Onnies eenparig gekant teen skrap van skoolvakansie

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Duisende onderwysers van regoor die land is van mening dat die departement van onderwys se besluit om die Oktober-skoolvakansie te skrap, nie ʼn noemenswaardige bydrae sal lewer om die agterstande in skole in te haal nie.

Onderwysers het hul stem dik gemaak oor dié kwessie in die onderwysvakbond SAOU se meningspeiling oor die stand van kurrikulumdekking in skole.

Maroela Media het vroeër berig dat die departement belanghebbendes gevra het om hul steun te gee aan planne om verlore onderrigtyd weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande ontwrigtings in te haal. Een van dié planne is om die Oktobervakansie te skrap en die derde en vierde kwartaal met net ʼn langnaweek te skei.

Volgens die SAOU se opname het 99% (altesaam 5 427) van die onderwysers wat aan die peiling deelgeneem het, egter gesê die ekstra vyf skooldae sal nie ʼn wesenlike verskil aan kinders se onderrig maak nie.

Die oorblywende 1% (49 onderwysers) het boonop gesê die teendeel sal eerder waar wees indien die vakansie wel geskrap word, aangesien leerders nie meer gemotiveerd is om te leer nie.

Die meerderheid van onderwysers het bygevoeg dat indien daar wel ʼn agterstand in skole is, is dit nie weens ʼn verlies aan onderrigtyd nie, maar eerder omdat kinders nie gemotiveer is om te leer nie. Daar is volgens hulle ʼn algemene neiging tot afwesigheid en ouers lewer min tot geen bystand om kurrikulumleer te verseker nie.

Luidens die opname het 72% van die onderwysers wat aan die peiling deelgeneem het, gesê minder as 20% van die kurrikulumleer het sedert verlede jaar verlore gegaan. Dit is glo te danke aan ekstra klasse en dié dat leerders nie meer wisselende roosters volg nie.

“Opvoeders werk tans besonder pligsgetrou en doen alles in hul vermoë om die ingekorte kurrikulum te dek. Dit is ook insiggewend hoe min onderwysers dink die geskrapte vakansie sal help om die agterstand in skole in te haal,” het Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, gesê.

Dié vakbond, asook Naptosa, Natu, PEU, en Sadou, het vroeër vandeesmaand gesê die departement het hulle nie eers genader om hul insette oor die wysiging aan die skoolkalender te lewer nie.

Die vakbonde het in ʼn gesamentlike brief aan die minister van onderwys, Angie Motshekga, duidelikheid oor die voorgestelde plan vereis.

Hulle wag egter steeds op ʼn antwoord van die departement.

Motshekga spreek die land Sondag toe en daar word verwag dat duidelikheid dán oor die komende skoolvakansie gegee sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Karen ·

Al wat dit sal doen is om die kinders en onnies uit te brand.

Francois ·

Jammer maar onderwysers kan ook maar n vakansie opoffer. Watse ander werk kry jy 3 betaalde vakansies n jaar. Ons kry slegs 15-31 December af. Jammer maar ek voel hulle kan ook werk. Ons almal is oorwerk. Nie net hulle nie.

Harley Davidson ·

Ek stem saam die kinders moet ‘n breek kry voor die eindeksamen, dit het tyd geword om die leierskap te vat en vir hulle te sê dat ons in beheer van ons kinders is en hulle ‘n diens lewer waarvoor ons belasting betaal

Phillip ·

Dis net n 1 week dan moes hulle Junlie En Julie vakansie opgeskort het hy is n maand lank

Sarel ·

U wat Onderwysers kritiseer ..rk hrt al gevra maar kry nrt stilte…..sal u wil oorvat by die Onderwysrrs dan kan u ook vetlof kry

Ursula ·

Ek stem kom vat gerus oor met n klas van 43. Waar OUERS niks doen om huiswerk te doen of om agterstallige werk in te haal!!!!!

Sarel ·

Onderwysers sal dasi week.in elk geval moet werk om voorbereiding te doen..so u kan maar sarkasme vir u self hou.

Elize ·

Ek het 3 op skool en ek dink dat hulle die vakansie moet kry. Hulle het nou eers na 18mnde elke dag begin skoolgaan en hulle het baie werk. My oudste het 2 dae per week klas tot 5. So ek glo hulle is moeg. Maak die 4de kwartaal langer en laat hulle ‘n week later sluit maar gee hulle die week in Okt om asem te haal.

KB ·

Ek het regdeur Covid-inperking gewerk, in Desember 2-3 weke verlof geneem, en werk weer volstoom sedert Januarie 2021.
Wat is verkeerd met die onderwys/skoliere in SA?
Lyk my ons het so effe slap geraak?
My kind studeer nou onophoudelik sedert Graad 1…dis nou 20 jaar aanmekaar, maar is besig met ‘n PhD in ‘n medies-wetenskaplike rigting…slaag elke jaar mét lof.
Tyd vir slaplê is daar nie…werk baie vakansies regdeur.
Dis tyd vir introspeksie by my liewe volkie.

Francois ·

Ek stem volkome saam. Skrsp nou die week vakansie en maak eerder n week vroeer in December toe. Die wat nou so kla gaan ook kla as die skole eers 15 Dec sluit

Danie ·

Natuurlik sal die onderwysers kla en enige verskoning uitdink.
Hulle is nou al so gewoond aan 4 vakansies per jaar hoe gaan hulle met net drie oor die weg kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.