Ongeluk eis lewe van drie onderwysers  

Drie onderwysers is die afgelope naweek in ’n motorongeluk in Colesberg dood. (Argieffoto ter illustrasie.)

Drie onderwysers van die Umso High School in die Noord-Kaap is Saterdagaand in ʼn motorongeluk in Colesberg dood. ʼn Vierde onderwyser is glo ernstig beseer en tans in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

Volgens lt.kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, het die Volkswagen-motor waarin die onderwysers gery het, gerol toe die bestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor het.

“Twee insittendes is op die toneel dood verklaar terwyl ʼn derde persoon met aankoms by die hospitaal dood is.

“Die polisie in Norvalspont ondersoek tans ʼn saak van strafbare manslag.”

Die departement van onderwys in die Noord-Kaap het die dood van die onderwysers, wie se identiteit nie in die stadium bekend is nie, betreur.

“Ons wil die gesinne van die oorledenes en die skoolgemeenskap verseker dat ons hierdie reuseverlies saam met julle ervaar.

“Gesinne en ʼn skool is in rou gedompel. Die leerders en die provinsie is van die gesamentlike bydrae deur dié onderwysers aan die onderrigstelsel gestroop.”

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, sê die departement sal die skool later die week besoek.

Intussen word berading aan onderwysers en leerders gebied.

“Ons innige meegevoel gaan aan die bedroefde gesinne, die skoolgemeenskap en die hele onderwyssektor in veral die Noord-Kaap uit,” sê Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die parlementêre komitee oor onderwys.

“Die dood van hierdie onderwysers kom ook te midde die verwoestende Covid-19-pandemie wat reeds soveel lewens in die onderwyssektor geëis het.”

“Ons doen ʼn beroep op almal in die sektor om te help waar nodig.”

*Hierdie berig is aangepas sedert publikasie. – Red

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boer ·

n Mens besef nie hoe hard n onderwyser werk sodat daar Dr’s, Prokereurs, Ingeneers, Mecanics, ens. is nie. Want n groot lost. RIV julle het my respek.

Blomme ·

Dis nou regtig baie hartseer. Sterkte aan al die betrokkenes. Dis beslis nie goed vir ń skool om soveel onderwysers op een slag te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.