‘Ongekende’ vraag na hospitaalbeddens – Netcare

(Argieffoto: Getty Images/AFP)

Die hospitaalgroep Netcare sê hy is steeds besig om sy kapasiteit te versterk om soveel as moontlik pasiënte tydens die derde vlaag Covid-19-infeksies te help.

Veral Gauteng loop in hierdie stadium deur. Byna 60% van alle nuwe gevalle word in die provinsie aangemeld en die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het Vrydag gewaarsku die situasie gaan ongetwyfeld na ander provinsies oorspoel.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sê die ingrypings is gemik daarop om die veiligheid van werkers op die voorste linie te verseker, terwyl die beste versorging vir pasiënte terselfdertyd gebied word.

“Ons het ons Covid-19-bedkapasiteit aansienlik verhoog, het meer mediese beamptes en kliniese medewerkers gekontrakteer en elke poging aangewend om te verseker ons het genoeg suurstof, geskikte medikasie en persoonlike beskermingstoerusting (PPE) om ons deur die vlaag te sien,” sê Friedland.

Hy sê hospitale het ook streng infeksievoorkoming- en beheermaatreëls ingestel.

“Die uiters hoë getal mense met Covid-19 wat versorging by ons hospitale soek – en met die getalle wat steeds styg – stel egter groot eise aan ons fasiliteite en beteken ons moet besluit maak oor vlakke van versorging en sekere behandelingsmaatstawwe.

“Al hierdie besluit berus op erkende internasionale riglyne vir mediese uitsortering wat beteken dat behandeling toegeken word op grond van prioriteit en oorgangsorg.”

Friedland sê bestuurspanne sal die beste moontlike sorg bied, maar sal in sommige gevalle moontlik nie alle behandelingsopsies kan bied wanneer die vraag die kapasiteit oorskry nie.

“Ons klinici sal besluite neem gegrond op die beskikbaarheid van hulpbronne en hul beste kliniese oordeel. Ons sal hulle ten volle steun in hierdie moeilike taak en ingewikkelde besluitnemingsproses.”

In praktyk beteken dit dat sommige vlakke van versorging, soos in intensiewe- of hoësorgeenhede, nie altyd alle behandelingsmoontlikhede, soos ventilators of asemhalingstoestelle, beskikbaar sal hê nie.

As deel van rampbestuursbeplanning het die hospitaalgroep kliniese besluitnemingseenhede op die been gebring by Gautengse hospitale met ongevalle-eenhede. Friedland sê dit gaan help om die las op hospitale te verlig en gaan die stabilisering van pasiënte moontlik maak voor hulle in ʼn saal opgeneem word.

Die eenhede voorsien onder andere suurstof, ablusiegeriewe en veilige ruimtes waar verpleegpersoneel en dokters hul PPE kan aan- en uittrek.

Friedland sê Netcare-fasiliteite in Gauteng ondervind ʼn ongekende vraag na beskikbare beddens. Hy het gevra vir begrip as kommunikasie en terugvoer onder hierdie omstandighede stadiger as gewoonlik is.

“Ons het bykomende maatskaplike werkers by ons fasiliteite ontplooi om pasiënte en hul families te ondersteun.”

Netcare het ook ʼn spesiale telefoonlyn (0800 111 266) beskikbaar gestel waar die naasbestaandes van pasiënte terugvoer kan kry.

Friedland sê daar word onder moeilike en onseker omstandighede so hard as moontlik gewerk om die beste en veiligste sorg vir pasiënte te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Net ‘n vraag? Waar is al die nood Covid fasiliteite wat verlede jaar teen hoë koste en veel bravade opgerig is?

Blomme ·

En waar is die danige wonderlike Kubaanse Dokters nou? Hulle kan mos kom help om die getalle af te breek..sodat die hospitale leeg kan word! 19 000 positiewe gevalle vir 24uur is nie speletjies nie.

Jan ·

Dis maar die begin, hulle sal bontstaan wanneer die effek van die inentings begin manifesteer.

Alleen Wolf ·

Word wakker, inentings is al lankal aan die gang en die effek is niks noemenswaardig nie.

MakersMark ·

Koos ongelukkig is daar nog die wat glo in sameswerings teorieë, heksejag en niks kort van bonatuurlike wanneer dit kom by medisyne en siektes. Soos die mense in die middeleeue geglo het jy word siek want jy het gesondig. Selfs vandag se tegnologie en wetenskap wat als kan verduidelik word verwerp. Daar is al 3 bn inentings wêreldwyd gedoen maar die inentings gaan baie siek maak……maar net in SA ? Ons het baie sieners veral hier onder afrikaners. Suckers vir ‘n snert storie. Van die aanmerkings hier laat my dink dit kon op kooperasiestories se stoep gesê gewees het.

Alleen Wolf ·

Immers doen Netcare stappe om die benarde situasie wat deur ‘n onbevoegde anc plunder kader korps geskep is te probeer verlig. Goed gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.