Onnie sterf ná sy voor leerders geskiet word

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

‘n Onderwyseres van ‘n laerskool in Mpumalanga is dood nadat sy in haar klaskamer ten aanskoue van leerders geskiet is.

Jasper Zwane, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het gesê die onderwyseres se man het na die skool in Bosbokrand gegaan, na sy vrou se klaskamer gestap en haar glo geskiet. “Sy het probeer wegkom en na die personeelkamer gehardloop. Hy het agter haar aangehardloop en haar weer geskiet.”

Volgens Zwane is die onderwyseres, Kate Chiloane, op die toneel dood. Die polisie is intussen na die onderwyseres en haar man se huis waar hulle hom met ‘n skietwond aangetref het. Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem.

Zwane het gesê die voorval het by die Sedibasathutho Primary School plaasgevind. “Die departement monitor die situasie by die skool en het beraders gestuur om bystand te lewer aan die leerders, onderwysers en familielede van die slagoffer.”

Reginah Mhaule, LUR vir onderwys in die provinsie, het haar medelye met die oorledene se familie betuig. “Die departement sal saam met die polisie en ander relevante agentskappe werk om die omstandighede wat tot die voorval aanleiding gegee het, te bepaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rika G ·

Wat gaan met die volk aan.. as jy nie jou sin kry nie skiet jy sommer jou vrou of man dood. Praat die probleem uit as dit nie help nie gaan sien n berader of skei. Genade mense waardeer almal maak nie saak wat en wie jy is nie die lewe is so kort. Simpatie aan familie en vriende wat agter bly.

skorra ·

Ek wil nie op die inhoud van die berig kommentaar lewer nie. Dit is doodgewoon tragies. Wat egter die opskrif betref, kan ek nie langer nalaat om te noem dat Maroela Media my telkens met ‘n wrang smaak in die mond laat wanneer die berig om ‘n onderwyser gaan nie. Elke liewe keer (gaan slaan maar self na) word die woord “onnie” in die opskrif gebruik. Platvloerse Afrikaans. Waarom word dokter dan nie ook maar “dokkie”, dominee “doompie” of polisie “pote” nie? En moenie met die flou verskoning van volksmondgebruik kom nie – dit bly swak Afrikaans vir ‘n Afrikaanse nuusblad van hoë gehalte en herinner sterk aan Son koerant. Bowendien het ons klein-klein ‘n sekere manlike kledingstuk ‘n “onnie” genoem :). En nee, ek is nie in die onderwysberoep nie, maar stel die handhawing van my taal op hoë vlak en respek vir alle beroepe hoog op prys. Taalgebruik soos hierdie bevorder na my mening juis ook die algemene gebrek aan respek wat ons samelewing kenmerk.

Johan ·

Skorra my bra,dit is n dik mooi speech. Smaak dit stukkend.

Francois le Cochon ·

Die word “onderwyser” is ook al uitgedien. “Opvoeder” word nou gebruik. Onnie word in die volksmond gebruik as die gesprek in ligte luim is. In hierdie geval is die opvoeder tragies vermoor. Om dan na ‘n “onnie” te verwys, sou ek se^, toon bietjie gebrek aan respek.

Reinhardt ·

Eenvoudig eintlik, “Onnie” is n algemene woord wat verwys na onderwysers. Het jy verstaan wat dit beteken? Dan het dit mos sy doel bereik. Taal is lewendig, daar is baie woorde waarvan ek ook nie hou nie, maar mense gebruik dit. Maar tot n mate stem ek wel saam, Maroela Media moet besluit of hulle professioneel wil voorkom, of nie. Francois maak n goeie punt, hierdie is n tragiese verhaal, dalk is Onnie onvanpas.

Susan ·

Dit is baie tragies, maar die ergste is dat dit voor kinders plaasgevind het.

Dan aan Skorra, jou argument is vir my skreeusnaaks, nie oor die inhoud nie, maar oor jy nie eers jou eie naam kwytskeld van jou kommentaar nie. Onnie, dok ens ens is vir ons puriste aanvaarbaar, so ook Skorra.

m ·

Hierdie man was duidelik te emosioneel om te dink aan die kinders toe hy dit gedoen het.

LB S ·

Hulle hoef nie te ondersoek wat die omstandighede is wat na die voorval gelei het nie, Dit is duidelik net ‘n rusie tussen man en vrou gewees. Wat die “rede” was het niks met iemand uit te waai nie. Ek hoop nie hulle laat nou weer wesies agter nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.