Ongeluk eis vier lewens; strafbare manslag ondersoek

Die ongeluk het Maandag in die vroeë oggendure plaasgevind. (Foto: Verskaf)

Vier mense is Maandag in die vroeë oggendure op die R59 tussen Viljoenskroon en Bothaville dood toe die voertuie waarin hulle gereis het mekaar reg van voor getref het. ʼn Saak van strafbare manslag word intussen ondersoek.

Altesame 19 mense het in die proses geringe tot ernstige beserings opgedoen. Slegs een persoon het ongedeerd van die voorval afgekom.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die plaaslike polisiestasie op Viljoenskroon het om 01:45 ʼn noodoproep ontvang oor ʼn ongeluk wat in die rigting van Bothaville plaasgevind het.

“By die polisielede se aankoms op die toneel het hulle twee voertuie, ʼn silwer Volkswagen Polo en ʼn 22-sitplek Mercedes Benz-kombi, op die toneel aangetref,” sê Kareli.

“Die kombi het glo in die rigting van Bothaville gereis en die kleiner motor in dié van Viljoenskroon toe hulle mekaar reg van voor getref het.”

Sipho Towa, woordvoerder van die Vrystaatse nooddienste, het aan Maroela Media bevestig dat paramedici hulle na die toneel gehaas het om die insittendes van die twee voertuie by te staan.

Altesaam vier mense is op die toneel dood verklaar, terwyl 19 ander beseer is.

“Drie mense was in ʼn kritieke toestand, tien het slegs matige beserings opgedoen en ses, onder wie ʼn kind, het geringe beserings opgedoen,” sê hy.

Die beseerdes is na onderskeidelik die Nala-hospitaal op Bothaville, die Boitumelo-hospitaal op Kroonstad en die Bongani-hospitaal op Welkom geneem.

Volgens Kareli word die oorsaak en die omstandighede van die ongeluk steeds ondersoek.

“Die polisie van Viljoenskroon ondersoek ook ʼn saak van strafbare manslag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Die oorsaak is kop aan kop ongelukke en meeste gevalle is taxis en volkswagens betrokke, onverskuldige bestuurders wat verbysteek op blinde hoogtes en sperstrepe.

Danie ·

Tragies die regering se paaie is dodelik.Die 6 maande belofte om slaggate te herstel amper verby.Waar is die verkeersbeamptes wat paaie moet patroleer?

Jixy ·

LOL Miskruier. Jy moet versigtig wees. Die Volkswagen drywers val mens aan as jy so iets se. hehe

Nie Verbaas ·

En Mbalula sit en kop krap en ons op straatvlak weet hoekom dit gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.