Ongewone koue weer op pad

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gewaarsku dat die grootste deel van Suid-Afrika vandeesweek ongewoon koue temperature, heeltemal teenstrydig met die seisoen, kan verwag.

Wayne Venter, weervoorspeller by die SAWD, het gesê temperature tussen 16 ˚C en 19 ˚C sal vanaf Dinsdag in die suidelike dele van die Wes-Kaap voorkom met die koue weer wat vanaf Woensdag oos- en noordwaarts sal begin beweeg.

Volgens Venter sal die Oos-Kaap, suidelike dele van KwaZulu-Natal, die suidelike dele van die Vrystaat en die Noord-Kaap Woensdag die koue temperature begin voel. Die koue sal teen Donderdag na die res van KwaZulu-Natal en die Vrystaat, asook Gauteng en Mpumalanga versprei met temperature van ongeveer 15 ˚C.

Venter waarsku dat daar Donderdag temperature onder 10 ˚C kan voorkom in die hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap asook die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal. Hy het boere ook gewaarsku om voorkomingsmaatreëls in te stel om hul vee teen die koue te beskerm.

Volgens Venter kan ligte sneeuval Woensdagoggend oor die hoogliggende dele van die Wes-Kaap sowel as die hoogliggende dele van die Oos-Kaap verwag word. Die sneeu sal na verwagting Woensdagmiddag swaar begin val oor die noordoostelike berge van die Oos-Kaap sowel as Lesotho.

Swaar reën kan Dinsdag oor die grootste dele van die suidelike en oostelike dele van Suid-Afrika verwag word.

Venter het gesê dat plekke in die Eden-distrik in die Wes-Kaap Dinsdag tot meer as 50 mm reën kan verwag. Hy het gewaarsku teen vloede in dié gebiede. “Dit sal Donderdag nat en reënerig wees oor die grootste deel van die binneland.”

Die SAWD het mense weereens gewaarsku om sover moontlik binnenshuis te bly en nie riviere en strome oor te steek wanneer daar oorstromings voorkom nie.

“Indien jy in jou motor vasgevang word, probeer so vinnig moontlik uit die voertuig en op hoër grond kom. Wat geboue betref, moet waardevolle items na bokant die verwagte vloedlyn geskuif en die kragtoevoer afgeskakel word,” het Venter gesê.

Die SAWD het ook gewaarsku teen vloedtoestande in die aand wanneer gevare moeiliker is om te voorspel of uit te ken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Soekie ·

Ai tog, kan van daardie reën nie hier in onse ou dorre Boland ook kom val nie.

Lena Jonk ·

Ons bid gereeld vir julle mense vir reen, God sal hoor en ons gebede verhoor, Sy tyd is nie ons tyd nie, Sy Genade is groot, ons voel baie jammer vir julle maar ons vetrou net.

Grace Mugabe ·

Hulle voorspel reën vir die Wes-Kaap en die binneland. Ek reken dit sal die Boland insluit? Dit lyk altans so na gelang van die weerkaarte.

jaco ·

Dit reen nie oor die grootste deel van die wes-kaap nie, wnat n ANC raadslid het n paar maande gelede gese die Here straf die wes-kaap omdat meeste mense daar nie ANC stem nie. So soos wat apartheid van die ou Nasionale Party jare gelede blykbaar die wil van God was, is die ANC se korrupsie en swak regering seker maar ook die wil van God…

Hanna ·

God gee reen op sy tyd. Geen ANC regering sal voorskryf waar en wanneer dit gaan reen nie. So jammer vir die raadslid. Ons God is groot, die reen sal vir julle ook kom!!!!

Karlien ·

Ek sien Ons Vader se hand in die ongewone weer patroon. Die kaap het reen nodig, ‘n winter reen gebied.. Sneeu sal ook werk!

Marieta ·

Ek bid baie baie hard dat die Kaap reen kry. Al my gebede.

James ·

Hy het gesê Hy sal voorsien en Hy het/is besig om te voorsien. Vanaf vanoggend so agtuur se kant tot nou reeds meer as 40 mm gemeet hier op Robertson in die Weskaap.
Ek wou gaan kaal nael in die tuin, maar vroulief het my gekeer!

Ekke ·

Hoekom? Daar is niks lekkerder as om papsopnat te reen nie – ek doen dit so gereeld as wat ek kan! As ek weet niemand kan my sien nie, beslis kaal! Anders net met ‘n t-hemp. Daar is NIKS lekkerder nie.

Marietjie ·

Die Bybel sê God laat dit reën oor goeie en slegte mense.

Marinda ·

Hoop ons sal ingelig word oor hoeveel reën geval het, en of die reën in die opvang gebied geval het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.