Ongeloof oor nóg ʼn beplande seismiese opname

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Pixabay.com)

Slegs maande nadat twee afsonderlike howe dringende interdikte teen twee verskillende seismiese opnames aan die Oos- en Weskus toegestaan het, het die departement van minerale hulpbronne en omgewing (DMRE) nóg ʼn seismiese opname aan die kus goedgekeur.

Dit volg ondanks gemeenskappe aan die Noord-Kaap se oproepe vir verbeterde oorlegpleging met die geraakte gemeenskappe en kommer dat visvoorrade erg daaronder gaan ly. Die hof het ook juis in vorige sake bevind dat opnames goedgekeur is sonder behoorlike beraadslaging met die gemeenskap.

Neville van Rooy, gemeenskapsuitreikkoördineerder van die omgewingsgroep The Green Connection, sê Tosaco Energy het onlangs magtiging van die departement gekry om voort te gaan met seismiese opnames van Alexanderbaai tot Hondeklipbaai.

Na aanleiding van ʼn appèl wat bestaansvissermanne in Alexanderbaai, Port Nolloth, Kleinsee, Hondeklipbaai en Komaggas verlede week teen die opnames ingedien het, het The Green Connection ook nou appèl aangeteken.

Rooy het onlangs hierdie gemeenskappe gaan besoek en sê hulle worstel met soortgelyke kwessies as die gemeenskappe wat eindelik ʼn interdik teen die Shell- en Searcher-opnames gekry het.

“Eerstens is daar ʼn soortgelyke gebrek aan sinvolle beraadslaging met diegene wat deur die opnames geraak sal word. Gemeenskappe sê hulle het Tosaco se konsultante versoek om na die gebied terug te keer vir behoorlike besprekings op geskikte tye,” sê Rooy.

“Die feit dat die meeste van die bestaansvissermanne nie beskikbaar was om die vergaderings by te woon nie, moes ʼn aanduiding gewees het dat hulle baie beperkings en uitdagings trotseer, wat in ag geneem moes word.”

Rooy meen talle van die bestaansvissermanne het ook nie geredelik toegang tot die internet nie, dus kan besprekings nie via aanlyn vergaderings geskied nie.

“Talle mense word dan uit die beraadslagingsproses uitgesluit en daarom glo gemeenskappe die departement se goedkeuring is nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onwettig.”

Gemeenskappe al langs die Oos- en Weskus het die afgelope paar maande hulself herhaaldelik tot die hof gewend in ʼn poging om Shell se planne om seismiese opnames te doen, asook dié van die Australiese maatskappy Searcher Geodata, te stuit. Albei maatskappye se soeke na gas en olie is met behulp van interdikte gekeer.

“In hierdie stadium, soos gedemonstreer deur die Shell- en Searcher-sake, moet Tosaco en enige ander maatskappy wat beplan om gas en olie aan Suid-Afrika se seebodem te soek, weet dat behoorlike gesprekvoering met die gemeenskappe nie onderhandelbaar is nie,” sê Rooy.

“Billike en doeltreffende deelname aan die besluitnemingsproses soos vereis deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Nema) moet verseker word.”

Skade aan die omgewing

The Green Connection sê hy bevraagteken ook die wettigheid van die omgewingsmagtiging, aangesien dit reeds tydens die vooraansoekfase gedoen is sonder om die belanghebbendes ʼn geleentheid te gee om kommentaar op die vooraansoekbesluit in te dien.

Benewens die magtigingsproses, meen die organisasie daar is ook bewyse dat seismiese opnames wel direkte en indirekte fisiese skade aan individuele visspesies en mariene ekosisteme veroorsaak.

The Green Connection voer ook aan dat die versagtingsmaatreëls wat deur Tosaco voorgestel is, nie die waarskynlike skade wat aangerig sal word, doeltreffend kan voorkom nie. Dié mening is gegrond op kundige raad wat ontvang is.

“Die gebrek aan akoestiese modellering – wat relevant is vir die gebied – is nog ʼn noodlottige fout in die maatskappy se beoordeling.”

Omdat die potensiële omvang en reikwydte van die voorgestelde seismiese opnames onderskat is, meen die omgewingsorganisasie dat Tosaco ook versuim het om die uitwerking daarvan op bestaansvissermanne in ag te neem.

“Ons sien reeds ʼn afname in die snoekvoorrade, en ek glo dit is weens die grootskaalse soeke na gas en olie aan die seebodem,” sê ʼn inwoner van Kleinsee.

“Ons wil inklusiewe en maatskaplike projekte hê wat in ooreenstemming is met doelwitte om die klimaatkrisis aan te pak. Ons wil wind- en sonenergie met ekonomiese potensiaal hê, maar wat beslis nie ons omgewing sal benadeel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris dupreez ·

Die anc sal aanhou om dit goed te keur , want hulle geldlaaie is leeg, en hulle moet hulle cut kry.

annie ·

Verstaan tog, ons het ‘n paar oligarge nodig op die wêreldverhoog. Waar anders kan ons regering nog gryp buiten onder die grond selfs op die seebodem. Iewers moet die pot goud lê en wag. En ons minister sál doen wat hy wil.

Windhond ·

Hierdie regering is soos die spreekwoordelike bedorwe kind wat alles wil he wat hulle oe sien, daar is geen disipline nie en hulle voel dit nie aan hul sak nie want al die hofsake se kostes word deur die belasting betalers gedra

Di ·

Die spul smeer hulle agterente af aan die howe. Dis mos HULLE land, Sal aanhou daarmee tot hulle regkom.

Skadu ·

Laat die mense wat hierdie eksplorasies goedkeur hulle duikpakkies neem en tyd onder daardie bote spandeer om eerstehands te beleef wat hul aan die seelewe doen. Jy moet mos kan vat wat jy uitdeel…

Hendrik ·

In Namibie sowel as in SA word regeer met die opvatting dat die land die eiendom van die regeerders is. Allerande kortpaaie word gevat want moontlik kan dit slaag.

Johann ·

Mense mense…dink gou mooi. Die bankrot ANC se kaders het waarskeinlik ‘n “target” om te haal uit hulle elkeen se “portufeulje”. En Glen van die sonder die tande clan is voor aan met bakhand staan as dit kom by “pelle” als toelaat vir n donasie!

Hayntjie ·

Hoe dan nou? ʼn Inwoner beweer dat die snoek getalle alreeds afgeneem het agv die navorsing en opnames. Wat weet ons nie? Is die groenes se besware werklik legitiem of is hulle net lus om lawaai te maak wat vooruitgang keer.

Pieter ·

Sterkte. Met die belowende gas/olie vonds aan die Namibiese kus gaan hierdie aansoek deur geforseer word, omdat dit so naby aan Namibia is. Tenspyte van die groen energie agenda gaan gierigheid en rykdom hierdie projek dryf want Baäl aanbidding is nog steeds met ons.

voor ek vergeet ... ·

Ek voel jammer vir die gemeenskappe van kleinskaalse vissers wat langs die gebied woon, maar hier moet hierdie keer verder gedink word. Almal in ons land ly vandag onder die besluit wat regter Bloem in die 2de Shell-saak geneem het om Shell te verbied om met sy eksplorasie van die Weskus voort te gaan. Regter Bloem se besluit was geregverdig aan die hand dat die beskerming van regte belangriker is as die ekonomie … SA se ekonomie is weens die ANC se plunder-beleid reeds in die gemors, as hierdie ook gestop word, is ons voorland om ʼn invoerder van olieprodukte eerder as ʼn raffineerder van olie te word. Kan ons land dit bekostig, veral nou met die oorlog wat oliepryse opjaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.