Onmiddellike alkoholverbod en aandklokreël aangekondig

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat ʼn drankverbod onmiddellik weer in werking is en dat ʼn aandklokreël weer van Maandagaand af sal geld.

Volgens Ramaphosa het die nasionale Covid-19-bevelsraad en die kabinet oorweeg of die hele land of bepaalde dele van die land terug na vlak 4 of vlak 5 moet beweeg weens die land se vinnig stygende Covid-19-infeksiekoers.

Die bevelsraad en kabinet het egter daarteen besluit, gegewe dat dit nie noodwendig ʼn aansienlike afname in die oordrag van die virus tot gevolg sal hê nie, asook dat dit teen ʼn groot en buitengewone ekonomiese koste sal wees. Die bevelsraad en kabinet het besluit dat die land in dié stadium op vlak 3 sal bly. Die nasionale ramptoestand is tot 15 Augustus verleng.

Daar is wel besluit dat die verkoop en verspreiding van alkohol met onmiddellike inwerkingtreding opgeskort word. Volgens Ramaphosa is daar duidelike bewyse dat alkoholverbruik groot druk op hospitale plaas weens motorongelukke, geweld en ander alkoholverwante trauma.

ʼn Aandklokreël word van Maandagaand af weer ingestel. Van Maandagaand af moet almal tussen 21:00 en 04:00 tuis bly behalwe mense wat werk toe gaan of van hul werkplekke terugkeer en mense wat dringend mediese bystand benodig.

Die dra van gesigmaskers is verpligtend en regulasies in dié verband sal verskerp en afgedwing word.

“Ons is ten volle bewus daarvan dat die stappe onwelkome beperkings op mense se lewe plaas. Dit is egter nodig om ons deur die piek van die siekte te kry.”

Terselfdertyd is daar besluit om sekere beperkings te verlig op aktiwiteite wat ʼn laer risiko vir infeksie inhou en wat belangrik is vir ekonomiese of opvoedkundige doeleindes.

“As deel van die hervatting van die ekonomiese aktiwiteit word alle veilings toegelaat, onderhewig aan protokol soortgelyk aan dié wat tans op landbouveilings van toepassing is. Parke sal oop wees vir oefening, maar nie vir enige vorm van byeenkomste nie.

“Ná deeglike oorweging van kundige raad is daar in dié stadium nog ʼn paar aktiwiteite wat te veel risiko’s inhou. Om hierdie rede sal gesinsbesoeke en ander sosiale aktiwiteite ongelukkig voorlopig nie toegelaat word nie. Ek weet dat dit ʼn groot las op gesinne en individue plaas en emosionele druk kan veroorsaak, veral vir mense met bejaarde ouers. Dit is teenstrydig met ons aard as sosiale wesens, maar dit is ʼn swaarkry wat ons soveel langer nog gaan moet verduur om diegene wat ons liefhet en voor omgee teen hierdie siekte te beskerm.”

Foto: SAPD/Facebook

Taxi’s wat plaaslike reise onderneem, sal nou toegelaat word om hul kapasiteit tot 100% te verhoog, terwyl langafstandtaxi’s beperk word tot 70%-kapasiteit op voorwaarde dat nuwe protokol vir risikovermindering met betrekking tot maskers, die sanitasie van voertuie en oop vensters gevolg word.

Ramaphosa het gesê dit is kommerwekkend dat baie mense die erns van die virus ontken, ondanks alle teendeelbewyse. “Ons weet nou van verskeie tragiese gevalle waar mense wat sosiale byeenkomste gereël of bygewoon het, waaronder familiebyeenkomste, die virus opgedoen en gesterf het. Dit kan ʼn siekte wees wat deur ʼn virus veroorsaak word, maar dit word deur menslike gedrag versprei.”

Wetenskaplikes en ander scenario-beplanners het volgens Ramaphosa modelle aan die regering voorgelê wat voorspel dat tussen 40 000 en 50 000 voor die einde van die jaar in Suid-Afrika aan Covid-19 kan sterf.

“Ons moet dit ons belangrikste taak maak om hierdie vooruitskattings verkeerd te bewys. Daar is geen manier waarop ons die koronavirus-storm kan vermy nie, maar ons kan die moontlike skade beperk wat dit aan ons lewe berokken.”

Suid-Afrika het 276 242 bevestigde Covid-19-gevalle en die algehele sterftesyfer staan in hierdie stadium op 4 079.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

56 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

As die drank in die manne is, is die verstand in die kanne. Beter so

Martie Smartie

Ek hoop van harte die drankhandelaars en -werknemers staan saam landwyd en vat die regering hof toe. Eerstens, is die persone wat drank so erg misbruik dat hulle opeindig in hospitale agv daarvan, ‘n handvol vergeleke met die res vd bevolging wat hulle drankie matig en binne perke gebruik. Tweedens, is daar geen bewyse dat enige vorm van drankgebruik die verspreiding vd chinese virus vererger nie of tot sodanige gesondheidsprobeleme lei dat dit tot groter risiko v covid lei nie. Derdens, is die verkragting vd regsbeginsel dat elke natuurlike en regspersoon regtens voor die wet en die reg verantwoordelik is… Lees meer »

Mari

En as jou kind skool toe gaan word hy of sy in elk geval blootgestel aan 15 gesinne of meer maar jy mag nie by jou eie mense kuier nie. Malligheid!

SWAREB1962

Snaaks, TAXI,’S wat niks, geen TAX tot die land bydra nie, kan 100% opereer.
Hul oorlaai daai taxi met geen ventilasie, heater aan en opgewasemde vensters.
Nou hoe nou?

Sharnelle

Taxis mag nou 100% vol wees mits die vensters oop is en maskers gedra word, dis net so goed jy vra n malaria muskiet om n kondoom aan te trek voor hy jou steek. Maar ons mag nie vir familie kuier nie maar mag saam hulle in restaurante eet. Social distance word nou met 2m verleng, maar binne winkels tussen die rakke loop jy rakelings verby mekaar. Ek wonder nou net as die kelner of kelnerin jou order moet vat op afstand van 2m,hoe gaan hy of sy jou kos bedien vanaf 2m of gaan die bord kos soos n… Lees meer »