Onnie van spogseunskool in hof

Parktown Boys’ High School. Foto: Via Facebook

Die 22-jarige studentewerknemer wat daarvan beskuldig word dat hy minstens 20 leerlinge by die Parktown Boys’ High School in Johannesburg seksueel aangerand het, het Woensdag in die hof verskyn.

Die saak is uitgestel tot 11 Julie vir verdere ondersoek.
Maroela Media het vroeër berig die man het glo  ʼn 15-jarige seun in die koshuis se sitkamer onbehoorlik aangeraak. Meer as 20 kinders, tussen 15 en 16 jaar oud, het glo sedert die man se inhegtenisneming na vore gekom en ongerymdhede aangemeld.

Hy is in November verlede jaar in hegtenis geneem en ʼn maand later op borgtog van R3 000 vrygelaat. Hy staan tereg op aanklagte van seksuele gereedmaking, seksuele aanranding en aanranding.

Tydens die hofverrigtinge het staatsaanklaer Colleen Ryan gesê die saak sal in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word. Die verdediging het dit op rekord geplaas dat die soeklasbrief op 13 April bekragtig is en die deursoeking eers op 3 Mei plaasgevind het.

“Die soektog moes in die teenwoordigheid van sy oom, die beskuldigde self of sy regsverteenwoordiger gedoen word sodat hulle kon uitwys wat deursoek kan word. Dit is nie in hul teenwoordigheid gedoen nie al was die oom op die perseel,” het die verdediging Woensdag gesê.

Buite die hof het Martin Pelders van Matrix Men, ʼn organisasie wat mans wat slagoffers is van seksuele aanranding ondersteun, gesê dié soort oortredings gebeur gereeld, maar word nie aangemeld nie. “In dié geval het dit nét aan die lig gekom omdat ʼn onderwyser deur die veiligheidskamera se beeldmateriaal gegaan het. Ons moet meer hieroor praat. Dis nie aanvaarbaar dat mans verkrag word nie. Dis ‘n groot jammerte en hartseer vir hierdie seuns, maar dit sal die kwessie aan die lig bring. Ouers beskerm hul dogters en leer nie hul seuns om hulself te beskerm nie,” het Pelders gesê.

Retha Adendorn, ʼn verteenwoordiger van die skool se beheerliggaam, het ná die beskuldigde se vorige hofverskyning in Maart aan African News Agency (ANA) gesê nadat die beweerde seksuele aanranding aan die lig gekom het, het die skool ouers en leerders by die skool aangemoedig om na vore te kom en die skool te help met bewyse teen die studentewerknemer. Adendorn het gesê die skool verskaf berading aan almal wat deur die saak geraak word.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys, het bevestig dat die departement met die skool in verbinding is. “Ons hoofbekommernis is die rede waarom die leerders dit nie aangemeld het nie. Ons werk saam met skole se beheerliggame om hul reëls op te skerp.

“Die nodige agtergrondverifiëring moet gedoen word voordat iemand aangestel word om die beeld van die instansie te beskerm. Ons weet die skool doen goed en daar is reeds meer as 900 kinders wat volgende jaar na die skool wil gaan,” het Mabona gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Norwood ·

Dis nogals bad dat hy deur soveel seuns gekom het voor hy gevang is

JJ ·

Hoekom wys julle nie die man se gesig nie – is julle bang hy word aangerand……. of dalk ‘n tyre vir hom reel

Gerrit ·

Die opskrif sê “Onnie”, maar orals verder in die berig word geskryf “stundentwerknemer”

Nou wat is hy nou eintlik ???

Cherokee ·

Martin Pelders is waarskynlik verkeerd aangehaal. “…..dis asof dit nie aanvaarbaar is nie……..” Verseker het hy nie bedoel dat dit eintlik aanvaarbaar is nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Cherokee

Dankie dat jy ons daarop gewys het, ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.