Ongeluk lei tot diagnose wat paramedikus se lewe verander

Lauren de Swardt

Lauren de Swardt. (Foto: Verskaf)

Toe ʼn ER24-paramedikus van Witbank vroeër vanjaar na ʼn ongelukstoneel ontbied is, het sy nie geweet sy gaan self later die aand in die hospitaal beland nie.

Dit is heel moontlik hierdie besering wat Lauren de Swardt (30) se lewe gered het.

“Ek was besig om ʼn meisie te behandel agter in die ambulans toe ʼn ander motor in ons vasgejaag het,” het De Swardt luidens ʼn persverklaring van ER24 gesê. “Ná die tyd in die hospitaal het die dokters agtergekom dat ek nie net ʼn gebreekte rib het nie, maar ook letsels op my longe.”

Sy is op 28 Maart met Langerhans-selhistiositose, ʼn seldsame soort longkanker, gediagnoseer.

De Swardt sê sy het nie verwag dat so iets met haar sou gebeur op haar ouderdom nie. “Ek was 29 jaar oud toe ek gediagnoseer is. Ek was glad nie daarop voorberei nie, maar ek veronderstel ʼn mens is nooit regtig nie.”

Ten spyte van die 15 chemoterapie-sessies wat De Swardt reeds moes ondergaan, bly sy positief. “Die ondersteuning wat ek ontvang is ongelooflik. Nie net van ER24 nie, maar van al my kollegas. En ek voel sleg omdat my kollegas my skofte moet oorneem sedert Junie,” het sy geskerts.

Kanker speel ʼn groot rol in De Swardt se lewe. Sy het nie net ʼn paar nabye familielede aan kanker afgestaan nie, maar ook haar ma.

Vroeër vanjaar het De Swardt se familie en spanlede van die Witbank-basis hul ondersteuning gewys deur hul hare af te skeer. “Dit was ʼn baie emosionele dag, maar dit was vir my baie duidelik dat ek nie alleen hierdeur gaan nie,” het sy gesê.

Hoewel De Swardt reeds in 2011 ʼn emmerlysie opgestel het, het sy besluit om daarmee voort te gaan. Nié omdat sy gedink het sy gaan sterf nie, het sy gesê, maar omdat sy nou haar lewe wil vier.

Van die wense op haar emmerlysie sluit in ʼn eerste besoek aan Kaapstad, valskermspring en verfbal speel. Sy kon reeds die Grootste Trein-wedren, asook die Jeep Warrior-wedren en ʼn naweek weg saam met haar naaste vriende van die lysie aftik.

De Swardt vertel die Grootste Trein-wedren, ʼn wedren wat in eMalahleni begin en in Middelburg eindig, was vir haar ʼn emosionele ervaring. “Ek wou nog altyd aan die wedren deelneem. My vriendin Estie Biela het gekies om die 15 km wedren te doen. Sy het die eerste 10 km op haar eie gedoen, en die laaste 5 km het sy my in ʼn rolstoel gestoot, aangesien ek nie toegelaat word om te hardloop nie, want dit plaas druk op my longe.”

Biela is De Swardt se beste vriendin en ook ʼn operasionele paramedikus by ER24 se Witbank-basis. “As vriendin is dit my werk om haar op te beur. Dit maak nie saak hoe ek voel nie, dit gaan daaroor om haar te help om positief en gelukkig te bly,” het Biela gesê.

“Die treinwedren was soveel pret. Ons het gesels en gelag gedurende die wedren. Dit was belangrik om vir Lauren te wys sy kan dit doen. Sy is ʼn groot inspirasie vir ons almal.”

“Ek glo dat God my die visie van die lewe gegee het deur hierdie lewensgevaarlike siekte. Ek wens regtig dat mense die lewe kon sien soos ek – net sonder die siekte,” het De Swardt gesê.

“Selfs wanneer jy met ʼn lewensgevaarlike siekte gediagnoseer word, behoort jy dit nie as ʼn doodsvonnis te ervaar nie. Jou denke en jou geloof is so belangrik. Ek glo dat, maak nie saak hoe sleg dinge raak nie, jy steeds kan opstaan. Dit is wat ek gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jan_alleman ·

dit is mos nou n baie beter artikel as “nog n drawwer sterf” gevolg deur n vae beskrwying van n alledaagse tragedie wat net sowel enige plek kon afspeel en enigiemand kon wees .
Hier kan ek sien wie ons van praat en kan meegevoel he
Ek hoop regtig sy verbeter , moet ook byse wanneer dit kom by kanker en sulke tipe goed stem ek nie saam met die chemo nie , ek het al familie en vriende sine sterf aan chemo , hule is nooit dood aan die kanker nie , ek ken n tannie wat 15 jaar terug chemo geweier het , haar dokter het haar 6 maande gegee , vandag loop sy nog steeds rond met die kanker , bittermin simptome in vergelyking met ander wat in haar tyd chemo ondergaan het en hulle is almal al dood

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.