Ongeluk eis lewe van makelaar, jong ma

Die motor het gerol en aan die brand geslaan (Foto: ER24)

ʼn Makelaar en sy vrouepassasier is Vrydagmiddag in ’n ongeluk op die R71 digby Haenertsburg in Limpopo dood.

Charles van der Walt (52) en Zaskia da Silva (29), ʼn ma van twee, is op die toneel dood verklaar.

Da Silva se suster, Kayla Smith (18), wat ook in die voertuig was, is tans in ʼn kritieke toestand in die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. Al drie is van Polokwane en was op pad terug huis toe. Dit is nie seker hoekom hulle saam in die voertuig was of vanwaar hulle op pad was nie.

Volgens Hans van Schalkwyk van die Haenertsburg-buurtwag het die motor die pad verlaat, gerol en ’n boom getref. Die motor het sowat 25 meter van die boom tot stilstand gekom en aan die brand geslaan. Daar was nie ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Charles van der Walt was ‘n bekende makelaar in Polokwane (Foto: Charles van der Walt, Facebook)

Lede van die buurtwag en boere van die omgewing was eerste op die toneel. Hulle het die brand begin blus.

“Ons het Kayla en Van der Walt buite die motor aangetref. Zaskia was nog in die brandende motor.”

Evac911-ambulansdienste van Tzaneen, ER24 en die Mopani-distrik se brandweerdienste het later ook op die toneel opgedaag.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici het gehelp om Da Silva uit die brandende motor te red. Sy en Van der Walt is op die toneel dood verklaar.

Zaskia da Silva het ook in die ongeluk omgekom (Foto: Zaskia da Silva, Facebook)

Volgens Campbell het Kayla ernstige beserings opgedoen en is per ambulans na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Van Schalkwyk sê Kayla is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal, maar die dokters is hoopvol dat sy sal herstel.

Mike Maring, provinsiale woordvoerder van die departement van vervoer, sê die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek, maar sover lyk dit asof die bestuurder van die motor beheer oor die voertuig verloor het.

Volgens Van Schalkwyk reageer hul buurtwag jaarliks op sowat 240 ongelukke op die R71. Hy sê die pad is uiters gevaarlik.

Van der Walt was die direkteur van CJ Makelaars in Polokwane. Hy word oorleef deur sy vrou, Jacolien, en kinders. Meer inligting was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Da Silva se man, José, is verlede jaar dood en hul twee kinders word nou wees agtergelaat.

Hoërskool Pietersburg het op sy Facebook-blad ’n boodskap van ondersteuning aan Kayla gestuur.

“Ons as skool en Pietie-gemeenskap bid saam en vertrou vir volkome genesing en herstel…,” lui die inskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

My hart gaan uit na die arme 2 kinders wat wees agter gelaat word. Sterkte aan die familie en vriende wat agter gebly het, Mag die 2 kindertjies ‘n liefdevolle ouerhuis kry .

Belinda

sterkte aan die familie…

marius

Baie hartseer .

Hannelie

Ai, soveel hartseer. Sterkte aan albei families betrokke.