Ongeluk kelder amper seun se boksdroom

Jannik Wessels (Foto: Verskaf)

“Die veggees binne hom as ’n bokser het sy lewe daardie dag gered.”

Só vertel Henk Wessels nadat sy 17-jarige seun, Jannik, Dinsdag op Middelburg, Mpumalanga, deur ’n bakkie raakgery is. Jannik is ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Middelburg en ook ’n jong ontluikende bokser wat droom om na matriek boks as ʼn loopbaan te volg.

Jannik het die oggend omstreeks 07:30 sy draftekkies aangetrek en sy daaglikse drafsessie ingewerk. Omstreeks 08:00 toe hy in Sondagsrivierstraat op pad terug huis toe was, het ’n Amarok-bakkie hom skielik van agter teen die linkerskouer getref en hy het sy kop teen die randsteen gestamp met die valslag.

“Jannik draf altyd op die sypaadjie in die aankomende verkeer se kant. As die pad van voor af skoon lyk, sal hy dan aan die rand van die pad draf,” vertel Henk. “Ek het later verneem hy het op die rand van die pad gedraf toe dié bakkie omtrent drie motors in die ander baan teen ’n spoed verbygesteek en Jannik in die proses van agter getref het.”

Daar was onmiddellik bystanders op die toneel wat sy seun bygestaan en gehelp het.

“Jannik was by sy volle bewussyn. Hy kon met die bystanders praat en vir hulle my nommer gee. Ek het tien minute later daar aangekom,” vertel Henk.

Die nooddienste is ontbied en was baie vinnig op die toneel. Jannik is na die Midmed-hospitaal op Middelburg geneem.

Jannik het sy skedel gekraak en moes Woensdag ’n operasie ondergaan om dit te herstel. Die operasie was ’n sukses en daar is ’n moontlikheid dat Jannik vandag ontslaan kan word. “Die dokter het gesê daar is nou nog ’n dreineringspyp in sy kop, maar as al die vloeistof goed gedreineer is, kan hy huis toe gaan.”

Jannik het ook sy linkerduim gekraak en gaan dalk skroewe moet kry. “Hy het ook sy mond seergemaak, want op die toneel het hy stukkies van sy tande uitgespoeg.”

Jannik se skedel is gekraak (Foto: Verskaf)

Henk sê sy grootste vrees was dat Jannik nooit weer sal kan boks nie.

“In die stadium lyk dit wel asof hy weer sal kan boks. Ek is nog ʼn klein bietjie bekommerd oor sy linkerduim, maar ons glo vir die beste. Die feit dat my seun leef is ’n wonderwerk en sover het ons nog net genade van die Here gekry.”

Henk glo vas dit is sy seun se boksery, en die fiksheid wat daarmee gepaard gaan, wat sy lewe gered het. “Ek glo sy lyf was sterk genoeg om die harde hou te kan vat. Ek glo ook sy veggees wat hy van die boks leer, het hom help deurdruk. Hy het geleer om te veg in die lewe, en dis presies wat hy daar gedoen het.”

Henk was self ’n kranige bokser in sy jonger dae en Jannik volg nou in sy pa se voetspore. Henk het 21 jaar lank geboks en het onder meer junior Springbok-kleure asook Protea-kleure as bokser verwerf. Hy was in 1996 ook as die SA kampioen in die swaargewig-afdeling aangewys.

Jannik se groot droom is om na matriek vir die Britse weermag te boks.

“Hy het so twee jaar terug na my toe gekom en gesê hy wil ook boks. Hy het homself op YouTube begin leer en besef hy hou baie daarvan. Ek het hom begin help met afrigting. Hy het verlede jaar by ’n boksklub hier in Middelburg aangesluit.”

Jannik se eerste geveg was in Oktober verlede jaar in die middelgewig-afdeling teen ’n seun twee jaar ouer as hy. Hy het sy tweede boksgeveg in Februarie vanjaar gehad. Henk glo sy seun gaan eendag in die swaargewig-afdeling boks.

’n Saak van roekelose bestuur is teen die bestuurder van die bakkie aanhangig gemaak. Henk vertel die bestuurder het na die ongeluk op die toneel stilgehou en om verskoning gevra en hy is ook in kontak met Henk om te hoor hoe dit met Jannik gaan.

Maroela Media het ’n navraag aan brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, oor die saak gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peetjie

Jannik ek hoop jy herstel vinnig en heeltemal.. Is daar nie van die mense wat gesien het wat was die voertuig se reg.nr. nie….

Shady

As jy mooi lees sal jy sien die bestuurder van die bakkie het stilgehou…