Onnie ondersoek oor ‘seks met leerling’

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement ondersoek bewerings dat ʼn onderwyser van ʼn afgeleë skool in die noorde van die provinsie by een van sy minderjarige leerlinge woon en ʼn seksuele verhouding met haar het.

Muzi Mahlambi, woordvoerder van die departement, het gesê beamptes van die departement het Dinsdag die Khoza High School besoek nadat hulle klagtes oor die onderwyser ontvang het. “Ons ondersoek tans die saak. Die ondersoek het gister [Dinsdag] begin met die beamptes se besoek aan die skool,” het hy gesê.

Hy het gesê indien die bewerings waar is, sal die departement stappe teen die onderwyser doen.

Intussen het Hlanganani Gumbi, ʼn woordvoerder van die Demokratiese Alliansie (DA), Dinsdag gesê die party het ʼn saak van statutêre verkragting by die Pongola-polisiestasie aanhangig gemaak. Gumbi het gesê volgens bewerings het die onderwyser talle verhoudings met minderjarige skoolmeisies gehad, leerlinge se swak punte onregmatig verbeter en saam met leerlinge by die plaaslike kroeg gedrink.

Volgens Gumbi het die skoolhoof die onderwysdepartement en die skool se beheerliggaam van die onderwyser se beweerde optrede ingelig. “Deurlopende druk van ouers en ʼn geskrewe verklaring van ʼn leerling waarin sy beweer dat sy ʼn verhouding met die onderwyser gehad het, het veroorsaak dat die onderwyser op 7 Augustus geskors is,” het hy gesê.

Die onderwyser se skorsing het egter betogings deur die leerlinge ontlok en die onderwyser het aansoek gedoen om oorgeplaas te word na ʼn ander skool.

Gumbi het gesê die departement moet ʼn kinderbeskermingsregister hê om te verseker dat onderwysers wat kinders misbruik nie by ander skole aangestel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.