Ongeluk eis ma, jong dogter

Christeen Syffert en haar dogters, Justeen en Leanie (Foto: Verskaf(

Die familie van Christeen Syffert (36) en haar dogter, Justeen (9), is verpletter nadat ʼn ongeluk dié ma en dogter se lewe geëis het. Die gesin se sesjarige dogter is boonop nog in ʼn geïnduseerde koma in die hospitaal.

Christeen is op slag dood toe die gesin se motor en twee ander voertuie verlede Vrydag omstreeks 19:15 op die N12-Voortrekkerweg in Alberton gebots het.

ʼn Week later is Justeen in die Union-hospitaal in die stad oorlede weens breinskade wat sy tydens die ongeluk opgedoen het.

“Weens Justeentjie se erge inwendige skade én breinskade, het sy Vrydagoggend haar engelvlerkies gekry en is sy nou by liewe Jesus en haar mamma.

Die jongste dogter, Leanie (6), wat ook in die motor was, is tans in ʼn geïnduseerde koma in die Clinton-hospitaal in Alberton.

Christeen se skoonsuster, Cornel Pretorius, sê Christeen het die dogters die dag van die ongeluk by haar ma gaan oplaai en was op pad huis toe.

Volgens die ongeluksverslag het Christeen se motor teen die agterkant van ʼn motor wat voor haar in die baan was, gebots. Sy het gevolglik beheer oor die motor verloor. “Die motor het gerol en in die baan langsaan beland. ʼn Motor het teen ʼn vinnige spoed teen Christeen se motor gebots en haar motor het verder gerol en op die padversperring tot stilstand gekom,” vertel Pretorius.

Sy is op die toneel dood verklaar, terwyl die dogters in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas is.

Volgens Pretorius sterk Leanie goed aan.

“Sy is egter steeds in ʼn geïnduseerde koma om haar longe en lyfie kans te gee om te herstel. Daar is baie vog op haar longe. Die dokters het ʼn dreineringspyp vir haar ingesit om die vog te dreineer.”

Pretorius vertel toe Leanie se pa, Neil, gister vir haar gaan kuier het, het sy begin hoes toe hy met haar praat. “Sy het ook al haar arms en bene beweeg. Dit is ʼn goeie teken.”

Pretorius sê volgens die EEG-skandering het Leanie nie breinskade opgedoen nie. Dit sal egter eers amptelik bevestig word indien sy weer wakker is.

Pretorius het ʼn Back-a-Buddy-fondsinsameling vir die gesin begin vir geldbydraes vir die meisies se mediese rekeninge. Die gesin beskik nie oor ʼn mediese fonds nie.

Groot verlies

Pretorius sê dit is baie moeilik vir Neil omdat hy nie net sy vrou verloor het nie, maar nou ook sy dogter.

“Dit was klaar vir hom moeilik om sy twee dogters in die hospitaal te sien lê.”

Pretorius sal Christeen as ʼn saggeaarde, positiewe en hulpvaardige mens onthou.

“Sy het omgegee vir almal en uit haar pad gegaan om ander mense te help. Al was dit net om op haar skouer te huil.”

Christeen het as nasionale verkoopsbestuurder by Oxygen & General in Sandton gewerk. Die maatskappy verkoop suurstoftoerusting.

Justeen was volgens Pretorius haar ma uitgeknip.

“Sy het nes haar ma gelyk. Sy het ook haar saggeaarde persoonlikheid gehad. Sy was ons ou engeltjie.”

Die familie wil Christeen en Justeen saam laat veras.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NetMyOpinie! ·

Om hierdie familie se hartseer elke dag te aanskou is die seerste seer..

Swerwer ·

Dit is en bly verskriklik. Om jou geliefde en kind met 1 slag te verloor en jou ander dogter te sien veg vir haar lewe, ruk ‘n mens uitmekaar. Sterkte en innige simpatie aan Pretoruis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.