Ongeluk eis vier soldate

Argieffoto

Die bestuur van die weermag het sy skok uitgespreek nadat vier soldate dood is toe die militêre voertuig waarin hulle vervoer is in ʼn ongeluk betrokke was.

Genl.brig. Mafi Mgobozi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), het in ʼn verklaring gesê die ongeluk het Sondag omstreeks 17:30 op die N3-Noord in KwaZulu-Natal plaasgevind.

“Die soldate was verbonde aan die Natalse karabiniersregiment, ʼn reserwemag in Pietermaritzburg. Elf insittendes was in ʼn SAMil 20-vervoerwa op pad na die Boschoek-opleidingskamp vir ʼn sending toe die ongeluk plaasgevind het,” het Mgobozi gesê sonder om meer oor die ongeluk uit te brei.

“Vier lede is op die toneel dood. Vyf het geringe beserings opgedoen en is na die St. Annes-hospitaal in Pietermaritzburg geneem vir mediese behandeling. Drie van die beseerdes is Dinsdag ontslaan.”

Mgobozi het gesê ʼn ondersoekraad is saamgestel om die oorsaak en omstandighede rakende die ongeluk vas te stel.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging; dr. Sam Gulube, die sekretaris van verdediging; en genl. Solly Shoke, hoof van die weermag, het hul innige meegevoel met die oorledenes se geliefdes betuig.

ʼn Gedenkdiens word vir die soldate gereël en inligting daaroor sal bekend gemaak word sodra die families hul begrafnisreëlings getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zoom zoom ·

Is’n Samil 20 ‘n vervoerwa??. Ek het altyd gedink dit is ‘n trok.

SjN ·

Stem saam, dit is seker ook n argief foto by die berig, hul word deesdae in busse vervoer.

Basjan ·

Dit is ‘n trok. “Vervoerwa” is net ‘n mooier, Afrikaanse woord daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.