Ongeluk eis kleuter; ‘Sy was ons blom’

Klein Amé Janse van Rensburg (Foto: Verskaf)

’n Ouerpaar van Mpumalanga is gebroke nadat ’n motorongeluk hul vyfjarige dogtertjie op die R555 (ou Middelburg-pad) geëis het.

“Ek het omgedraai en gesien my dogtertjie is dood,” vertel Phillip Janse van Rensburg oor daardie angswekkende oomblikke kort nadat hul gesinsmotor Sondag gerol en tot stilstand gekom het.

Klein Amé is in die ongeluk dood.

Janse van Rensburg, sy vrou, Nadia, en hul twee jong kinders, Amé en Flippie (2), was ten tyde van die ongeluk vanaf hul kleinhoewe in die omgewing van Middelburg op pad dorp toe, toe ’n aankomende motor in hul baan ingeswaai het.

Phillip het noodgedwonge uitgeswaai en die gesin se bakkie het die pad verlaat en gerol.

Klein Amé is in die ongeluk dood.

Die Janse van Rensburgs. (Foto: Verskaf)

Haar ma het haar linkerboarm tydens die voorval gebreek en is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan. Amé se pa en boetie het genadiglik net stampe en skrape opgedoen.

Die gesin was op pad na Middelburg om onder meer benodigdhede vir die kinders te gaan koop.

“Ons het juis winkels toe gegaan om Amé se skoentjies te gaan omruil …” vertel Janse van Rensburg Woensdag aan Maroela Media.

“Sy was my blom gewees. Sy het altyd vir ons blommetjies gepluk …

“Sy was ’n sonstraal en so sag en fyn. As haar hemp ’n kol opgehad het, wou sy ’n ander een gaan aantrek. Sy was ’n regte dametjie,” onthou ’n gebroke Janse van Rensburg.

Klein Amé Janse van Rensburg (Foto: Verskaf)

Volgens Janse van Rensburg het die motoris wat glo die ongeluk veroorsaak het na bewering van die ongelukstoneel weggejaag. ’n Ander motoris het egter dié voertuig agternagesit en die motoris is terug na die ongelukstoneel gebring.

Janse van Rensburg bedank die motoris daarvoor.

Luidens inligting word ’n saak van strafbare manslag ondersoek.

Maroela Media het ’n navraag aan die departement van gemeenskapsveiligheid gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

So jammer vir die mense se verlies.Rus in vrede klein Ame.

Carina

RIV pragtige dogtertjie. Sterkte aan ouers.

Swerwer

Hartverskeurend! Innige simpatie en meegevoel aan die ouers en Familie van Amè, sonstraaltjie.
Mag die skuldige aan die pen ry, dit sal nooit die leemte vul nie maar geregtigheid moet geskied.

Pieter

Sterkte en hoop die persoon wat die veroorsaak het, word behoorlik gestraf soos dit hoort. Ek weet dit bring niemand terug nie, maar die seer vir die res van die ouers se lewe………

Kokerboom

Dit is uiters hartseer. Het nie woorde