Onreëlmatighede ontbloot ná huise ineenstort

Herman Mashaba, die burgemeester van Johannesburg, het gebiede besoek wat deur die erge storm geraak is. Foto: Herman Mashaba/Twitter

ʼn Ondersoek deur die stad Johannesburg se groepsrisiko- en versekeringsdienste het bevind daar was teenstrydighede en onreëlmatighede by die beamptes en bouers van die regerings- en HOP-huise wat verlede jaar Desember tydens ʼn hewige storm ineengestort het.

Maroela Media het vroeër berig die storm het die lewe van twee mense geëis.

Verskeie voorvalle is in die suide en weste van Johannesburg aangemeld as gevolg van die storm, insluitend die gedeeltelike ineenstorting van die dak van die Trade Route Mall in Lenasia wat tot oorstromings in dié winkelsentrum gelei het.

Bome is ontwortel, paaie is beskadig en talle huise in verskillende gebiede, veral in Protea Glen in Soweto, is beskadig. Ses mense is ook beseer toe ʼn minibus-taxi op die N12 naby Impalaweg in ʼn ongeluk betrokke was. Ander minder ernstige ongelukke tydens die storm is ook aangemeld.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê drie beamptes van die stad se ontwikkelings- en beplanningsdepartement is geskors.

“Die stad moes stappe doen teen die bestuursbeamptes wat nie wou saamwerk in die ondersoek nie en nie gelewer het wat nodig was toe die ramp hanteer moes word nie,” het Mashaba gesê.

Mashaba het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná huise in Lawley, Protea Glen, Lefhereng, Snake Park en Tshepisong beskadig is.

Meer as 1 000 huise ter waarde van R180 miljoen is beskadig.

Ondersoekbeamptes het gevind dat daar nie ʼn ordentlike liasseerstelsel bestaan nie en dat 35 lêers nie in die stad se stelsel opgespoor kon word nie.

Mashaba het gesê een van die bouers was nie by die industrie se regulatoriese liggaam, die Nasionale Huisbouers Registrasie Raad, geregistreer nie.

Sommige van die geaffekteerde huise in Lefhereng het geen bewoningsertifikaat nie. Ondersoekbeamptes het bevind dat die sertifikate nooit uitgereik is nie. Hulle het ook bevind dat onvolledige bouplanne verwerk en in die stelsel opgeneem is.

Mashaba het gesê die verslag sal na die provinsiale regering gestuur word voor strafregtelike klagtes moontlik gelê gaan word teen dié wat verantwoordelik was vir die slegte werk.

“In terme van die pad vorentoe, moet ek nog verwerk wat ons hier ontbloot het. Dit was oortreding deur die stad, die rol van die banke, ens. Die tweede fase sal wees om te sien watter stappe om teen wie, insluitend die kontrakteurs, te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Paul ·

Ek neem aan dit is onreëlmatighede wat met die bou van die huise ontbloot is, en nie daardie van ‘n persoonlike aard nie.

Eish ·

Weereens die armes wat die kapasiteitsgestremdheid se prys moet betaal.

Piet ·

Ek moet met “vermeendes” saamstem. Die tranformasie ding met al die onwettige dinge wat nou na vore kom moet as waarskuwing vir die regering dien. Ongelukkig sal daar niks van kom nie want die nuwe fokus is nou op grond en taal.

Cherokee ·

Bouinspekteurs? Bouinspekteurs is tog veronderstel om die huise te besoek tydens verskillende fases van die bou daarvan.

Oom Kalahari ·

@Cherokee, watter Bouinspekteurs? Jy praat seker die wat ‘n gekoopte sertifikaat/lisensie en omkoop geld ontvang het. Dit gaan oor werks etiek, spesialis opleiding, bekwaamheid en veilige Inspeksies van hierdie geboue.

Cherokee ·

My oom, waarna ek verwys is dat dìt tog die plek is waar die ondersoek behoort te begin.

Elle ·

Cherokee is absoluut reg. Begin die ondersoek by die bouinspekteurs.

Oom Kalahari ·

@Cherokee en Elle, nee ek stem met jul dat dit die beginpunt moet wees en ek bedoel jul weet sekerlik hoe opleiding, sertifikate, lisensies en kontrakte bekom word. Toemaar ek is myself ‘n uitgeskopte produk van die Herstruktuerings proses en BBEEE toepassing en hey waargeneem wat aangaan en hoe die koevertjies van hande wissel. Tussen die verskillende fases en Minusipale beamptes is die geldjies vrylik en handjies glad nie krom nie. Swak vakmanskappe op alle gebiede. Onlang ‘n elektriese vernuwings sertifikaat verlang op my perseel toe Jafta noem alles sal ok wees met vyf duisend “no questions ask”

Potlood ·

Shoe, wat ‘n skok (bla-bla-bla)… Cry me a victim sodra iets gebeur… Drie kante aan meeste stories hier is SA:
1. Jou kant…
2. Die ander kant…
3. Die waarheid se kant…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.