Ongeluk eis sportster kort voor baba se geboorte

Armandt Pryor en Kylah Beeslaar. Foto: Verskaf.

Armandt Pryor en Kylah Beeslaar. Foto: Verskaf.

ʼn Jong rugbyster van Centurion is Sondagmiddag skaars ʼn maand nadat hy uit Skotland teruggekeer het om by sy kind se geboorte te wees, in ʼn motorfietsongeluk oorlede.

Armandt Pryor (23) was op pad na sy broer, Tiaan Pryor, toe hy skaars ʼn straatblok van sy eindbestemming in Lyttelton in ʼn botsing betrokke was. Sy vriendin en ma van sy ongebore baba, Kylah Beeslaar, was reeds by Tiaan se huis. Na wat verneem word, het ʼn motor uit ʼn meenthuiskompleks gery, waarna hy daarteen gebots het. Pryor is op die toneel oorlede.

Die kranige rugbyspeler is verlede jaar na Haddington in Skotland waar hy vir die Haddington-rugbyklub uitgedraf het.

“Armandt was in Skotland vir ʼn ses maande lange kontrak en het aan die einde van Februarie teruggekeer vir ons seuntjie se geboorte,” het ʼn emosionele Beeslaar aan Maroela Media gesê. “Liam word 19 Mei verwag. Armandt het planne gehad om in Nieu-Seeland rugby te gaan speel. Dit was sy droom en ons sou ná Liam se geboorte daarheen gaan.”

Pryor het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Centurion voltooi. Hy was ʼn leerder aan Laerskool Rooihuiskraal en het in 2009 matriek aan Hoërskool Eldoraigne behaal. By Eldoraigne het hy onder meer vir die eerste rugbyspan uitgedraf en ná sy skoolloopbaan ook vir Centurion-rugbyklub gespeel en aan Vodacombeker-wedstryde deelgeneem.

“Hy was iemand wat altyd ʼn glimlag op sy gesig gehad het. Hy kon met die grootste gemak baie gou vriende maak en het nie gehuiwer om geselsies met vreemdelinge aan te knoop nie. Hy het uit sy pad gegaan om mense te help. Hy was baie sportief en het baie tyd in die gimnasium deurgebring. Hy was ʼn gesinsmens en het ʼn gesonde en gelowige lewe gelei,” het Beeslaar bygevoeg.

Armandt Pryor in aksie. Foto: Verskaf

Armandt Pryor in aksie. Foto: Verskaf

Pryor laat Beeslaar, sy ouers, Nicky en Corne Pryor en Lizelle en Nick Behr, en ouer broer, Tiaan, agter.

Haddington-rugbyklub het in ʼn nuusmededeling op hul webwerf gesê hulle betreur die afsterwe van hul agterspeler.

“Hy was ʼn groot, mededingende agterspeler en toe hy aan die begin van die seisoen by die klub aangesluit het, was hy dadelik gewild, op die veld en van die veld af,” lui die verklaring.

“Sy indrukwekkende vertoning in die Reds-trui het hom ʼn vanselfsprekende spankeuse vir hoofafrigter Bryan Craig gemaak.”

Craig het Pryor se afsterwe as ʼn tragedie beskryf. “Die jong speler was werklik een van ons en sou amper pa geword het. Ek is platgeslaan vir sy familie en dié wat hom goed geken het se onthalwe,” het Craig in die verklaring gesê.

Die klub het gesê Pryor het nie net ʼn indrukwekkende rugby-CV nie, maar was ook as speler ʼn groot aanwins vir die klub en het verskeie vriende daar gemaak.

“Sy harde werk en toewyding aan Haddington is baie aangeprys deur sy spanmaats, afrigters en teenstanders. Sy toewyding aan die klub is iets wat ons altyd sal onthou.”

  • ‘n Gedenkdiens word Donderdag om 10:00 vir Pryor by die Centurion-rugbyklub in Westlaan, Centurion, gehou. Dit is oop vir die publiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.