Onluste: ‘Neutraliseer’ duistere magte wat toutjies trek

Duisende soldate is ontplooi om die oproer in bedwang te probeer bring. Daar word intussen gesoek na die baasbreine agter die oproer. (Foto: GCIS)

Al meer vrae word gevra oor wie die baasbrein is agter die aanvanklike protesaksies in KwaZulu-Natal, wat uiteindelik na Gauteng oorgespoel en miljoene rande se skade aan infrastruktuur en eiendom aangerig het.

Meer as 1 000 mense is reeds in hegtenis geneem ná die afgelope week se geweld. ʼn Kenner het aan Maroela Media gesê dit is duidelik die betogings is fyn beplan deur iemand wat weet wat hy (of sy) doen.

Die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, het vandeesweek bevestig dat bewerings ondersoek word dat sommige voormalige staatsveiligheidsagente (SVA) – met noue bande met oudpres. Jacob Zuma – moontlik ʼn hand daaraan gehad het. Dlodlo wou egter nie veel besonderhede daaroor bekend maak nie.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het op sy beurt gesê 12 mense word ondersoek vir hul vermeende rol in die beplanning van die opstande. Dit het ingesluit ʼn ondersoek na twiets deur Duduzile Zuma-Sambuda, een van oudpres. Jacob Zuma se dogters.

Een van die name wat wel openlik genoem word as dat hy een van die vermeende baasbreine agter die geweld was, is dié van Thulani Dlomo. Dlomo, ʼn voormalige hoof van die SVA se eenheid vir spesiale operasies, is ʼn bekende meeloper van Zuma en word glo daarvan verdink dat hy ʼn sentrale rol in die orkestrering van die geweld gespeel het.

Hy het in 2019 die trekpas gekry weens bewerings van korrupsie teen hom.

Dlomo, ‘n MK-veteraan, ontken egter die bewerings teen hom ten sterkste.

Dr. Johan Burger, ʼn polisiekenner verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê wie ook al agter die geweld skuil, moet so gou moontlik geïdentifiseer en vasgetrek word, ten einde die situasie te ontlont.

‘Groot kundigheid’ sit agter onluste

“Daar is baie duidelik elemente agter die skerms wat steeds voortgaan om dié soort ekonomiese sabotasie te orkestreer. Dit moet ʼn prioriteit vir die polisie en die vervolgingsgesag wees om dié mense te neutraliseer,” het Burger gesê.

Hy meen tekens van groot kundigheid was aanvanklik sigbaar in die ontwrigting wat daarop ingestel was om grootskaalse oproer te veroorsaak, asook om infrastruktuur en toegangsroetes te teiken. En die plan het gewerk.

“Dit was mense met die regte soort agtergrond. Hulle verstaan wat nodig is om die optrede te loods,” sê Burger.

Burger waarsku ook dat die betrokkenes ʼn “ten alle koste-“houding het. Hulle is bereid om die land lam te lê om Zuma se vrylating verseker.

Maar dit gaan oor meer as die oudpresident. Dit gaan ook oor eie belang.

“Baie van die mense wat so ingestel is om hom te beskerm, is mense wat self ʼn belang by die staking van vervolgings het – want hulle word sélf deur vervolging in die gesig gestaar,” sê Burger.

Hy sê die georkestreerde geweld en vernietiging is na bewering aanvanklik gedryf deur die Jacob Zuma-stigting. Dié het in ʼn stadium boonop gedreig dat die oproer nie gaan ophou tot die oudpresident nie uit die tronk vrygelaat word nie.

“As ons veronderstel dat hulle [die Jacob Zuma-stigting] nie direk verantwoordelik is nie, dan het die gebeure ʼn natuurlike verloop geneem. Soos wat mense gesien het dat winkels geplunder word, het dit ʼn opportunistiese misdaad geword en mense het eenvoudig begin deelneem.”

Burger sê tot watter mate die plundery en oproepe oor die oudpresident se vrylating verband hou, moet nog bepaal word.

“Ek glo daar is ook die opportunistiese misdadigers wat ʼn geleentheid gesien en dit uitgebuit het. Hulle het ook geglo dat die polisie nie die vermoë het om oral te keer nie – en hulle was natuurlik reg.

“In baie plekke waar die oproer voorkom, skep dit ʼn toestand van totale anargie. Die polisie was tot dusver nie in ʼn posisie om dit heeltemal te stuit nie en dit duur op sommige plekke voort,” het hy vroeër vandeesweek gesê.

Burger sê dit lyk ieder geval of die land se veiligheidsmagte stadigaan besig is om te konsolideer en beheer oor die situasie terug te kry. Boonop het talle gemeenskappe self begin organiseer in ʼn poging om plunderaars te stuit. Dit sluit in organisasies soos taxiverenigings, private veiligheidsgroepe en burgerlike organisasies wat uit ʼn gemeenskapsveiligheidsoogpunt begin mobiliseer het om eiendom en lewens te beskerm.

“Uiteindelik behoort hierdie soort mobilisering die skaal weer in die guns van beter beheer deur die owerhede te herstel, maar dit gaan ʼn proses wees.

Kan vrylating van Zuma oproer ontlont?

Uitspraak in Zuma se aansoek, om sy tronkstraf van 15 maande weens minagting van die hof te laat herroep, is die afgelope week in die Konstitusionele Hof voorbehou. ʼn Hooggeregshof het reeds sy aansoek dat die lasbrief vir sy inhegtenisneming ter syde gestel word, verwerp.

Die 79-jarige oudpresident dien sy tronkstraf in die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal uit.

Vandeesweek was daar selfs sprake van moontlike presidensiële kwytskelding vir Zuma.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder en hoof van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, sê dit is sekerlik ʼn opsie om Zuma vry te laat om die oproer te ontlont – maar waarsku dat dit ʼn gevaarlike een is.

“Dan sê ons daarmee die grootste [vermeende] misdadigers in Suid-Afrika bepaal die wel en wee van die land. Is dít die opsie wat ons bereid is om uit te oefen?”

Henwood meen boonop die saak is meer kompleks as ʼn anti- of pro-Zuma-veldtog.

“Die oproer het dalk begin as ʼn projek om Zuma te laat vrylaat, maar dit het buite beheer geraak nadat misdadige elemente betrokke geraak en ander kwessies ter sprake gekom het.”

Armoede. Hopeloosheid. Uitsigloosheid.

Henwood sê Zuma se vrylating gaan niks verander aan die ekonomie, armoede of die feit dat die regering “verskriklike foute” met die hantering van die Covid-19-pandemie gemaak het nie.

“Onderliggend hieraan word Suid-Afrika gekonfronteer met die mislukking van die ANC se interne politiek. Zuma se vrylating gaan dit nie oplos nie. Dit gaan die land eerder uitlewer aan ʼn misdadige politieke element wat niks voel vir Suid-Afrika nie.”

Henwood sê die ANC het sy interne politiek verkeerd hanteer en dít, tesame met die regerende party se behoefte om alles te wil beheer en self te doen, het tot die “mislukking van leierskap en regering” gelei.

Hy sê die regering moet wys hy is in beheer en bereid wees om besluite te neem.

“Die ANC moet sy interne politiek onder beheer kry, want hy is besig om Suid-Afrika daarmee te vernietig.”

Henwood sê weinig van wat die afgelope paar dae gebeur het, is nuut. Vragmotors word al maande lank geteiken, geplunder en uitgebrand. Probleme met sogenaamde rassegeweld steek gereeld kop uit.

“Dit het begin as ʼn veldtog. Daar was duidelike waarskuwings, maar geen reaksie nie. Dit het nou op ʼn punt gekom waar ʼn pakket van armoede, hopeloosheid, ontevredenheid met die regering, die Covid-19-regulasies en ekonomiese probleme, handuit geruk het.

“Mense het nie respek vir die regering nie en is nie bang vir die polisie nie. Dit het ʼn omgewing geskep waar mense dink dit is nou elkeen vir homself.”

Henwood sê die regering kon nie eens die N3-hoofweg, een van die land se belangrikste roetes vir die vervoer van goedere tussen die kus en die binneland, vir verkeer oophou nie.

“Hulle kon nie basiese stappe doen om Nkandla te beveilig om te keer dat dit momentum opbou en met hulle weghardloop nie.”

Uiteindelik, waarsku Henwood, gaan die armstes oudergewoonte die meeste ly.

“Hierdie mense wat plunder het reeds niks nie en gaan môre nog minder hê.”

Henwood sê die ANC het Zuma beskerm en aanvaar nou geen verantwoordelikheid vir die gevolge van dié besluit nie.

Henwood waarsku al wat later kan oorbly, is ʼn politieke elite wat alles beheer. Die onaantasbares. ʼn Situasie soortgelyk aan dié in Zimbabwe.

“Dit gaan nie net oor geweld of Zuma of diefstal nie. Daar is ʼn dieper onderliggende ekonomiese konteks. Ons hanteer dit egter nie en grawe die gat net dieper.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Persheks Adri ·

Begin by Zuma se kinders en daai verraaier van ‘n Karel kat en moet nie die EFF’ers vergeet nie! Dis nie so moeilik nie duh

H.A. ·

EEF gaan niks oorkom, dit is die anc se 3 mag. Mk is die 2 mag. Ons moet maar net land uit.

SomeOne ·

daar is nie ‘n manier waar ek gaan weghardloop nie, my groot oupa en groot groot oupa en families het nie verniet vir sa baklei nie

SomeOne ·

quote
“Stalin once ripped all the feathers off a live chicken as a lesson to his followers.
He then set the chicken on the floor a short distance away.
The chicken was bloodied and suffering immensly, yet, when Stalin began to toss some bits of wheat toward the chicken it followed him around.
He said to his followers “This is how easy it is to govern stupid people, they will follow you no matter how much pain you cause them, as long as you throw them a little worthless treat once in a while””

Strandloper ·

Wow, kan die wanabe cowboy stommerik tel, dit sukkel dan om te praat? Topie zuma is nie so stupid as wat hy lyk nie….wel ek sal nou nie in die tronk gaan sit vir n alibi nie…maar mens weet nooit? Die groot gif is die sot wat se fingers ruik na asbes!

Mieke ·

Dit gaan nie oor Zuma nie…. Hy is bloot ‘n verskoning vir hierdie plundery… Onthou dat Cyril gesê het dat wanneer Covid verby is sal daar ‘n heel nuwe stelsel ingestel wees… ek dink die ANC is ongeduldig om van SA ‘n kommunistiese staat te maak!

RB ·

Die regering, die ANC, het geheel en al beheer verloor oor dit wat hulle al jare lank koester en voed in hul lede.
Hulle het die voorbeeld gestel van plunder, breek, brand en moor as jy nie jou sin kry tot jy jou sin kry.

Hulle het net vergeet om hul lede te leer: jy doen dit niè terwyl ‘ons’ regeer nie, jy doen dit net as dit n ander party is wat aan bewind is.

Tog kies ek om steeds te glo daar is n veel groter groep wat in vrede (sonder haat) met mekaar kan saamleef (al is daar irritasie en frustrasie met mekaar) as wat die groep is wat deelnemers was aan die afgelope week se handelinge.

Mariana ·

My vraag bly dat as hulle Zuma nou vryspreek, wat word dan van die ander sake teen hom, sake wat baie ernstiger is as dit waarvoor hy nou sit. Wat gaan die “organiseerders” dan doen om hom vrygelaat te kry.

Keelvol ·

Voeg maar ou malema en floyd se name by daardie lysie by. Nog n ding, die jgzuma foundation weet nie waar van hulle praat nie.

Pio ·

Ek wil weet wat was bespreek en beplan op die Nkandla teepartydjie! Ondersoek gerus almal wat daar teenwoordig was! Ja, Cele, jy ook!!

Debbie ·

Ek dink die oproerigers maar Zuma se lewe net moeiliker. Wys net hoe slim hulle is….

marius ·

Nie hy of sy nie, maar hulle . Die regeerders weet presies wie hulle is. Niks anders as staatsgreep in wording nie. Zuma debakel is net die lont wat lankal voorberei is. Glo dit maar.

Hoekom ·

“Hunger & starvation”

Niemand kan ‘n 70+ inch HD smart tv eet nie. Kan ook nie mall teëls of glas eet nie. Nie eers gepraat van die bloedbank wat hulle geplunder het nie, eet hulle bloed?

Herman L ·

Hoekom het Zuma homself by sy gunsteling gevangenis aangemeld anders as wat die hof beveel het? Is dit omdat daar van sy vertrouelinge in beheer is, wat hom kan help om sy oproer voort te sit?

KB ·

Al hierdie sakies kon ons ook vir Henwood gelys het.
Die probleem met ons sg.e “kenners” is dat hulle agtertoe kyk. Kom maak ‘n voorstel (vir ‘n slag) Henwood, en wen ‘n prys. Ek luister gereeld na sy radio-gesprekke (dis niks anders as rapporte nie).
Versiendheid deur insig, behoort jou doelwit te wees, níe ‘n weeklikse opsomming van gebeure nie. Hy bly maar flou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.