Onkruiddoders verhoog dalk vrektes onder bye

Navorsers sê die nywerheidskaal waarop heuningbye bestuur word, verhoog ook hul blootstelling aan parasiete en siektes. (Foto: Justin Sullivan/Getty Images via AFP)

Blootstelling aan ʼn mengsel van landbouchemikalieë lei volgens ʼn nuwe studie tot ʼn beduidende toename in byevrektes – en navorsers sê die uitwerking daarvan word moontlik onderskat.

Bye en ander bestuiwers is uiters noodsaaklik vir gewasse en wilde habitatte en bewyse van skerp dalings in insekbevolkings wêreldwyd het vrese laat ontstaan van ernstige gevolge vir voedselsekerheid en natuurlike ekostelsels.

ʼn Nuwe meta-ontleding van tientalle studies oor die afgelope 20 jaar het gekyk na die wisselwerking tussen landbouchemikalieë, parasiete en wanvoeding op die gedrag van bye – soos die soektog na kos, hul geheue en voortplanting van die kolonie – asook die bye se gesondheid.

Navorsers het bevind wanneer die verskillende stresfaktore op mekaar inwerk, het dit ʼn negatiewe uitwerking op bye en verhoog dit die moontlikheid van vrektes.

Die studie wat in Nature verskyn het, het ook bevind dat wisselwerking met insekdoders waarskynlik sinergisties is, wat beteken dat hul gesamentlike uitwerking groter is as die somtotaal van die individuele uitwerking.

Bye probeer vergeefs ontsnap uit ‘n vergiftigde korf in Colombië. Honderde korwe het die afgelope paar jaar verdwyn, glo hoofsaaklik weens die gebruik van insekdoders. (Foto: Joaquin Sarmiento/AFP)

Die “wisselwerking tussen verskeie landbouchemikalieë verhoog bye se vrektekoers,” sê Harry Siviter, verbonde aan die Universiteit van Texas, en een van die medeskrywers van die artikel.

Die navorsers het tot die slotsom gekom dat risiko-ontledings wat nie voorsiening maak hiervoor nie, “die wisselwerkende uitwerking van antropogeniese stresfaktore op byevrektes kan onderskat”.

Navorsers sê dat hul resultate daarop “dui dat die regulatoriese proses soos dit tans bestaan, bye nie beskerm teen die ongewenste gevolge van blootstelling aan komplekse landbouchemikalieë nie”.

“Versuim om dit te pak en voortgesette blootstelling van bye aan verskillende antropogeniese stresfaktore in landbou, gaan lei tot die voortgesette daling in die voorkoms van bye en hul bestuiwingsdienste, tot nadeel van mense en die gesondheid van ekostelsels,” het die navorsers bevind.

In 2019 het navorsers bevind dat byna die helfte van alle insekspesies wêreldwyd besig is om af te neem en ʼn derde daarvan kan teen die einde van die eeu heeltemal verdwyn. (Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP)

In kommentaar wat ook in Nature geplaas is, sê Adam Vanbergen, van Frankryk se nasionale navorsingsinstituut vir landbou, voedsel en die omgewing, dat insekte wat bestuiwing doen deur bedreigings van intensiewe landboupraktyke in die gesig gestaar word. Dit sluit in chemikalieë soos insek- en onkruiddoders. Daar is boonop ʼn afname in stuifmeel en nektar in wilde blomme.

Die nywerheidskaal waarop heuningbye bestuur word, verhoog ook hul blootstelling aan parasiete en siektes.

Hoewel vorige individuele studies gekyk het na hoe die verskillende faktore op mekaar inwerk, het die nuwe meta-ontleding bevestig dat die mengsel van landbouchemikalieë wat bye in ʼn intensiewe landbou-omgewing teëkom, ʼn gevaar vir bybevolkings inhou.

Vanbergen sê daar was ʼn algemene fokus op die uitwerking op heuningbye, maar daar is ʼn behoefte vir meer navorsing oor ander bestuiwers wat dalk anders reageer op die verskillende stresfaktore.

Sowat 75% van die wêreld se gewasse wat vrugte en sade vir menslike gebruik produseer, maak volgens die Verenigde Nasies (VN) staat op bestuiwers. Dit sluit in kakao, koffie, amandels en kersies.

In 2019 het navorsers bevind dat byna die helfte van alle insekspesies wêreldwyd besig is om af te neem en ʼn derde daarvan kan teen die einde van die eeu heeltemal verdwyn.

Een uit elke ses spesies van bye het êrens ter wêreld in spesifieke streke reeds uitgesterf.

Die grootste aandrywers van dié uitsterwing is weens ʼn verlies aan habitat en die gebruik van insekdoders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Soos prof Francois Durand sê, die gesondste voedsel is beesvleis van die veld af. Dit hou ‘n gesonde ekostelsel in plek, mits die beeste nie gedip word nie (wat ek gedoen het,). Biodiversiteit baie hoog. Vegetariërs skep ‘n mono kultuur.

annie ·

Roundup pronk in die meeste boere se se store vir die perfekte bankrekening met plastiektamaties en -spinasie wat nooit op winkelrakke verlep nie. DDT word steeds in Afrika gebruik. Gifbespuite byelose sonneblomme buig laag voor die koning in sy vliegtuig wat sy oes eensklaps laat afmaai om gifsoet-goudgeel op winkelrakke te pronk. Ons boere lief geneties-gedokterde saad…. wie se plase binnekort van hand kan verwissel en lê snags wakker, verbitterd, oor hoekom die vreeslike wrede straf…

Grond ·

“Ons boere lief geneties-gedokterde saad…. wie se plase binnekort van hand kan verwissel en lê snags wakker, verbitterd, oor hoekom die vreeslike wrede straf” ABSOLUTE SNERT deur mense wat geen benul het wat in Suid Arikaanse en internasionale landbou plaasvind nie.
As dit nie vir “geneties gedokterde saad” was nie sou ons nie kos gehad het nie en sou ons gewasse se opbrengs in g/ha of kg/ha gemeet het en nie in ton/ha.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.