Ongeluk tydens veldwedren eis pa

George de la Rosa (Foto: Facebook)

Die veldmotorfietsgemeenskap is in rou gedompel ná die dood van een van hul ervare motorfietsryers gedurende ’n wedren die afgelope naweek. Nog ʼn motorfietsryer is gedurende die wedren ernstig beseer in ʼn afsonderlike ongeluk.

George de la Rosa (32) het Saterdag noodlottige beserings opgedoen toe hy gedurende die wedren van die pad af gery en teen die muur van ʼn plaasdam gebots het. Die ongeluk het tydens die vierde rondte van die derde been van die Gauteng Xross Country Club-reeks (GXCC) in die omgewing van Heidelberg plaasgevind.

GXCC Racing is ’n veldrenklub en verbonde aan Motorsport Suid-Afrika.

De la Rosa, van Secunda in Mpumalanga, was deel van die VANS Racing Division-span ten tyde van sy dood. Hy het ʼn agtjarige dogtertjie.

Miranda du Plessis, sekretaris van GXCC, sê in ’n verklaring De la Rosa het volgens ooggetuies tydens die vierde rondte op ’n lang draai vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor. Hy het die roete verlaat en teen die muur van die plaasdam, ’n ent van die roete af, gebots.

De la Rosa is op die toneel gestabiliseer en in ’n ambulans na die mediese tent gehaas terwyl ’n helikopter ontbied is. Hy is later met dié helikopter na die Netcare Millpark-hospitaal in Johannesburg gevlieg. Sy familie is egter met hul aankoms by die hospitaal meegedeel dat hy aan sy beserings beswyk het.

Mercia Gouws MacKenzie, mede-eienaar van Life24-ambulansdiens en ʼn vriendin van De la Rosa, is ook ’n motorfietsryer en was by die betrokke wedren toe die ongeluk plaasgevind het. Sy is na die ongelukstoneel en het De la Rosa gestabiliseer voordat hy per helikopter na die hospitaal vervoer is.

George de la Rosa (Foto: Facebook)

MacKenzie sê De la Rosa het veelvoudige beserings in die ongeluk opgedoen.

“Hy het heeltyd met my gepraat. Ek het geweet dit is baie ernstig. Sy bloeddruk het elke vyf minute geval en al sy vitals het aangedui dat hy ernstige inwendige beserings opgedoen het.

“Jy het in jou lewe nie ’n beter pappa as daardie man gekry nie,” sê MacKenzie.

“Hy was van liefde aanmekaargesit en só ’n fun mens. As jy die naam George de la Rosa gehoor het, het jy begin lag,” onthou sy.

Taneschka Theunissen, De la Rosa se meisie, sê hy het ’n groot passie vir motorfietsry gehad en het sedert ’n jong ouderdom al veldmotorfiets gery. Hy het ook goed presteer in dié sport.

“Die motorfietsbaan sal nooit weer dieselfde wees nie,” sê Theunissen wat ook aan wedrenne deelneem. “Hy was besonders. Hy was verskriklik liefdevol en ’n baie goeie pa.”

Du Plessis sê op haar beurt De la Rosa was ’n ywerige GXCC-ondersteuner en renjaer in die derde plek van vanjaar se OR1 Pro-Amateur Class Championship.

“Ons sal George altyd onthou vir sy sin vir humor en dat hy almal geleer het dat gebed sterker is as enige besering of gebreekte fiets.”

Nog ’n slag vir GXCC

Nog ’n motorfietsryer is gedurende Saterdag se wedren ernstig beseer in ʼn ongeluk. MW Pretorius is ook per lugambulans na die Millpark-hospitaal vervoer. Hy word sedertdien nog in dié hospitaal behandel en het Dinsdag ’n operasie ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries ·

Georgie, Our Brother. Ons gaan jou baie mis. Gxcc het ‘n ware broer verloor. “Ride the sky, we’ll meet again”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.