Onopgeloste saak spook by Mans se familie

Natasha Mans (Foto: Verskaf aan Maroela Media)

Soos die jare verbygaan, word die spore wat na Natasha Mans van Bloemfontein se vermeende moordenaar kan lei, al hoe verder weggevee.

Dít is hoe Mans (41) se familie en vriende voel wat vier jaar ná haar dood steeds geen antwoorde oor dié gruweldaad het nie. Niemand is al in hegtenis geneem vir haar moord nie en die polisie se ondersoek het weinig opgelewer.

Dit was ʼn yskoue wintersnag op 31 Mei (ʼn Donderdag) toe die donkerkopvrou spoorloos uit haar en haar kêrel, Dennis Casten, se spoghuis op ʼn hoewe in die Groenvlei-omgewing verdwyn het.

Casten het destyds beweer Mans het in die veld gaan stap – met haar vermoorde dogter, Noeline Koekemoer (15), se as en ʼn rewolwer – maar nooit teruggekeer nie. Mans het glo gereeld in die veld gaan stap wanneer sy na Noeline verlang het.

Noeline Koekemoer. Foto: Verskaf

Koekemoer is in 2015 in haar ouerhuis in Bloemfontein verkrag en vermoor.

Mans se liggaam is twee weke nadat sy verdwyn het aan die buitewyke van die hoewe – sowat 50 m van die huis – aangetref. Sy het langs ʼn doringboom gelê, met ʼn rewolwer langs haar. Sy het ʼn skietwond in haar bors gehad.

Volgens die polisie het die kaliber van die rewolwer wat hulle op die toneel aangetref het, nie ooreengestem met haar borswond nie en daarom het hulle vermoed dit was nie die moordwapen nie.

Die polisie se ondersoek het voorts ook daarop gedui dat Mans se liggaam koud was en nog nie in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was nie. Daar word vermoed dat haar liggaam óf iewers koel óf in ʼn vrieskas gehou is vir vermoedelik 37 uur of langer. Dit is egter al wat die polisie met hierdie saak kon uitrig.

Selfdood of nie?

Natasha Mans en haar kêrel Dennis Casten (Foto: Natasha Mans, Facebook)

Hoewel talle Bloemfonteiners vermoed het Mans het selfmoord gepleeg, het haar naaste familie en vriende geweet dat sy nie haar eie lewe geneem het nie. Die polisie het met hul ondersoek dié vermoedens bevestig toe ʼn saak van moord amptelik aanhangig gemaak is.

Volgens Mans se geliefdes was sy depressief ná Noeline se dood, maar haar ekskêrel, Johan Botha, glo vas dat sy ondanks haar geestestoestand nooit haar eie lewe sou neem nie. Botha en Mans het saam ʼn seun, Anroux (12). Botha het Vrydag sy frustrasie oor die onopgeloste saak aan Maroela Media uitgespreek.

Botha se ma het ʼn dag voor Mans se verdwyning by haar gaan kuier en volgens haar was Mans “haar sprankelende self”.

Botha het ook die bewerings dat daar ʼn selfdoodbrief was wat Mans glo aan Casten geskryf het, as “vreemd” bestempel.

In die brief het Mans glo vir Casten, Noeline en haar ander seun, Braam Koekemoer, vir iets om verskoning gevra. “Wat vir my vreemd is, is dat sy nie in die brief na Anroux verwys nie.”

Volgens ʼn betroubare bron wat aktief by Mans se soektog betrokke was, het hy aanvanklik selfdood vermoed, maar tydens die soektog egter van mening verander. “Die spesifieke plek en die manier waarop Mans gevind is, het my laat dink dat selfdood ʼn ‘bogstorie’ is,” sê die bron.

Soektog

Die plek waar Mans se liggaam gevind is (links) is sowat 50 meter van die huis (regs) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Lede van die Bainsvlei-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede en private vlieëniers het oor die naweek van Mans se verdwyning ʼn radius van 3 km rondom die hoewe gefynkam. Die soektog is teen Maandag afgelas.

“Ons het op ʼn punt gekom waar ons besluit het om die soektog te staak, want ons het geweet ons gaan haar nie kry nie. En bygesê, sy sou ná een nag in die yskoue veld reeds dood gewees het weens verkluiming,” vertel die betroubare bron op voorwaarde van anonimiteit.

Botha het elke aand twee weke lank ook na Mans in die veld gaan soek.

Volgens die bron het Casten nie help soek na Mans nie.

ʼn Polisieman het Saterdag in sy private hoedanigheid saam met sy hond, Kazaan, ook met die soektog gehelp.

“Polisiehonde is só opgelei om ʼn liggaam meer as ʼn kilometer ver te kan  ruik – al is die liggaam nie ontbind nie. Kazaan was in ʼn stadium sowat 50 m weg van waar Mans se liggaam gekry is, maar het nie haar reuk gekry nie. Die vlieëniers sou die liggaam ook beslis vanuit die lug opgemerk het. Dit wil vir my sê sy was nie aanvanklik op die plek waar sy uiteindelik gevind is nie.”

Swak polisiewerk

Die spoghuis waar Mans en Casten gewoon het (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die bron is kwaad dat die polisie nie onmiddellik opgetree en meer moeite met die soektog gedoen het nie. Hy sê die polisie het eers vyf dae ná Mans as vermis aangemeld is, by die soektog betrokke geraak.

“Indien daar beter polisiewerk was, sou die saak dalk vandag meer gevorderd gewees het,” sê die bron.

Die familie het ook destyds ʼn private speurder, Leon Rossouw, aangestel om te help met die ondersoek omdat hulle teleurgesteld was in die manier waarop die polisie die ondersoek hanteer het.

Rossouw het aan Maroela Media bevestig die saak is tans by die direkteur van openbare vervolging (DOV) en dié moet ʼn besluit neem of hulle gaan vervolg of nie. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Vir Mans se geliefdes voel dit asof die saak ʼn doodlooppunt bereik het en dat hulle nooit die nodige berusting gaan kry nie.

“Elke jaar, met die herdenking van Natasha se moord, word ons opnuut oorrompel met vrae. Om te dink die skuldige kan dalk skotvry wegkom, dryf my teen die mure uit. Dit is so onregverdig teenoor Natasha,” sê Mans se jare lange vriendin, Petro Jonker.

Jonker se kleindogter, Cornél Wasserman, en Noeline was goeie vriendinne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.