‘Onreëlmatighede’ ondersoek ná raadslid verdwyn

Allen Barnes (Foto: Facebook)

Die Westelike Provinsie-atletiekvereniging (WPA) sê hy het “onreëlmatighede” gevind sedert sy tesourier, Allen Barnes, verlede week spoorloos verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Barnes se familie het hom as vermis aangemeld nadat hy sy huis in Edgemead in Kaapstad in die vroeë oggendure verlaat het, glo om ʼn byeenkoms wat hy by die Strandfontein Pavilion gereël het, by te woon. Hy het egter nooit daar opgedaag nie.

“As raad het ons onreëlmatighede sedert mnr. Barnes se verdwyning gevind en ons doen ʼn volledige ondersoek daarna,” het Jakes Jacobs, president van die WPA, gesê. “Die polisie ondersoek ook die saak.”

Jacobs het gesê ʼn volledige verslag sal beskikbaar gestel word sodra die ondersoek afgehandel is.

Die silwer Toyota Corolla waarmee Barnes gery het, is Sondag by die Kaapstad Internasionale Lughawe gevind. “Daar word vermoed dat hy eers by Grand West-casino was nadat hy sy blyplek verlaat het en voordat die motor by die lughawe gelos is,” het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Elton Davids, verbonde aan die Kaapstadse Sportraad, het vroeër gesê daar was sedert Barnes se verdwyning geen aktiwiteit op sy selfoonrekords of bankrekening nie en volgens beskikbare inligting is hy ook nie in ʼn hospitaal opgeneem nie.

Tientalle boodskappe oor Barnes se verdwyning is op sosiale media gedeel en mense het gebid dat hy ongedeerd opgespoor word.

Barnes word intussen steeds vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Heksie ·

lang slang in die gras hier … dalk het sy wengeldjies iemand se aandag getrek …
hoop hy word gevind, ongedeerd.

toy ·

Het hy nie dalk ‘n vliegtuigkaartjie gekoop en iewers heen gevlieg.

Wielspore ·

Ek verstaan daar was ‘n pos oop by Nkandla as tesourier, dit is laasweek gevul.

Susan ·

Hy het seker van selfoon verander met n ander sim kaart natuurlik. Maar hoop di man waar ookal is veilig ongeag di omstandighede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.