Ongeluk eis ses van adjunkminister se familie

Sindisiwe Chikunga, adjunkminister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die adjunkminister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het die afgelope naweek ses van haar familielede, onder wie haar seun, aan die dood afgestaan nadat hulle in ʼn gru-ongeluk in KwaZulu-Natal betrokke was.

Chikunga se seun, skoondogter en vier kleinkinders het Sondag om 18:30 in die ongeluk omgekom.

“Die adjunkminister se familie het Sondagaand op die N11-snelweg tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal gery toe hulle glo teen ʼn motor en ʼn bakkie gebots het,” sê Colleen Msibi, woordvoerder van die departement.

Maroela Media het vroeër berig dat paramedici met hul aankoms pasiënte oral op die toneel sien lê het. Ses mense is op die toneel dood verklaar, terwyl ʼn sewende persoon later in die hospitaal oorlede is. ʼn Vrou en twee kinders is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal toe geneem.

Volgens Msibi was Chikunga verpletter toe sy oor die voorval in kennis gestel is.

Chikunga is reeds Maandag na die provinsie om haar oorlede familie se liggame uit te ken en al die feite rakende die voorval in te win. Die familie het vir privaatheid gevra gedurende hierdie moeilike tyd.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het intussen na Chikunga uitgereik en sy meegevoel met haar betuig.

“Terwyl woorde min baat om ʼn seer hart te vertroos, vertrou ek dat sy vertroosting sal vind in ons ondersteuning en vermoë om die nagedagtenis van haar seun, skoondogter en kleinkinders te eer.”

Volgens Mbalula het die jongste gevalle waarin mense hul lewe op die pad verloor het die departement opnuut aangevuur om die slagting hok te slaan.

“Een lewe wat verlore is, is een lewe te veel,” sê hy.

“Die adjunkminister is ʼn stoere kampvegter vir padveiligheid en daar is geen beter huldeblyk aan haar geliefdes as om ʼn veelseggende verskil te maak deur ander lewens op ons paaie te red nie.”

Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het reeds ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur wat sal toesien dat die bevindinge eersdaags in ʼn verslag vervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

domheks ·

Maak net die vervloekste ‘potholes’ reg om mee te begin! Daarna kan julle minder ongelukke op die paaie verwag. RIV

Sandra ·

My innige simpatie oor u groot verlies. Mag God sy hand van vertroosting op jou en jou familie neerle.

Nie Verbaas ·

Dit gaan nie die probleem oplos nie. Sekeres is mos bo die wet verhewe en steur hulle nie aan spoedgrense nie. Dan kan sekeres ook nie afstand skat nie en besit die onvermoë om gesonde verstand te gebruik en dan sekeres wat met onwettige lisensies bestuur.

Frank ·

‘n Idioot teen 10kmh en idioot teen 100kmh bly ‘n idioot

Elméne ·

Nog gevaarliker – dan raak mense aan die slaap agter die stuurwiel = MEER ongelukke!!!

Voilet ·

Nou sien sy self hoe gevaarlik die paaie is met slagate en goed. Hoop haar oë het nou ook wyd oop gegaan en doen iets omtrent dit.

KatjieDeKat ·

Dis bitter erg, ek kan my nie eens indink nie..Sindisiwe, my innige simpatie.

KatjieDeKat ·

Mense, kom ons los die woede oor die toestand van ons land se paaie vir n oomblik. Dit is darem n gruwelike en hartverskeurende verlies wat hierdie arme vrou moet dra. Probeer julself net vir n oomblik in haar skoene plaas, diegene hier wat ook kinders en kleinkinders het. Regtig.

Swerwer ·

Wat gaan dit help? As daar voggies ter sprake is, moegheid en spoed , dan kan jy skolpad spoed instel en nogsteeds sal sulke fatale ongelukke plaasvind. Onthou op 20km p/h het die meeste ongelukke in die destydse SANW plaasgevind(tong in die kies)

Meerkat ·

As paaie onderhou word en instand gehou word. Dan sal daar minder hartseer wees.

piet ·

Waar staan dit dat daar iets fout was met die pad? Almal blameer die pad.

Nettie ·

Sjoe. ‘n Hele gesin op een slag. Dis verskriklik. Innige simpatie met die families en vriende.

Daleen ·

Hoe harteloos is die klomp afduimpies by die simpatie kommentare. Die ironie is more is dit miskien een van julle familielede wat in ongeluk omkom wonder hoe sal jy dan voel as daar gesimpatiseer word en mense wys afduimpies en GEEN gevoel vir jou of jou oorlede familie nie. My innige simpatie Sindisiwe.

5ku883 ·

Hulle kan nie eens die huidige spoedbeperking toepas nie, hoe gaan hulle n laer spoedgrens toepas? Mense kan nie eens soliede lyne gehoorsaam nie wat nog te sê van ander meer ingewikkelde padreels? Dit skep net nog geleentheid vir bedrog en korrupsie. Daar moet weer op skoolvlak padreels en disipline toegepas word voor dit sal deur filter na ons paaie en samelewing toe.

Ontnugterde senior ·

Ek het ook al amper ongeluk op N11 gehad oor mense onverskillig verbysteek op verbode plekke. daai pad veral tussen Pongola en Piet Retief moet wyer gemaak word.

Taurus ·

Die probleem van lewensverlies op enige pad is myns insiens nie net aan die toestand van die pad toe te skryf nie. Die groot probleem is dat mense nie die padreëls ken en toepas nie en boonop ook nie eie gesonde oordeelsvermoë te alle tye toepas nie. Vermy selfone terwyl jy bestuur. Moet ook nie onder die invloed van enige toksiese middel wees nie. ‘N probleem wat ek al baie, veral op provinsiale en sekondere paaie ervaar het is die spoed-differensiaal. Jy mag rustig teen die voorgestelde spoedgrens ry en skielik is daar ‘n skedonkie wat stadiger as ‘n donkiekar voor jou poer-poer. Mens kry ook hierdie ouens partykeer in die middel of regterbaan op ‘n snelweg! Net ‘n volledige ondersoek na al die feite in die onderhawige geval sal kan wys wat die oorsaak van die ongeluk was.

AH ·

Die “potholes”, spoed en algehele toestand van paaie is nie die grootste faktor by botsings nie! Dit is die houding van die persoon/persone agter die stuurwiel! Soveel mense het die gevoel van “onverganklikheid” of dat dit mos met “ander” mense gebeur en dat die padreëls vir “ander” mense is! Totdat alle padgebruikers respek vir hulself en ander se lewens toon sal die slagting ongelukkig aangaan…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.