Onnies ‘onbepaald’ geskors vir dié oortredings

(Argieffoto: Verskaf)

Onderwysers wat aan ernstige misdrywe soos moord, seksuele oortredings of aanranding skuldig bevind word, kan voorts onbepaald verhoed word om weer skool te gee. Onderwysers wat bedrog pleeg met die merk van eksamens, onbillik teen leerders of kollegas diskrimineer of na-ure teen betaling ʼn ander werk doen, kan vir tot vyf jaar geskors word.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het nuwe regulasies in die Staatskoerant aangekondig wat die skorsingstydperk vir onderwysers wat aan misdrywe skuldig bevind word, uiteensit.

Die regulasies stippel die verpligte tydperk uit wat ʼn onderwyser nie weer in diens geneem mag word nie, in ooreenstemming met die spesifieke oortreding waaraan hy of sy skuldig bevind is.

Hiervolgens mag ʼn onderwyser wat afgedank is, vir ʼn jaar lank nie weer in diens geneem word nie.

Enige onderwyser wat aan ʼn seksuele misdryf teen ʼn kind of verstandelik gestremde persoon skuldig bevind is, en wie se naam in die register vir seksoortreders en die kinderbeskermingsregister verskyn, mag nie weer in diens geneem word tot sy naam van die onderskeie registers verwyder is nie.

ʼn Onderwyser wat skuldig bevind word aan seksuele aanranding van ʼn leerder, student of kollega, wat ʼn seksuele verhouding met ʼn leerder by die skool aanknoop, wat skuldig bevind word aan die ernstige aanranding van ʼn leerder, student of kollega, wat in die besit van ʼn onwettige middel is of veroorsaak dat ʼn leerder enige van dié oortredings begaan, of ʼn skuldigbevinding aan moord, poging tot moord, verkragting, ernstige of onsedelike aanranding, word onbepaald verhoed om weer in diens geneem te word.

Ander oortredings wat ʼn onderwyser kan verhoed om weer in diens geneem te word, sluit in ʼn vier jaar skorsing vir onbillike diskriminasie, ʼn vyf jaar skorsing indien ʼn onderwyser ʼn ander werk in of buite werksure teen vergoeding doen, ʼn vyf jaar skorsing vir enige bedrog, diefstal of korrupsie wat met eksamens verband hou en ʼn drie jaar skorsing vir die seksuele teistering van ʼn kollega.

Die regulasies het betrekking op alle onderwysers soos gedefinieer in die Wet op die Indiensneming van Onderwysers. Daar mag glad nie van die voorgeskrewe maatreëls afgewyk word nie en indien daar enige twyfel oor die toepassing van die regulasies in individuele gevalle is, of wanneer daar regverdiging bestaan om van die regulasies af te wyk, moet die departement daaroor ingelig word sodat ʼn die minister ʼn besluit kan neem.

  • Die volledige regulasies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris dupreez ·

Beteken dit nou dat onderwysers nie mag privaat klasse aanbied na ure, hoe belaglik sou dit wees, wat van die leerders wat ekstra klasse nodig het.

Deon ·

Gaan julle ook die onderwysers 24 uur per dag betaal as hulle op n skool sport toer en dies meer is?

Nie Verbaas ·

Die staat sal hulle seker aanhou betaal terwyl hulle geskors is. Logiese staats denke.

Mariana ·

Sulke onderwysers moet permanent uit hul poste verwyder word. Wonder hoeveel is werklik gekwalifiseer vir hul poste.

Tiptol ·

Dis ‘n begin om kinders te beskerm. Iemand wat met kinders week moet vertrou kan word.

johann ·

Enige onderwyser wat aan ʼn seksuele misdryf teen ʼn kind of verstandelik gestremde persoon skuldig bevind is, en wie se naam in die register vir seksoortreders en die kinderbeskermingsregister verskyn, mag nie weer in diens geneem word tot sy naam van die onderskeie registers verwyder is nie. Ek sou dink dat ‘n persoon wie se naam op bg register is se naam mag NOOIT van die register verwyder word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.