Onlus: Nog inhegtenisnemings, plundery duur plek-plek voort

Diepkloof Square in Soweto was een van die sentrums wat kwaai deurgeloop het. (Foto: Twitter)

Die gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) het bevestig dat nóg sterftes wat met die plundery oor die afgelope paar dae in KwaZulu-Natal en Gauteng verband hou, bevestig is.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, sê die syfer staan nou op drie sterfgevalle in KwaZulu-Natal en ses in Gauteng.

Teen 20:00 gisteraand is 166 mense in KwaZulu-Natal in verband met die misdadigheid in hegtenis geneem, asook 323 in Gauteng.

Vier polisiebeamptes is in die oproer beseer en herstel tans “goed”, sê Muridili.

NatJoints het intussen ook die ontplooiing van die weermag verwelkom. Meer besonderhede daaroor word vanoggend ná 10:00, wanneer ʼn mediavergadering daaroor gehou word, verwag.

“NatJoints het ontplooiings in die geraakte gebiede in KwaZulu-Natal en Gauteng verhoog en dit sal versterk word deur die polisie se maatreëls om operasionele lede van verlof en rusdae terug te roep om die teenwoordigheid van wetstoepassingspersoneel op grondvlak te verhoog.”

Volgens die polisie, en tientalle berigte op sosialemediaplatforms, het plundery oornag op sommige plekke voortgeduur.

Meer as 30 ondernemings van Black Business Federation geplunder

Die Black Business Federation (BBF) het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan sodat wet en orde in die land herstel kan word en ekonomiese bedrywighede en maatskaplike bestendigheid na gemeenskappe kan terugkeer.

Die BBF sê meer as 30 ondernemings wat by hom geaffilieer is, is in die afgelope paar dae geplunder.

“Die BBF veroordeel die vandalisme en plundery, waarvan ons almal die getuies is, ten sterkste. Dit benadeel ondernemings van alle groottes landwyd. Die BBF doen ʼn beroep op mense om dit stop te sit.”

Die BBF het ook gevra vir ʼn vriendskaplike oplossing vir die ontvouende ekonomiese en maatskaplike krisis.

“Laastens kan ons nie die tronkstraf van oudpres. Jacob Zuma, wat die spilpunt van al hierdie chaos is, ignoreer nie. Terwyl ons, as sake- en gemeenskapsleiers ons verbind om die strate in te vaar in ʼn poging om vrede in ons gemeenskappe te help bewerkstellig, moet die nasionale regering en die regbank kyk na ʼn oplossing wat in ooreenstemming met die Grondwet is.

“Dit is ongekende tye dié en ongekende stappe moet gedoen word.”

“Ekonomiese terreur”

Die Diamond-sakekamer (DCC), asook die organisasie Sakeliga, het ook die geweld veroordeel.

John-Ernest Fogwell, president van die DCC, het ʼn beroep op mense gedoen om enige tekens van plundery en geweld by die owerhede aan te meld.

“Ons gedagtes en gebede is met ons land en al die ondernemings wat die slagoffers was van die misdadige ekonomiese terreur. Tydens dié plofbare tyd vra ons almal om kalm te bly, nie die situasie te vererger nie en waaksaam te wees.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie is “ontevrede, maar ongelukkig nie verbaas nie, met die polisie se onvermoë om die situasie onder beheer te kry”.

“Die huidige wydverspreide plundering en versuim deur die staat om in te gryp regverdig ʼn kragtige reaksie deur ondernemings en georganiseerde gemeenskapstrukture om wet en orde te herstel,” sê Le Roux.

Hy sê die huidige onrus het verskeie bydraende faktore en is nie bloot ʼn politieke verskynsel nie.

“Die oproer en plundery, hoofsaaklik in KwaZulu-Natal, maar ook elders in die land, aangewakker deur die tronkstraf van voormalige oudpres. Zuma, is moontlik gemaak deur die opbou van verskeie sosiale, politieke en ekonomiese kragte.

“Hoewel dit nog onduidelik is of die chaos sal voortduur en versprei en of dit sal verdwyn, is dit ʼn duidelike herinnering aan die rede waarom sakegemeenskappe hulself moet beskerm teen staatsverval, die middele moet ontwikkel om hul bates te beveilig en om domeine van orde te bou waar hulle waarde kan toevoeg en welvaart kan skep,” sê Le Roux.

Plunderaars teiken drankwinkels

Drankwinkels word boonop toenemend die teiken van boosdoeners, terwyl die voortgesette verbod op die verkoop van drank voortduur.

Die Biervereniging van SA (Basa), die drankhandelaarsvereniging (LTASA), die nasionale drankhandelaars (NLT), die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) en Vinpro het almal ʼn dringende beroep op die regering gedoen om die verbod op te hef om ʼn algehele ineenstorting van die bedryf te verhoed en die onwettige handel in drank te stuit.

“Stropers het beslis drankwinkels geteiken en talle van ons lede wat reeds steier weens kontantvloeiprobleme weens die verbod, het al hul voorraad verloor. Skade beloop honderde miljoene rande,” sê Sean Robinson, voorsitter van LTASA.

Lucky Ntimane, sameroeper van die NLT, sê taverne-eienaars wat van hul voorraad besteel is, sal nie kan heropen wanneer die verbod opgehef word nie.

“Hul inkomste is verwoes en die township-ekonomie, waar baie van die plundery voorgekom het, is platgeslaan.”

NVG veroordeel geweld

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê Suid-Afrikaners het die reg om hul mening te lug en ontevredenheid deur wettige kanale te kenne te gee, waaronder vreedsame betogings.

Die NVG sê egter die gewelddadige betogings en misdadige plundery ondermyn die oppergesag van die wet en berokken skade aan die ekonomie en ontwikkelingsvooruitsigte.

“Die geweld is nie net misdadig nie, dit verwoes ook die inkomste van ons mede-Suid-Afrikaners, veral die armstes en mees weerloses.”

Die NVG sê dis boonop veral vroue en kinders wat gaan ly.

“Die fokus moet wees om diegene verantwoordelik vir die aanhitsing om geweld en ander vorme van misdaad te pleeg, voor stok te kry.”

Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand gesê benewens die groter sigbaarheid en intelligensiegedrewe teenwoordigheid in moontlike brandpunte gaan die vervolging van verdagtes wat by die geweld betrokke is, voorkeur kry.

Die NVG het sy aanklaers ook reeds opdrag gegee om die sake met dringendheid te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

Gaan al daai gevangenes voor die hof gedaag word? Ek wil dit graag sien…
Mens kan nie ‘n sprinkaan in ‘n mier verander nie.

Elize ·

Vreeslike honger wat die mense het. Sterk tande ook. Wonder hoe hulle daardie banke en meubels gaan verteer.

Nozi ·

Sien erens op ander berigte hul het tot die bloedbank gaan plunder het. Hierdie mense moet verskriklik honger en dors wees. Nou wat wil hul met die bloed doen vra ek jou?

Fedup ·

Speak now or forever hold your peace.
Oh wait, wrong country. All they do here is talk.

Jacobus ·

Kan nie help om die hardhandige wyse waarop mense gedurende grendeltyd geïntimideer is. En voorgekeer oor ‘n paar bottels bier. En hier maak our people chopchop ‘n ‘n drankwinkel en selfs ‘n brouery leeg. Ja, mr Ramaphosa daar is groot onewewigtigheid in ons land – vra maar weer, is dit die meesterplan.

JohanR ·

Na 27 jaar van ANC wanreg, moes die bom seker een of ander tyd ontplof! Miskien tyd dat ministers in Toyota Corollas begin ry, en nie Range Rovers nie.

Kokerboom ·

Ons kan praat tot die koeie huistoe kom!!As ons NIE die oorsaak van al die land se probleme nl die ANC en sy vernietigende idees en roekelose beleide aanspreeklik hou , gaan aanspreek van gevolge op niks uitloop.

Keith ·

No police or soldiers around… while the malls are being plundered. Then our president appears on TV and asks his people nicely to please stop being criminals. He promises that they will be arrested if they don’t stop. They know, however, that it’s not really true, so the next day they carry on emptying the shopping malls, huge warehouses and a booze refinery nogal. Now that his people know how easy it is to strip a mall, and get free drink and stuff, and not get caught, all they have to do is wait for the malls to be repaired and restocked in time for their next shopping spree. Or… they can move on to the other malls spread all over lalaland. Scary thought !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.