Onnie verdwyn in Vietnam: ‘Ons weet ons gaan hom kry’

John Bothma (Foto: Facebook)

Hoewel daar steeds geen nuus is van die Suid-Afrikaner John Bothma wat verlede maand in Viëtnam vermis geraak het nie, bly sy geliefdes hoopvol dat hulle hom gaan kry.

Santjie Dixon, Bothma se tannie, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê dat sy daagliks van Interpol hoor wat onverpoos na Bothma in die vreemde soek. “Partykeer hoor ek meer as een keer per dag van hulle.” Interpol het in dié stadium egter nog geen tyding omtrent Botha oorgedra nie en die soektog na die jong man duur voort.

Dixon erken dat die onsekerheid tesame met die hope valse inligting oor Bothma se ligging op sosiale media dit moeilik maak, maar dat dit beter met haar gaan terwyl sy aan haar geloof vashou. Haar behoud is ook om nie meer na al die moontlike leidrade wat van die publiek instroom te kyk nie, vertel sy.

“Dit is baie tydrowend om na alles te kyk. Ons kyk ook nie meer na die negatiewe inligting nie.”

Dít volg nadat ʼn foto Saterdag deur ene Christine Brophy op Facebook gedeel is waarin Brophy noem dat die persoon in die foto van Suid-Afrika kom. Talle sosialemediagebruikers het vermoed dat dit Bothma is, terwyl dit toe nie die geval was nie.

John Bothma (Foto: Facebook)

Op die vraag oor hoe Bothma se ander familielede sy verdwyning hanteer, antwoord Dixon dat Bothma se ma, Coleen, “dit sleg vat”, maar ook op haar geloof in dié tyd staatmaak.

Maroela Media het vroeër berig Bothma is in November Viëtnam toe om daar te gaan skoolhou. Hy sou op 1 Junie teruggekeer het Suid-Afrika toe om te kom kuier.

Dixon het op 18 Mei omstreeks 13:00 vir die laaste keer met Bothma gepraat en sedertdien nie weer van hom gehoor nie. Sy selfoon is afgeskakel. Volgens Dixon het Bothma tydens hierdie laaste oproep “nie lekker geklink nie”.

Hy het in Ho Chi Minh-stad by ʼn vriend gekuier en sou die middag ʼn bus neem Kambodja toe. Wat daarna gebeur het, is ʼn raaisel. Bothma se vriend in Ho Chi Minh-stad en sy vriendin in Viëtnam, Jody Kurash, het ook niks weer van hom gehoor nie.

Die familie het intussen die datum van Bothma se vliegkaartjie terug Suid-Afrika toe na 18 Junie verander in die hoop dat hy indien hy dalk beseer is, tyd het om te herstel en dan na Suid-Afrika terug te keer.

Lees alle vorige berigte oor John Bothma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie Venter ·

Daar was gister ‘n storie op facebook van ‘n Suid Afrikaanse man wat in Vietnam ‘n ongeluk gehad het. Weet nie of dit enige waarheid dra nie maar is miskien goed om uit te kyk. Hulle is op soek na sy familie.

PVT ·

Daai man was van Nederland. Hulle noem dit in ‘n vorige artikel.

Ilze ·

Dis ongelukkig nie dieselfde persoon nie. Iemand het reeds namens familie gaan kyk ????

Facebook ·

Ek het vanoggend n post gesien van n foto van ‘n man in veitnam wat in ‘n baie ernstige ongeluk was en soek sy famielie. sal nou gaan kyk as dit die selfde man is. lyk baie na mekaar

Marietjie Venter ·

Dit is van hom wat ek ook gepraat het. Het vir my ook baie dieselfde gelyk.

Hoop regtig die familie kan hom opspoor.

André Jooste ·

Hallo Santjie, ons dink elke dag aan julle en vertrou saam met julle dat God John veilig sal bewaar en hy gevind sal word. Moed hou!

Susan Forret ·

Ek dink julle moet kyk na die storie op fb van die man wat erenstig geweet is in Vietnam. Hulle het na sy naasbestaandes in SA fesoek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.