Onluste in KZN: City Life-gebou brand; talle beseer

Videos wat op sosiale media gedeel is, wys hoe rook uit die gebou trek (Foto: Skermskoot)

Terwyl grootskaalse plundery op talle plekke voortduur, het ʼn groep betogers Dinsdag die City Life-gebou in die Durbanse middestad aan die brand gesteek. Dié gebou bestaan uit onder meer winkels en woonstelle.

Video’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe sommige van die mense – wat vermoedelik in die woonstelle vasgekeer was – by die vensters begin uitklouter het.

Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddiens, sê hulle is omstreeks 12:45 na die toneel ontbied. Die brand is binne 15 minute geblus.

“Paramedici het altesaam 64 beseerdes op die toneel behandel. Twee van dié beseerdes is per ambulans na ’n hospitaal gehaas,” sê McKenzie.

Maroela Media het vroeër berig KwaZulu-Natal het na raming meer as R1 miljard skade gely weens die onluste. Belangrike ekonomiese sentrums en infrastruktuur, waaronder winkelsentrums, vragmotors en hoofroetes soos die N2 en die N3, is tydens die onluste geteiken.

Teen 20:00 Maandagaand is 166 mense in KwaZulu-Natal in verband met die misdadigheid in hegtenis geneem, asook 323 in Gauteng. Sterftes weens die oproer het op drie in KwaZulu-Natal en ses in Gauteng gestaan.

DA-leier John Steenhuisen het Dinsdag gebiede in KwaZulu-Natal waar opstokers amok gemaak het, besoek. Hy het dit as ʼn “oorlogsone” beskryf.

“Ek het nêrens ontplooide polisielede of weermaglede gesien nie. Daar was geensins ʼn teken dat wet en orde herstel word nie, net geboue wat brand en liggame wat langs die strate lê,” het Steenhuisen gesê.

 
“Die inwoners met wie ek gepraat het, is platgeslaan. Hulle sukkel om te verstaan hoe die staat hulle, hul geliefdes, eiendomme en ondernemings glad nie beskerm het nie. Hulle sê die staat het hulle in die steek gelaat.”

Steenhuisen sê dit is uiters belangrik dat wetstoepassingsagentskappe dadelik en in groot getalle na die gebiede wat die ergste deur die betogings geraak word, ontplooi word. Hy sê dit is ook nodig dat die weermag die polisie moet help met daadwerklike wetstoepassing en take soos die beskerming van groot padoorgange, die hantering van padblokkades en die vloei van verkeer.

Steenhuisen sê meer polisielede moet ook na die gebiede wat die ergste onder betogings deurloop, gestuur word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JJB ·

So lyk die hart van die ANC. Korrup en stukkend met niks om aan die nuwe geslag te bied nie.

wessel ·

hulle gaan nog steeds die Oktober verkiesings (indien enige) wen

Frank ·

Ons plaaswerkers, liewe eenvoudige, liefdevolle en hardwerkende mense, stem vir wie hulle kinders sê hulle moet stem. Hulle glo die jongmense weet beter en is beter ingelig……

Oubaas ·

Wonder waar is Generaal Kareltjie, beheer seker sy “troepe” uit sy hk.

Nie Verbaas ·

Daar is sekere verwysings na hulle wat ons nie mag maak nie maar gelukkig sien die hele wereld wat ons mee moet saamleef. Die ANC verwoes werklik ons land op alle vlakke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.