Onnie beboet wat seun ‘skop, wurg’

Annelise Boot is skuldig bevind aan die aanranding van ’n gr.6-leerder. Sy gaan egter nou teen haar vonnis én skuldigbevinding appelleer. (Foto: Facebook / Annelise Boot)

ʼn Onderwyseres van Centurion is Dinsdag ʼn boete van R10 000 of 10 maande tronkstraf opgelê, nadat sy vroeër aan die aanranding van ’n 12-jarige seun skuldig bevind is.

Annelise Boot (54) het dié boete kort ná haar vonnis in die landdroshof in Pretoria betaal en dieselfde dag huis toe gekeer.

Boot se regsverteenwoordiger, dr. Llewellyn Curlewis, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy het reeds ʼn skriftelike aansoek om verlof tot appèl teen haar vonnis en skuldigbevinding ingedien, wat op 21 Oktober aangehoor sal word.

Die hof het in April vanjaar bevind dat Boot, ʼn voormalige onderwyseres by die Springvale Primary School, ʼn gr. 6-leerder van dié skool in Februarie verlede jaar gewurg en geskop het. Luidens berigte het sy glo ook haar knie op die leerder se bors gedruk en sy arms vasgehou. Die seun het voor die aanranding glo ʼn bottel gegeurde water by ʼn ander leerder gesteel.

Boot is aanvanklik van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla, maar dié aanklag is later net na aanranding verander.

Sy het destyds die aanklag teen haar teengestaan en aangevoer dat sy uit selfverdediging opgetree het toe die seun haar in ʼn woedeuitbarsting wou aanrand.

Times Live berig die hof het destyds die staat se saak aanvaar dat die onderwyseres gewelddadig teenoor die leerder opgetree het en haar gevolglik op aanklagte van aanranding skuldig bevind.

Sowetan Live het in April berig dat die leerder se gesin dié hofuitspraak verwelkom het.

Curlewis sê die seun is  ʼn “probleemkind met ʼn baie lang geskiedenis van gedragsprobleme”, en dat dit ook tydens die hofsaak uitgewys is.

“Dit is ook nooit deur die staat betwis nie. Hy het boonop vantevore al verskeie ander onderwysers en leerders met die dood en aanranding gedreig,” het Curlewis Woensdag gesê.

Hy sê sy kliënt het haarself beskerm deur die seun vas te druk, en dat sy die leerder ook teen homself wou beskerm aangesien hy glo sy eie kop “uit woede teen die vloer gekap het”.

Volgens Curlewis gaan dit beter met Boot se gemoed noudat die saak voorlopig tot ʼn einde gekom het en die staat nie daarin kon slaag om haar tronk toe te stuur nie.

“Sy het onmiddellik die boete van R10 000 betaal sodat sy nie hangende appèl teen haar skuldigbevinding en vonnis nog om borgtog moes aansoek doen en dalk ʼn paar nagte in die tronk sou deurbring nie.”

Curlewis sê hulle is verder verlig dat die hof haar nie ongeskik verklaar het om weer met kinders te werk nie.

“Ek is oortuig dat ʼn hooggeregshof beslis tot ʼn ander beslissing sal kom aangesien die hof – met respek gesê –  klaarblyklik grof gefouteer het wat die grondbeginsels van die reg betref.

“Die staat het die voorval boonop as ʼn rasse-aangeleentheid probeer inkleur, terwyl daar in geen stadium hoegenaamd sprake van ras tydens die lewering van getuienis was nie. Boonop het die hof al die deskundiges se getuienis, soos deur die verdediging aangebied, geïgnoreer, terwyl die staat nooit enige aspek daarvan weerlê het nie.”

Volgens Curlewis bestaan sy aansoek om verlof tot appèl uit meer as 60 bladsye waarin “growwe foute” uitgewys word.

“Die reg is nie altyd regverdig nie, maar gelukkig maak die regstelsel voorsiening dat howe wat met die eerste uitspraak ‘aanjaag’ wel later oor die vingers getik kan word in ʼn beroep op ʼn hoër regsforum.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

Sterkte met die saak vorentoe. Tragies dat mens so lang pad moet loop om jou onskuld te bewys.

Misky

Ek kry onderwysers in vandag se tye bitter jammer. Bly vir Juf. Boot dat dit nou agter haar is en sy kan aangaan met haar lewe. Hoop daai kind se ouers besef hulle sit met ‘n GROOT probleem op hande

Jacques

Two sets of rules, one for when you’re white and one for when you’re black.

Debbie

Ek verstaan haar posisie. My seun was n probleem kind en het net soveel probleme vir sy onderwysers veroorsaak. Kinders weet die wet is aan hulle kant

Carel

Ons weet ALMAL presies wat gebeur het. ‘n Polities “untouchable” het amok gesaai in die klas en was al baie lank reeds ‘n HELSE probleem in die haar klas gewees. Geen onnie tree normaalweg só op nie . . . veral nie as Kroonwild ter sprake is nie. Die vrou het emosioneel geknak/gebreek en het heeltemal die kluts kwyt geraak a.g.v. jare se treitering, uitlokking en koggel . . . . sy móés net opvreet, want ta is mos NOOIT verkeerd nie. Hy is mos per definisie ‘n onderdrukte wat daarom “spesiaal” is Nou is die Sowetan weer op die… Lees meer »