Drie jong mense is op slag dood toe die voertuig waarin hulle gereis het Maandagoggend in Brackendowns in Alberton ʼn boom getref het.
William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het gesê die voertuig het in twee geskeur voor dit in Letabastraat tot stilstand gekom het. Al die insittendes is uit die voertuig geslinger.
Die drie insittendes wat agterin die voertuig gesit het, het op die toneel gesterf, terwyl die bestuurder en voorste passasier in ʼn kritieke toestand na onderskeidelik die Unie-hospitaal in Alberton en die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Vosloorus geneem is.
“Al vyf was in hul laat tienerjare of vroeë 20’s. Hulle was glo van Thokoza na die Ekurhuleni West College in Brackendowns op pad. Die bestuurder het na bewering beheer oor die voertuig verloor voor dit ʼn groot boom in Letabastraat getref het,” het Ntladi gesê.
Die Ekurhuleni-metropolisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
Dit moes teen ‘n vreeslike spoed gebeur het om’ n kar so oop te laat skeur