dis mense soos jy wat ons alles laat verloor

Pieter ·

Die laaste paragraaf som eintlik Kgwadi en die leirskorps van NWU se visie op. Dit is net n gelieg en bedrieg van hulle om alles na Engels te verander en die anargie en verlaagde standaarde wat daarmee gepaard gaan.

Gustav ·

Dis eintlik maar n klein persentasie van Afrikaners wat aan die opname deelgeneem het en NEE gestem het. Weet die res nie daarvan nie, of gee hulle nie om nie?

Oom Kalahari ·

Party mense het die waardigheid en keuse om hul onderrig in hul Moedertaal te kry en het wel Engels as 2de taal. Waarom moet alles gedwing word na die onderdrukkers taal. Dankie dat hierdie so hard beveg word en nie net word jou taal vertrap nie, maar jou hele menswees, kultuur, Godsdiens ens. Kgwadi kry sy invloed van sy wonderlike leermeester Jonathan Jansen wat ook ‘n groot Afrikaans (blanke) hater is. Die wat net Engelse opvoeding wil ontvang, gaan na jul veranderde Universiteite en los die Afrikaanse Opleidings instansies of is dit altyd so groot bedreiging met beter opleidings en dissipline.

Lolla ·

Ja Oom! Ons is trots tweetalig in Engels en Afrikaans… Met ons respek en dissipliene wat jy oor die algemeen nie rondom “Engels” ervaar nie. Alle uitblinkers van verskeie loopbane IS Afrikaners! TROTS om dit uit te bassein! Dis n unieke taal eie aan ons land en die wereld. Ons kan Engels praat, skryf en verstaan, sonder dat ander eens agter kom dat ons Afrikaans is, wat Engels spreukendes nie kan se nie. Niks fout daarmee nie, dit maak ons net meer aanpasbaar. Laat die luiaards verdrink in hulle eentaligheid! Ek as Afrikaans spreukende kan enigge plek in die wereld met my perfekte Engels klaar kom soos baie ander. En steeds my kosbare Afrikaanse kultuur, humor, kuns, voedsel, dissipliene en uniekheid ter dee geniet en waardeer. Dis mos my “Demokratiese, Menslikke, Gebore” REG. Julle wat se ONS Afrikaners kla…. Dis JULLE wat kla om dit te verander omdat jy eenvoudig lui is. Omdat jy nie moeite wil doen in twee tale nie. Omdat jy n identiteits krisis het. Hoekom sal jy dan anders die moeitte doen om jou energie hier op n kommentaar te spandeer?! Afrikaners is PLESIERIG!!! As jy wat lui is net in Engels wil doen en gaan, be our guest! Maar laat my met rus, wanneer ek my lewe in Afrilaans wil inkleur asook my lewe in Engels baie “aangenaam” kan maak, en JY nie!

Anoniem ·

Ag Maroela maak asb die baie spelfoute op die kommentare ook reg! Julle word so vinnig gekritiseer as daar enige fout in ‘n berig is!
Dankie vir jou kommentaar Lolla! Jy is mooi lojaal teenoor Afrikaans. Wil net se, dis sprekende, nie spreukende nie en dissipline, nie dissipliene nie?

Andrea van Vuren ·

Oom Kalahari, ek stem volkome saam. Dan Kgwadi kon nie al hierdie dinge self uitdink nie. Die gif en die angel ater die hele storie is Jonathan Jansen!

Gemaserde Sopbeen ·

Die Sopbeen het kindertjies wat daar swot. Die “arrogansie” van die nie-Afrikaanses is besig om hand oor hand toe te neem, en die “uitdagende getart” het nie einde nie. Koshuise is nie meer wat dit was nie, koshuis lewe en kameraderie bestaan nie meer nie, alles word subtiel “ontwrig” en vir die eerste keer beleef ons ‘n vlaag van “diefstal” in omtrent elke gang waartoe die “engelssprekendes” toegang het. Ek sê maar net……….want ek beleef dit. As jy iemand wil hê wat JOU TAAL EN KULTUUR wil beskerm en bevorder, stel dan iemand as Visekanselier aan wat AFRIKAANS is……

Lolla ·

Ag jaaaaa tog Annoniem/Jemma…. Soos Tomãeto en Tomato…!!! Komaan man?! Gaan merk jou skool boeke! Of laat ek eerder se boekke… Daarsy, doen gou spelcheck tot jou siellegeluk toe?! Sommigge? Foutte? Vingger? …genoeg foute om jouself mee besig te hou juf Rottemaaier?

Christiaan ·

En tog was een van die vorms wat ek vanjaar moes invul vir die voortsetting van my studie aan die PUK net in Engels…

Koos ·

Hoekom mag daar nie minstens een tot drie Afrikaanse universiteite wees nie? Onder die ou bewind was daar hoeveel universiteite waar wit en swart in Engels kon studeer! Universiteit van die Noorde, Durban-Westville, Wes-Kaapland, Fort Hare, Medunsa, Zululand, Wits, Ikeys en so gaan die lys aan. Almal maak of hulle so onderdruk was maar waar dink hulle het Mugabe en Mandela studeer? In die ou SA…

M de Beer ·

Waar is al die PUK-stryders as dit kom by sake van werklike belang? Sogenaamde Afrikaners is te sleg om hul plig by die stembus na te kom want hulle is te onnosel om proporsionele verteenwoordiging te verstaan. Sit eerder by die huis en kla. Vorm groepe wat buite die beskikbare sisteme dinge wil verander.

Gerrit ·

Ek stem saam met M de Beer kom in julle duisende na volgende jaar se verkiesings en ondersteun die VF+ en miskien vra die DA die VF+ om n koalisieregering te vorm en die lant te regeer onthou wat in Pretoria en Johannesburg gebeur het.

Johan H ·

Die NWU bestuur is basies oneerlik. Toe die PU vir CHO bestaan het is daar baie hoog opgegee oor etiek en morele waardes. Op bedrieglike en onderduimse wyse is die aard van van universiteit verander sodat naam, kleure en taal verander is. Jy wat dink die universiteit is Afrikaans is besig met selfbedrog. Ons is pas deur vyf jaar van studente-ouerwees daar. Dit is ‘n basiese mensereg om te mag leef in my moedertaal. Dit word so erken deur die VN se handves van menseregte asook die SA grondwet. Afrikaanse mense is nog nooit deur hulle Afrikaanse opvoeding verhinder om te funksioneer in ‘n uiters diverse wêreld nie. Die NWU is gewoon gehoorsaam aan hul anc meesters wat alles haat wat Afrikaans is. Op ongrondwetlike wyse sal hierdie verwoesting op elke faset van ons lewe voortduur. Baie dankie vir Solidariteit en Afriforum veral maar ook ander vir jul voortgesette intree vir Afrikaans.

Martha ·

Tydens ons kind se onlangse gradepletigheid is ons gestraf met n toespraak deur Prof Balfour rakende die taalkwessie onder andere. Hy het n pragtige dag bederf! Hoop nie ons hoef ooit weer so iets te beleef ni!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.