Onluste: Ammunisie, gesteelde buit gevind

Die polisie het reeds talle gesteelde items teruggevind. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die polisie het heelwat ammunisie, plofstof en gevaarlike materiaal op verskeie misdaadtonele gekry tydens pogings om die afgelope paar dae se onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng te stuit.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Vrydagmiddag gesê die items moet ingevolge bestaande veiligheidsvoorskrifte hanteer word en dit het ʼn vertraging in die vervoer van 500 bokse patrone veroorsaak. Die bokse is opgespoor nadat wetstoepassers Woensdag ʼn groep plunderaars in Mobeni in KwaZulu-Natal uitmekaar gejaag het.

Twee verdagtes, onderskeidelik 16 en 23 jaar oud, is dieselfde dag ook in die Mobeni-omgewing aangekeer nadat hulle in besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en 4 000 patrone gevind is. Hulle is aangekla van die onwettige besit van die vuurwapen en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde items.

ʼn Dag later is 1 050 patrone in bokse verlate op Leicesterweg naby die Tastic-fabriek aangetref. Nog 900 patrone is ook verlate agtergelaat.

Volgens Ntshavheni het ʼn groep mense boonop probeer om brandstof uit ʼn ondergrondse tenk by ʼn vulstasie in Pinetown, Durban, te tap.

“Die gevaarlike items wat plunderaars geteiken het, hou verband met die hoë getal sterftes,” sê die minister.

Dit sluit in die sewe liggame wat Donderdagoggend by ʼn Makro in Pietermaritzburg gevind is.

Gesteelde buit

Ntshavheni sê die polisie is ook besig om gesteelde items terug te vind danksy wenke van mense oor wie betrokke was by die plundering van inkopiesentrums en winkels.

Daar is reeds op tientalle items beslag gelê.

Die regering het ook ʼn beroep op mense gedoen om nie boodskappe te versprei wat ander aanhits tot geweld of wat vra dat sekere gebiede gesluit moet word nie.

ʼn Gemeenskapsleier aan die Gautengse Wes-Rand is gisteroggend vroeg in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn stemnota opgeneem en versprei het waarin hy vra vir openbare geweld in die gebied. Die nota is Donderdag onder inwoners versprei.

Herstel van infrastruktuur

Die N3- en N2-hoofweg is Vrydag vir verkeer oopgestel en volgens Ntshavheni het die vervoer van belangrike voedselitems, mediese voorraad en brandstof na alle dele van die land reeds weer begin.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het intussen begin met herstelwerk aan beskadigde dele van die hoofweg in die omgewing van Mooirivier en het versperrings op hierdie gedeelte van die N3 verwyder. Verskeie vragmotors is die afgelope ruk in dié omgewing geteiken en aan die brand gesteek.

Teen vroeg Saterdagoggend het die N3-tolkonsessie gesê geen voorvalle is op die pad tussen Cedara en Heidelberg, waar onluste vroeër gewoed het, aangemeld nie.

Motoriste is gewaarsku om vertragings weens swaar verkeer te verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Ek hoop nie dit loop uit tot ‘n staatsgreep nie.

Harley Davidson ·

Dit is oorlog met terroriste en kriminele gemeng.

Persheks Adri ·

Wie gaan pa staan vir die verlore ammunisie? Totaal en al onverantwoordelik! Hoed jy sal ons NIE ontwapen NIE verstaan jy? Verdomde pateet pffft!

Keelvol ·

Regstellende aksies het die polisie en weermag gelê. Hoeveel bewyse soek hulle nog voordat die spul tot beter insigte gaan kom?

Renee ·

Niks word genoem van die 1.5 miljoen patrone at gebuit is by Durban hawe nie sal graag wil weet.

Realis Thailand ·

Klaar opgedeel
Waar kom die een ou aan vierduisend patrone
Al lankal opgedeel en verkoop

Keelvol ·

Nee wat cele. Jy het die polisie se naam hier met n krieket bat vir n ses weg geslaan.

Sarel ·

Die Houer met Amunisie moes…sover ek verstaan van
Kaspstad na Gauteng vervoer word. Hoe het dit in
Durban beland en wie het daarvan geweet
Minister Cele moeg antwoorf

KhoiKhoi ·

Nou het die agbare minister van Polisie ‘n hoêvlak ondersoek van stapel gestuur.
Dit om ‘n rassisme vanaf die -oorwegend – Indiër gemeenskap teenoor plunderaars.
Dit nadat hy vir dae niks gedoen het toe die onluste hoogety gevier het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.