‘Ons bly hoop en glo,’ sê baba Mienke se ouers

Ryno en Verna Mulder saam met hul kinders (Foto: Facebook)

Die Mulder-gesin van Mbombela (Nelspruit) het nou één doel voor oë: Om so styf as moontlik aan die Here se genade vas te klou en om te bly hoop dat baba Mienke, die sewe maande oue kind wat laat-Augustus byna by ʼn dagsorg dood is, tog sal herstel.

Verna Mulder, Mienke se ma, het Maandag aan Maroela Media vertel die gesin bly sedert Augustus hoopvol, selfs al weet hulle nie wat die toekoms inhou nie.

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus na die hospitaal gehaas toe sy glo aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof en sy word sedertdien in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal verpleeg. Die gesin het vroeër gevra vir gebede en vertel dat hulle vasklou aan hul geloof.

Mienke gaan vir die volgende 16 weke in ʼn Johannesburgse rehabilitasiesentrum deurbring om verskeie soorte behandeling te ontvang. Die Mulder-gesin gaan ook Donderdag meer te wete kom oor ʼn moontlike stamseloorplanting wat op die lang duur moontlik kan bydra tot Mienke se herstel – selfs al laat dit haar bloot toe om net meer beweeglik te wees of selfs te kan praat.

Mulder vertel Mienke het onlangs swemlesse begin neem om haar spiere te help ontspan sodat mediese personeel met haar oefeninge kan doen.

“Sy het vir ʼn lang tyd geen stuiptrekkings gekry nie en die dokters het haar daarom van die medikasie afgehaal. Sy het egter gister weer stuiptrekkings gekry wat beteken dat ons haar nou weer op die medikasie sal moet sit.

“Haar gesondheid is baie op en af – sommige dae gaan dit baie goed en ander dae gaan dit presies die teenoorgestelde. Ons het besluit om haar vir die swemlesse te stuur omdat sy baie in die water kan kalmeer. Dis amper asof sy benoud raak wanneer sy moet oefen en nié in die water is nie. Sy skop styf en veg teen die personeel. Ek was net bly om te sien sy geniet die water ongelooflik baie.”

Volgens Mulder is daar nog geen daadwerklike verskil in Mienke se toestand nie. Sy sê die dokters wil ook nie in dié stadium ʼn prognose oor die toekoms maak nie.

“Die dokters kon nog nie eintlik baie doen nie omdat die laaste twee weke of so basies maar daarop gerig was om haar gemaklik te kry voordat die terapie begin. Eers wanneer die terapie begin het, sal ʼn mens kan sê of daar resultate is. Sy is nietemin beslis baie rustiger as in die verlede en sy laat nou toe dat mense aan haar vat sonder dat sy benoud raak of stuiptrekkings kry.”

Sy sê die gesin se enigste doel voor oë is om hoopvol te bly.

“Selfs net die kleinste bietjie twyfel kan nóú vir die duiwel ʼn houvas gee. Sodra jy twyfel kry die duiwel ʼn kans om leuens te saai en ons gee nie ʼn houvas vir die duiwel nie. Ons vat elke dag soos dit kom en ons leer elke dag hoe om die situasie selfs beter en beter te hanteer. Op die ou einde het God die laaste woord; ons kan net bly vertrou in Hom.”

Die Facebook-blad Please Pray for Mienke gee daagliks meer inligting oor Mienke se vordering. Vir meer inligting besoek Please Pray for Mienke op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Liefie ·

Ek kan beslis by julle gaan leer om positief te bly. Julle is regtig ‘n inspirasie vir my en dank julle daarvoor. Mag die Here julle ryklik seen met Sy liefde en genade. Alle sterkte en voorspoed vir die pad wat voorle. By Hom is daar NIKS onmoontlik nie.

Veronica ·

Staan vas in die geloof,soos julle.doen! Ons God is asemrowend! Halleluja!

Butterfly ·

AMEN!!!!!!!!!!!!!!!!!! Mag die Liewe vader die pratige kind van julle en julle gesin styf in sy hand vashou…..

Ada ·

Ek hoop so die ou dingetjie word gesond want sy is so so mooi met die grote ogies!Ek kan haar sommer net vasdruk!

ECT ·

Arme Mienke ….. hoe hartseer is dit dat so ‘n pragtige pop so moet ly. Ek hoop saam met haar ouers dat daar genesing op die horison is. My ondervinding van werk met kinders wat serebraal gestrem is a.g.v. bv. semi-verdrinkings/verstikkings laat my egter dink dat mens realisties moet wees. Die kans dat Mienke gaan regkom, is skraal. Sy was vir lank sonder suurstof – dele van die brein is dus beskadig/dood. Hopelik het daar ‘n waardevolle les uit dié geval gekom vir dagsorgvoorsieners – daar moet ALTYD iemand met Vlak 1 Noodhulp-kwalifikasie op die terrein wees – as iemand betyds die bron van asfiksie kon identifiseer en verwyder het Mienke dalk nie breinskade opgedoen nie.

Lizette ·

Asb spreek lewe oor Mienke en haar situasie. Woorde het krag. God het d finale sê.

G ·

Die kleuterskool het seker haar bottel gegee en geloop . En seker baie later eers weer gaan kyk en toe alarm gemaak.
Ek self het 17 jaar terug ook amper my kind verloor van ontwatering.

Baie sterkte ek bid saam julle vir genesing.

L van Nelspruit ·

Ek stem heeltemal saam met G. Ek kan nie dink dat n kind van 7 maande nie gehelp kon word as daar heeltyd iemand by haar was om haar dadelik op te tel en te help toe sy verstik het nie.
En heeltyd word daar gese “moontlik verstik”

lizette ·

ja hou aan dankie se vir geneesing en wonders sal geskied.

GOD IS GOOD ALL THE TIME
ALL THE TIME GOD IS GOOD.
AMEIN

Riana ·

Vergewe haar Here, sy ken heel duidelik nie vir U baie goed nie. Here laat U wil geskied in haar lewe en ek bid vir Mienke, en dat U hand haar sal beter maak en so ook diegene wat u wil aanraak deur hierdie situasie, om hulle nader aan U Vaderhart te bring. Amen

Stefnie ·

Die beste is om nooit n baba of kind te laat le en drink nie. By kleuterskole en dagsorg sentrums word die kind gewoonlik neer gle met sy/haar bottel en daar word weg gestap van kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.