Onnies beseer toe skoliere amok maak

klaskamer-320x240Twee onderwysers is ernstig beseer toe leerlinge wat amok gemaak het by ʼn skool in Umlazi, KwaZulu-Natal, hulle aangerand het.

“Daar is al ʼn geruime tyd probleme by Hoërskool Vukuzakhe wat verband hou met die skoolhoof, Doris Fulela,” het Muzi Mahlambi, ʼn woordvoerder van die provinsie se departement van onderwys, Dinsdag gesê. “Die departement is baie bekommerd oor die situasie by die skool, want die saak sloer nou al maande lank.”

Mahlambi het gesê die probleme het begin nadat van die onderwysers hul ontevredenheid uitgespreek het oor die skoolhoof. “Hulle het klasse geboikot en het ʼn lang lys van griewe gehad wat aangespreek moes word.”

Die departement het ingegryp en ʼn taakspan is aangestel om die saak te ondersoek. Die span was steeds besig met hul ondersoek toe die onderwysers teruggekeer het skool toe.

“Vrydag se voorval het almal verras. Die leerlinge het skielik amok begin maak en die onderwysers aangeval,” het hy gesê.

Beamptes van die departement sal Dinsdag glo weer die skool besoek om die kwessie op te los.

Die Sowetan het berig die leerlinge eis dat die skoolhoof in beheer van die skool moet bly. Hulle beskuldig van die onderwysers, wat aan vakbonde behoort, daarvan dat hulle van die hoof ontslae wil raak deur gerugte te versprei dat sy van die skool se fondse misbruik. Volgens die koerant is vier onderwysers aangeval. Mahlambi kon dit egter nie bevestig nie.

Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, kon nie dadelik kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.