Onlus: Skade van miljarde word ál meer

Die omvang van die skade wat die afgelope week aan die ekonomie berokken is, sal eers later heeltemal duidelik blyk. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Skade wat aan Suid-Afrikaanse ondernemings en infrastruktuur aangerig is weens onluste wat die afgelope week in KwaZulu-Natal en Gauteng gewoed het, beloop reeds meer as R70 miljard. Dit neem nog nie eens in ag die indirekte verliese wat gely is weens vragmotors wat nie voorraad kon vervoer terwyl die N3 gesluit was nie.

Terwyl kalmte weer stadigaan terugkeer na dele van dié provinsies, is daar groeiende kommer dat dié bedrag selfs verder kan toeneem en kenners meen die werklike ekonomiese trefslag van die onluste kan weke later eers gesien word.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natalse premier, het vandeesweek gesê die “konserwatiewe skatting” van die skade wat dié provinsie weens die onluste en geweld gely het, beloop na raming meer as R1 miljard. Ekonomiese sentrums, infrastruktuur soos winkelsentrums, vragmotors, kleinhandelaars en selfs nasionale paaie soos die N2 en die N3 is spesifiek geteiken.

In eThekwini het Mxolisi Kaunda, burgemeester, gesê voorlopige skattings dui op skade van sowat R1 miljard weens ʼn verlies aan voorraad en sowat R15 miljard weens skade aan eiendom en toerusting. Sowat 55 000 informele handelaars, asook 40 000 formele en kleinsakeondernemings in die provinsie is geraak en derduisende werksgeleenthede is in die gedrag.

Die skade is egter nog nie gedaan nie. Mike Schüssler, ʼn ekonoom verbonde aan economists.co.za, sê die afgelope week se plundery gaan in die toekoms ʼn enorme probleem vir die ekonomie skep. Die skade wat aangerig is, gaan ook nie oornag ongedaan gemaak word nie.

Hy sê na raming is sowat 200 winkelsentrums in die oproer beskadig, geplunder of gedeeltelik verwoes. Die skade aan infrastruktuur aan net die sentrums beloop volgens hom sowat R14 miljard. Die winkels in dié sentrums was egter nie leeg nie en die voorraad is gestroop en geplunder – ʼn bykomende verlies wat sowat R56 miljard beloop.

En dan is daar die N3. Die pad is een van Suid-Afrika se belangrikste roetes vir die vervoer van goedere tussen die KwaZulu-Natalse kus en die res van die binneland, asook na talle van Suid-Afrika se buurlande.

Dié pad, wat daagliks deur sowat 6 000 vragmotors gebruik word, was etlike dae lank gesluit en is laat Vrydagoggend eers weer vir verkeer oopgestel. Goedere van tussen R120 miljoen en R150 miljoen word daagliks op dié roete vervoer en as die pad gesluit is, kan geen vrag die onderskeie bestemmings bereik nie – ʼn probleem wat almal raak.

“Die hele verskaffingswaardeketting is in ʼn gemors,” sê Schüssler.

Volgens hom beloop die verlies weens vragmotors wat nie die N3 kon gebruik nie, sowat R600 miljoen vir die tydperk wat die pad gesluit was. Die sluiting het egter ook ʼn regstreekse uitwerking op onder meer vervaardigingsaanlegte wat nie hul voorraad ontvang nie en dus nie hul produkte betyds kan lewer nie.

“Jou goeie naam aan daardie kant word dan ook geruïneer,” sê Schüssler.

Die daaglikse verlies vir die vervoerbedryf beloop volgens hom sowat R150 miljard, met ʼn rimpeleffek op talle ander bedrywe wat na raming ook etlike miljarde rande beloop.

“Dit gaan ʼn enorme probleem wees,” waarsku hy.

Talle vragmotors is spesifiek geteiken en na raming is sowat 40 vragmotors die afgelope ruk verwoes. Indien die veronderstelling gebruik word dat ʼn vragmotor tussen R1,5 miljoen en R2 miljoen kos, beloop dié skade sowat R60 miljoen.

Indien aangeneem word dat die vragmotors ook volgelaai was – en die waarde van die vrag sowat 10 keer meer is as die waarde van die vragmotor – beloop die skade weens goedere wat verwoes is, sowat R600 miljoen, sê Schüssler.

“Die syfers is egter net ʼn gedeelte van ʼn veel groter prentjie,” sê hy.

Tekort aan goedere

Mense staan tou buite Alex Mall in Gauteng om by ‘n winkel te probeer uitkom. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Omdat die verskaffingswaardeketting op talle plekke nou reeds dae lank lamgelê word, begin sommige goedere opraak. Daar is kommer oor tekorte aan brandstof, voedsel en medisyne in sekere gebiede en sommige hospitale het glo gesukkel om genoeg suurstof te ontvang.

In sommige gebiede van veral KwaZulu-Natal staan mense reeds tou buite supermarkte om basiese voedselitems te koop.

Vier van die land se raffinaderye het vandeesweek hul bedrywighede gestaak, wat tot paniekaankope van brandstof gelei het.

Die opskort van bedrywighede by die raffinaderye het ook ʼn uitwerking op alles, van die vervaardiging van margarien en verf tot die verskaffing van olie vir verhitting of kosmaak.

Schüssler sê wêreldwyd is die verskaffingsketting reeds in ʼn moeilike posisie. Die Covid-19-pandemie en die onlangse opeenhoping in die Suez-kanaal het ʼn groot uitwerking op die vervoer van goedere wêreldwyd gehad.

Schüssler sê die koste vir die huur van ʼn vraghouer het die afgelope jaar internasionaal boonop met 400% toegeneem, ʼn byna ongekende styging. As die houer nou in ʼn hawe vasgekeer is, kos dit ʼn in- of uitvoerder selfs meer geld.

Talle verspreidingspakhuise het ook deurgeloop. Dit beteken die voorraad moet nie net aangevul word wanneer dit weer beskikbaar is nie, daar moet ook nou gesoek word na nuwe pakhuise en vragmotors om die goedere te vervoer.

“Dit gaan nie net ʼn week of twee duur voordat alles weer terug op skedule is nie,” waarsku hy.

Werklike uitwerking later eers gesien

Duisende soldate is ontplooi om die situasie in bedwang te hou. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Hugo Pienaar, hoofekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, sê ook die werklike uitwerking van die oproer – en dit boonop bykomend tot die verskerpte inperkingsregulasies weens die derde vlaag Covid-19-infeksies – gaan eers later gesien word.

“Dit is baie moeilik om ʼn rand-en-sent-berekening te maak, maar dat dit ʼn geweldige uitwerking op die BBP in die derde kwartaal gaan hê, is ongetwyfeld só.”

Die rimpeleffek is in dié stadium byna onmoontlik om te bepaal en is boonop wydverspreid. En dan is daar die kwessie van vertroue. “ʼn Mens moenie die beleggersvertroue wat in die proses geskaad is, onderskat nie,” sê Pienaar.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, stem saam dat die uitwerking van die onluste op Suid-Afrika se vermoë om beleggings te lok, ʼn groot bron van kommer is.

“As mense nie die sekuriteit van die oppergesag van die reg as basis het nie, gaan hulle bloot net nie die kans waag [om te belê] nie – en regtens só,” het Brown vandeesweek aan CapeTalk gesê.

Byna 50 van die bank se takke en naastenby 300 kitsbanke is in die oproer beskadig en vroeër vandeesweek is alle Nedbank-takke in KwaZulu-Natal en sommige in Gauteng tydelik gesluit.

Pienaar sê Suid-Afrika se misdaadprobleme is nie ʼn verrassing nie en mense – ook beleggers – is deeglik bewus daarvan. “Dit het vantevore egter meer oor individuele veiligheid gegaan. Ek dink nie daar was tot op hede die persepsie dat, as jy ʼn fabriek in Suid-Afrika bou, die kans bestaan dat iemand dit gaan afbrand nie.”

Hy waarsku die oproer kan ʼn betreklike knou wees vir sogenaamde regstreekse buitelandse investering in die land. “Beleggers het reeds twee keer gedink om hul geld hierheen te bring. Hierdie kwessie gaan jou nog meer skugter maak om geld hier te belê,” maan Pienaar.

‘n Groep sakelui van Gauteng wat vroeër vandeesweek brood na KwaZulu-Natal geneem het nadat mense in die provinsie toenemend begin sukkel het om basiese kositems in die hande te kry. (Foto: Facebook)

Business Leadership South Africa (BLSA) het die openbare geweld ten sterkste veroordeel en gesê die “plundery en sinnelose verwoesting van eiendom is kommerwekkend”.

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, het vandeesweek ook gewaarsku dat die oproer verdere “skade berokken aan ʼn ekonomie wat reeds op die afgrond staan en op die punt is om ʼn mislukte staat te word”.

Terwyl die miljarde rande aan verliese bereken word, byt gewone Suid-Afrikaners reeds die spit af.

Adolf Oosthuizen, ʼn sakeman van Margate in KwaZulu-Natal, sê dorpe soos Port Edward en Umkomaas het veral sleg deurgeloop. En waar winkels aangeval is, is dit soms nie net eens geplunder nie, selfs die teëls op die vloere van sommige winkels is stukkend geslaan deur vernielsugtige stropers.

“Die trauma en emosionele uitwerking daarvan is redelik hoog,” sê Oosthuizen.

Oosthuizen sê daar het ʼn senuweeagtige gevoel by winkelsentrums geheers, omdat “jy nie weet wie jou vriend of vyand is nie”.

Hy sê dorpe aan die Suidkus, veral dié tussen Port Shepstone en Trafalgar, het grootliks die plundery vrygespring. Die gemeenskappe daar het vinnig kragte saamgespan en self ingespring om patrollies te doen om hul dorpe saam met wetstoepassingsowerhede te beveilig.

Die gebied steun swaar op die toerismebedryf wat weens die Covid-19-afsonderingsregulasies reeds in die moeilikheid is.

“Wie gaan in hierdie omstandighede hier wil kom kuier? Mense is onrustig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louis

En die skade is te danke aan ons regering en polisie wat al die eerste dag nie opgetree het teen die betogers nie. Maar eers n week daarna die weermag ontplooi het. Hul moes dit al die eerste dag gedoen hetl

Strandloper

Hoop fw en die ja broers is nou tevrede!

Anel

En wat van die mense wat skade gelei het deur die verwoesting van beringspersele? Sekere goed kan nie in geldwaarde om gesit word nie. En dit was beslis nie honger mense wat daardie plekke verwoes het nie. En wat het die regering sover aangebied tov hulp?

Hendrik

Hierdie fyn georganiseerde plundering kan nie anders as hoogverraad bestempel word nie en almal wat gearresteer is moet teen hierdie klag ook rekenskap gee. Dit was n georganiseerde misdadige/terroristiese aanval op die land en sy ekonomie/mense.

Die Boerepompie

Kan nie glo die mense kom weg met die nie hulle moet die wie hulle gevanh het die skade af werk