Ongeluk op dam: Vrou byna maand in waakeenheid

Heidi-Lene Jonck (23) in die hospitaal kort na die ongeluk. Foto: Verskaf.

Heidi-Lene Jonck (23), die vrou van Polokwane wat op 11 Maart in ʼn fratsongeluk op die Albasini-dam oos van Louis Trichardt beseer is, is ná 25 dae steeds in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die Polokwane- provinsiale hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig Jonck het saam met vriende by die dam baljaar waar hulle op ʼn opblaasspeelding gery het wat agter ʼn boot aangesleep is.

Volgens Elze-Marie du Preez, Jonck se suster, het sommige van die vriende op ʼn stilstaande boot op die dam ontspan terwyl ʼn ander boot die opblaasspeelding getrek het. “Soos wat ons verstaan, was sy net op die tube toe die boot skerp wegdraai en sy die plat agterkant van die groot stilstaande boot hard getref het,” het Du Preez gesê.

Volgens Du Preez is sy vir sowat vyf dae nie meer onder verdowing nie, maar steeds aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel.

Du Preez het aan Maroela Media gesê sy moes toestemming gegee dat Jonck ʼn paar eenhede bloed ontvang aangesien haar hemoglobien- en ystervlakke te laag gedaal het. Sy sou vandag of môre ʼn snit in haar lugpyp kry om asemhaling te vergemaklik.

Die trageotomie word glo gedoen omdat sy nog vir ʼn onbepaalde tydperk suurstof moet ontvang en hulle nie wil hê die dik pyp in haar keel moet permanente skade veroorsaak en die risiko vir infeksie verder verhoog nie.

Sy het intussen infeksie in haar longe ontwikkel en haar koors was verlede week in een stadium 41 °C. Haar koors was teen Donderdagmiddag sowat 38,6 °C.

“Hulle vermoed die infeksie kan dalk as gevolg van die damwater wees wat sy aanvanklik gesluk het,” het Du Preez gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat dokters vir hulle gesê het dat Jonck aan haar linkerkant verlam is.

“Sy is steeds verlam aan die linkerkant maar daar is tog tekens van vordering soos haar oog wat al ʼn bietjie kan beweeg. Die dokters kan in dié stadium nie vir ons ʼn prognose gee nie, hulle sê net alles gaan tyd neem. Die swelling aan die linkerkant van haar skedel is ook nog baie erg – hulle kan ook nog nie bevestig of daar permanente breinskade is nie.”

Heidi-Lene. Foto: Facebook.

Sy het destyds vertel dat Jonck vir jare nie sig in haar regteroog gehad het nie en in matriek ʼn lensvervanging ondergaan het. Haar “goeie oog” is ook nou in die ongeluk beseer.

Du Preez vertel dat die personeel in die hospitaal baie mooi na haar suster omsien en byvoorbeeld gereeld kussings onder haar indruk aan verskillende kante om te verseker dat sy nie druksere ontwikkel nie.

Die gesin gaan ook steeds voort met massering van haar voete, bene en hande. “Aan die begin was haar hande saamgeklem asof sy iets vasklou maar dis nou weer ontspanne. Hulle het ook haar regtervoet in ʼn tipe spalk gesit om te voorkom dat sy ʼn ‘dropped foot’ ontwikkel waar die voetbrugspiere verleng en die hakspiere verkort as gevolg van die baie lê.”

Sy vertel verder dat die uitslag van die toetse wat vroeër gedoen is om te bepaal of daar ʼn vernouing in haar nek of brein is, negatief is.

Die gesin het Jonck se studies aan Unisa gestaak. “Hulle was baie gaaf en het haar hele semester wat sy vooruit betaal het se geld aan ons terugbetaal. Ons het gevoel dis beter so veral omdat ons nie weet hoe lank haar herstel nog gaan duur nie.”

Du Preez sê mense se gebede en ondersteuning is oorweldigend. “Ons dien ʼn groot God en ons is so dankbaar vir elke dag wat Hy Heidi-Lene vir ons beskerm en bewaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.