Onnie steeds vermis ná vloed

Foto: Netcare 911.

Rampbestuurowerhede en die polisie in KwaZulu-Natal het Maandag na ʼn onderwyser (48) begin soek wie se voertuig vermoedelik deur vloedwater meegesleur is.

Lennox Mabaso, woordvoerder vir die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het gesê die man se voertuig is Sondagaand deur vloedwater in die Nanakazirivier meegesleur.

Mabaso het gesê in dié stadium is daar nie meer besonderhede oor die voorval beskikbaar nie, maar dat noodpersoneel met hul soektog voortgaan.

Die provinsie is deur verskeie kitsvloede getref as gevolg van die kouefront wat oor die land beweeg het.

Rampbestuurspanne het hul hande vol gehad. Altesaam 22 mense is gered wat in ʼn bus vasgekeer was terwyl dit begin sink het naby Nseleni buite Richardsbaai. Drie passasiers in ʼn bakkie is ook uit die vloedwater gered.

Cogta het motorbestuurders gewaarsku om nie oor paaie te ry wat deur vloede geraak word nie. Sowat 200 mense is as voorsorgmaatreël deur Cogta van Mzingwenya naby Richardsbaai na veiligheid verskuif.

“Die gemeenskappe word bygestaan met alle noodbehoeftes tot dit veilig is vir hulle om terug te keer na hul wonings toe. Ons maan gemeenskappe om saam te werk en vrywillig na veiliger gebiede te gaan as hulle gevra word om dit te doen,” het Cogta gesê.

In dié stadium is daar nog geen sterftes aangemeld nie. “Rampbestuurspanne monitor die situasie,” het Cogta gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.