Onnies terug by skool ná rassisme-protes

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het Woensdag gesê ʼn ooreenkoms is met die onderwysvakbond Sadou (Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie) bereik dat al die onderwysers van Klipspruit-West Secondary School, asook ander onderwysers van ongeveer 30 skole in Eldoradopark wat ter ondersteuning van die onderwysers ook aan die protesaksie deelgeneem het, na die skole sal terugkeer.

Rassespanning heers al maande lank by Klipspruit-West Secondary nadat die gemeenskap in opstand gekom het teen die aanstelling van ʼn swart skoolhoof. Te midde van die protes is onderwysers en algemene werkers by die skool die skoolterrein verbied weens bewerings van wangedrag.

In solidariteit met die onderwysers wat by die skool verbied is, het Sadou onderrig by verskeie ander skole in die gebied opgeskort.

Die departement van onderwys het in ʼn verklaring gesê daar is Dinsdag ʼn ooreenkoms bereik nadat Sadou sy tevredenheid uitgespreek het oor die ingrypingsmaatreëls wat die departement ingestel het om onderrig by Klipspruit-West Secondary School te herstel.

Hierdie maatreëls sluit in veiligheidspersoneel wat by die skool ontplooi is om toegang tot die skoolterrein te beheer, die aanstelling van ʼn waarnemende skoolhoof met ʼn taakspan van drie beamptes van die departement wat die hoof sal bystaan met bestuurs- en kurrikulumkwessies en verhoogde sigbaarheid van polisiebeamptes by die skool.

Die departement het gesê bewerings van rassisme sal ook deur die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.