Ongeluk met kragopwekker ‘moes nie gebeur nie’

Riana Barkley (Foto: Riana Barkley, Facebook)

“My vrou het die ins en outs van daardie kragopwekker geken. Sy het dit beter as ék geken,” vertel die eggenoot van Riana Barkley wat verlede week oorlede is nadat ’n kragopwekker by die egpaar se huis in Welkom ontplof het. Sy wou die kragopwekker tydens ’n kragonderbreking afskakel toe dit ontplof het.

Riana (41) het die kragopwekker sowat vier jaar lank veilig hanteer voordat dit verlede Dinsdag onverwags ontplof en erge brandwonde aan haar lyf veroorsaak het. Riana, ’n ma van twee jong kinders, is ná die voorval na ’n hospitaal gehaas waar sy die volgende dag in die waakeenheid van die hospitaal aan haar beserings beswyk het.

Haar man, Deon Barkley, vertel die kragopwekker is goed in stand gehou sedert dit sowat ses jaar gelede in die egpaar se erf gëinstalleer is. Die toestand van die bedrading is gereeld nagegaan, terwyl die kragopwekker ’n goeie afstand van die huis buite gehou is.

“Dit was ’n fratsongeluk – ’n ongeluk wat nié moes gebeur het nie,” vertel ’n gebroke Deon nou.

Hy onthou dat die huis se krag af was toe hy verlede Dinsdag vroegoggend opgestaan en werk toe gegaan het. Dit is nie duidelik of die krag weens beurtkrag of ’n tegniese fout by die plaaslike kragstasie afgeskakel was nie.

Riana het die kragopwekker oudergewoonte aangeskakel om haar daaglikse take te verrig. Sy het vroegmiddag die kragopwekker afgeskakel om die egpaar se kinders, onderskeidelik drie en ses jaar oud, by die skool te gaan haal en dit weer met hul tuiskoms aangeskakel.

Riana Barkley (Foto: Deon Barkley, Facebook)

Deon vertel dat hy omstreeks 13:00 ’n boodskap van Riana ontvang het. Die buurman het hom 14:04 gebel met die nuus. “Hy het gesê my vrou was in ’n lelike ongeluk en ek moet huis toe kom.

“Volgens ’n ooggetuie het sy iets by die kragopwekker gehoor. Sy het na buite gehardloop om dit te gaan afskakel toe dit ontplof het.”

Riana het erge brandwonde aan haar gesig en ’n groot gedeelte van haar lyf opgedoen hoewel sy nog met Deon met sy aankoms by die huis gepraat het. Die nooddienste het haar op die toneel behandel voordat sy na die Mediclinic Welkom gehaas is.

Hiér is sy Donderdagmiddag oorlede nadat Deon haar die oggend nog kon besoek.

Die kragopwekker is intussen in die besit van die polisie om die oorsaak van die ontploffing te ondersoek.

Deon vertel dat sy vrou se dood ’n ernome leemte laat. “Nie net by die huis nie, maar ook in Carletonville, Welkom en Rustenburg [waar sy wyd bekend en geliefd was].

“My vrou het die vrugte van die gees uitgeleef. Sy was sagmoedig, barmhartig, nederig en geduldig. Sy het meer geduld gehad as wat daar sand in die woestyn was. Sy was ’n bonatuurlike mamma. Haar kinders was haar alles en sy was ons steunpilaar,” vertel ’n emosionele Deon.

Daar word Saterdag omstreeks 12:00 by Avbob se kapel in Welkom van Riana afskeid geneem.

Wenke vir veilige hantering van ’n kragopwekker:

Te midde van die soveelste instelling van beurtkrag die afgelope week, oorweeg ál meer Suid-Afrikaners dit om kragopwekkers aan te skaf.

Maroela Media het by Len Winkler, programhoof: Elektries by Sol-Tech, gaan aanklop vir raad oor die veilige hantering van kragopwekkers.

Winkler meen die veilige installering, instandhouding en hantering van ’n kragopwekker is uiters belangrik wanneer só ’n toestel aangekoop word.

  • Die installering van ’n kragopwekker moet altyd deur ’n gekwalifiseerde elektrisiën gedoen word. Maak seker die persoon wat die installering doen, is by die departement van arbeid geregistreer en beskik oor ’n geldige nakomingsertifikaat.
  • Dit is ook belangrik dat die elektrisiën duidelike aanwysings aan die eienaar gee en dat die eienaar dié riglyne noukeurig volg sodat die kragopwekker veilig aan- en afgeskakel kan word.
  • “Indien die installering goed gedoen is, is dit nie nodig om met die kragopwekker te peuter nie,” meen Winkler. Die gepeutery sluit in onwettige kragverbindings, soos ’n kragprop binne die huis.
  • Ventilasie is baie belangrik en eienaars van ’n kragopwekker moet verseker dat dit in ’n goed geventileerde buitevertrek geplaas word. Die deure van die buitevertrek moet te alle tye oopbly om te verhoed dat skadelike uitlaatgasse soos koolstofdioksied opeenhoop.
  • ’n Kragopwekker behoort ook afgeskakel te word voordat die brandstof opgevul word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Phillip ·

. Daar moes nooit n kragonderbreeking gewees het nie . soos daai vrou wat doodgery is oor n stukkie vleis wat sy gekoop het vir braai weereens oor kragonderbreekings . Dit moet voor Eskom se deur gegooi word

katerinadiekat ·

Ai dis bitter tragies. My innige simpatie aan Riana se geliefdes.

Alma ·

Hoekom was daar so lang kragonderbreking… beurtkrag is tog net twee of drie ure. Sy het dit die oggend aangeskakel, toe afgeskakel toe sy die kinders gaan haal het, en toe weer aangeskakel toe sy terug gekom het. En toe sy iets hoor was dit nog steeds aan… Hoe lank kan so ‘n kragopwekker aaneen werk? Maar ongeag al die vrae (en wat ookal die antwoorde is), is dit nog steeds ‘n mamma wat nou weggeruk is van haar gesin. Simpatie aan haar familie.

Johan ·

Wat het “ontplof “? Het dit brandstof gelek of iets, ek verstaan nie lekker nie.

Julius ·

Ek verstaan ook nie. Die snaakse geluid kan wees dat die branstof klaar was en sy dalk wou opvul terwyl hy nog loop. Ek weet nie, maar baie jammer dat soiets moes gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.