Ongerymdhede met OBK-beleggings, bevind kommissie

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency/ANA)

Die kommissie van ondersoek na ongerymdhede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het bevind dat bepaalde transaksies en beleggings die OBK se beleid oortree het en dat standaard bedryfsprosedures nie gevolg is nie. Etlike indiwidue het boonop onbehoorlik munt geslaan uit dié transaksies, waartydens lede van die OBK-raad in sommige gevalle mislei is.

Só bevind ʼn verslag deur die Lex Mpati-kommissie wat in 2018 in die lewe geroep is om ondersoek in te stel na bewerings van ongerymdhede by die OBK, asook onbehoorlike beleggingsbesluite wat in 2017 geneem is. Die staatsbeheerde OBK bestuur ongeveer R2 miljard se bates, hoofsaaklik die staatspensioenfonds (GEPF).

Die OBK se logo. Grafika: ANA.

Die verslag bevind verder dat ʼn aantal indiwidue, onder wie dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, en Victor Seanie, voormalige beleggingsbestuurder, onbehoorlik opgetree het en sodoende die bestuur van die OBK ondermyn het.

Die kommissie se verslag moes al in April verlede jaar afgehandel gewees het, het Maroela Media destyds berig. Die kommissie het egter telkens uitstel gevra.

Die kommissie beveel nou aan dat die OBK ʼn forensiese ondersoek na verskeie transaksies doen en seker maak dat alle voorwaardes vir alle beleggings wat gemaak is, ten volle nagekom is. Effektiewe prosesse moet ook van toepassing wees om beleggings behoorlik te monitor.

Indien die beleggings ter sprake nie aan die OBK se voorwaardes voldoen het nie, of gedoen is om persoonlike munt daaruit te slaan, moet stappe gedoen word om dié geld met rente terug te kry. Die OBK moet ook besluit of daar enige gronde is vir dissiplinêre of strafregtelike optrede teen enige van sy werknemers of raadslede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

En julle het gedink R2 triljoen kannie wegraak nie. Gee hierdie ouens nog net n rukkie. Abbara kedabara en GEPF is weg

Jims ·

Die sperdatum was vir amper n jaar gelede en verslag is nou eers afgehandel?
Hel die kommissie het hulself ooreis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.