Ongeluk in gure weer eis lewe van vier

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Vier mense, onder wie ’n kind, is Sondagmiddag in ’n trompop botsing naby Hendrina in Mpumalanga dood. Daar word vermoed dat die bestuurder van ’n voertuig weens nat weersomstandighede beheer verloor en teen ’n ander voertuig gebots het.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê ’n motor en ʼn ligte afleweringsvoertuig het reg van voor op die R38 gebots.

Vier van die motor se passasiers het in die botsing omgekom terwyl die onderskeie bestuurders van die voertuie met ernstige beserings na die provinsiale hospitaal op Bethal gehaas is vir mediese behandeling.

’n Ondersoek na die botsing is intussen van stapel gestuur.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het weer ʼn beroep op motoriste gedoen om die padreëls te gehoorsaam en toestande op die pad in ag te neem wanneer hulle bestuur.

Motoriste in ander provinsies is intussen ook teen gure weer gewaarsku.

Motoriste in Noordwes is Sondag spesifiek versoek om versigtig op die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp te bestuur nadat swaar reën in die gebied oorstromings tot gevolg gehad het.

Motoriste word gemaan om hul hoofligte aan te skakel en spoed te verminder in nat weersomstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blomme ·

Meer sigbare wetstoepassers op die paaie kan tog seker help dat padgebruikers by die voorgeskrewe spoedbeperkings sal bly of hoe? Ek wonder waar die statistieke van die dodetal op die paaie gedurende hierdie feesseisoen nou staan. Dis verskriklik tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.