Ongerymdhede by EOH oopgevlek

EOH (Foto: Facebook)

Die tegnologiegroep EOH het Dinsdag bekend gemaak dat ʼn ondersoek deur die regsfirma ENSafrica ongerymdhede soos onreëlmatighede by tenders, ongestaafde betalings en onetiese sakeverhoudings by dié maatskappy oopgevlek het.

Luidens ʼn verklaring deur EOH uitgereik, is dié ongerymdhede by die direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) aangemeld en die maatskappy het reeds sy diensverhouding met individue wat betrokke was by skelmstreke in die maatskappy, beëindig.

Die maatskappy het ook ENSafrica beveel om kriminele aanklagte teen die skuldiges aanhangig te maak en siviele eise in te dien om verliese te verhaal.

Die maatskappy het te midde van die aankondiging ook bekend gemaak dat drie van sy direkteure bedank het. Dié bedankings sal effektief op 12 Julie in werking tree.

EOH is in 2016 deur ʼn skandaal geruk nadat bewerings oor staatsongerymdhede aan die lig gekom het wat verskeie staatsdepartemente soos verdediging, water en sanitasie asook die polisie en die eThekwini-munisipaliteit, insluit.

Dié skandaal het sy tol van Asher Bohbot, stigterslid en voormalige uitvoerende hoof, geëis en Bohbot het in Februarie uit die raad bedank.

Dit het die maatskappy aangespoor om ʼn interne ondersoek te loods na sy kontrakte in die publieke sektor.

Luidens die verklaring sal die maatskappy se direksie beslis optree ten opsigte van enige verdere oortredings wat tydens die ondersoek geïdentifiseer mag word.

EOH is ook reeds besig om ʼn omvattende remediëringsplan te ontwikkel met ʼn aantal maatreëls wat reeds geïmplementeer is, terwyl ander mettertyd sal volg.

“ʼn Groot hoeveelheid werk is reeds gedoen om die korporatiewe struktuur te laat hersien, robuuste risikobestuurs- en versagtingsinisiatiewe te implementeer, nuwe leierskap aan te stel en deursigtigheid, aanspreeklikheid en verslagdoening [binne die maatskappy] te verhoog,” lui die verklaring.

Die maatskappy voer aan dat die onlangse aanstellings van ʼn nuwe voorsitter vir sy direksie asook drie onafhanklike en nie-uitvoerende direkteure ʼn belangrike mylpaal vir die maatskappy is om sy leierskapvermoë en bestuursoorsig te verbeter.

Die ouditfirma PwC sit ook hand by met die opstel van interne ouditfunksies terwyl ENSafrica gehelp het om ʼn teen-omkopery-program vir die maatskappy te implementeer.

Stephen Coller, die uitvoerende hoof van EOH, en Megan Pydigadu, finansiële direkteur, sal tot verdere kennisgewing die leisels oorneem by die direkteure wat bedank het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

9 Kommentare

Zoeye ·

Dankie Here! Ek was so jaar of 2 terug nie goed genoeg vir EOH en my hare was te ROOI, siestog, mag julle bedrogspul oopgevlek word,
hallelujah laat die waarheid op die dakke geskree word!

honourable member ·

So lyk dit maar orals. Bedrog is aan die orde van die dag.

Ou Ingenieur ·

Vir ons in die Ingenieursbedryf is dit baie relevant!

Skelms waarteen jy moet probeer kompeteer!

SB ·

Bohbot was ‘n Zuma puppet. Al van so vroeg as 2010. Kry vir julle!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.