Ongeluk eis geliefde skermswewer

Allen het in 2000 ’n ernstige skermsweefongeluk oorleef en toe besluit om die meeste van sy tweede kans op die lewe te maak. Foto: aerialphoto.co.za

ʼn Bekende in skermsweefkringe is dood toe sy skermsweeftuig Dinsdag in die spogbuurt Llandudno aan die Skiereiland se kus neergestort het.

Anthony (Ant) Allen het op ʼn huis in die woonbuurt se stoep gelê toe ER24-paramedici kort ná 14:00 op die toneel aankom, vertel Ineke van Huyssteen, ER24-woordvoerder. “Ander paramedici, lewensredders en die polisie was toe reeds op die toneel.”

Allen het nog geleef, vertel Van Huyssteen, maar hy was in ʼn kritieke toestand en sy lewenstekens was vinnig aan’t agteruitgaan. “Ondanks paramedici se pogings kon hulle hom nie bybring nie en is hy later op die toneel dood verklaar.”

Anthony (Ant) Allen aan die skermsweef bo die spogbuurt Llandudno, waar hy Dinsdag verongeluk het. Foto: Facebook

Ronnie Beukes, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Skerm-en-hangsweef-vereniging (Sapha), sê dit gebeur dikwels dat mense by skermsweef betrokke raak, maar dit ná ʼn ruk los weens gesinsverpligtinge of om ander redes, maar Allen het dié sport jare lank beoefen en veel bereik, soos die foto’s op sy webwerf getuig.

Beukes vertel hy het Allen langer as 20 jaar geken en sal hom onthou as ʼn mense-mens wat altyd behulpsaam was en minder ervare swewers met raad en daad bygestaan het. “Hy het altyd tyd gemaak vir mense om te sit en gesels,” onthou Beukes.

Talle nooddienste het hulle na die toneel gehaas waar Allen neergestort het. Foto: ER24

Allen het die maatskappy The Aerial Perspective in 1994 begin om sy vliegervaring en liefde vir fotografie te kombineer om lugfoto’s vir die siviele ingenieursbedryf te neem. Eers het hulle skermsweeftuie gebruik om dié foto’s te neem, maar later het hy van uiteenlopende soorte vliegtuie gebruik gemaak.

Allen se lewe is einde 2000 tot stilstand geruk toe hy by Dasklip naby Porterville in die Swartland met sy kompetisie-skermsweeftuig neergestort het. Volgens sy webwerf het dié amper-dood-ervaring en tydelike verlamming hom selfs meer vasbeslote gemaak om iets goeds van sy tweede lewenskans te maak.

Allen het ’n bestaan gevoer deur lugfoto’s te neem. Foto: aerialphoto.co.za

Al was hy amper ʼn jaar lank buite aksie terwyl hy aangesterk en rehabilitasie ondergaan het, het hy geglo die ongeluk het met ʼn doel gebeur. Hy het skertsend daarna verwys as die mees positiewe ervaring wat hy nooit weer sou wou beleef nie.

Daarna het hy hom voorgeneem om ʼn sukses te maak van alles wat hy aangedurf het, professioneel én wat sport en ontspanning betref. Sy oogpunt was om sy fotografiedienste uit te brei en bewustheid daaroor in die markplek te skep, volgens sy biografiese skets op sy webwerf.

Sy droom was om ʼn gehaltepublikasie van lugfoto’s van Suider-Afrika “in die nabye toekoms” die lig te laat sien.

Allen word oorleef deur sy vrou, Beth, en twee kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MG ·

Wat ‘n tragiese gebeurtenis!
Maar Allen is sekerlik nie op slag dood (par. 1) as van Huyssteen (par. 3) sê dat hy nog geleef het ná die val nie?

Mariné Lourens ·

Dagsê MG

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Gesiggie ·

Dit is altyd vir my so hartseer dat iemand wat sy of haar droom uitleef in dit wat hul die beste in is? sterf op so n manier… My innige meegevoel aan Allan se Familie en vriende…

Sandy ·

Amper dood in 2000, was ‘n tweede geleentheid gegun op die lewe, en neem weer die sport op wat hom amper sy lewe die eerste keer gekos het.

Aai tog.

Ek stuur my innige simpatie aan al sy geliefdes in hierdie tragiese tyd.

IK ·

Ja, dit is so Sandy maar vir 18 jaar daarna het hy (glo ek) meer uitgerig as baie van ons in 50 jaar.

Hannes ·

Jy bedoel dis amper soos mense wat skei en dan so wragtigwaar weer gaan staan en trou….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.