‘Ons doen alles moontlik om algehele ineenstorting te vermy’ – Eskom

André de Ruyter, hoof van Eskom. (Foto: ANA)

Eskom sê hy het die kwessie van munisipaliteite en ander gebruikers wat nie gehoor gee aan oproepe om beurtkrag in werking te stel, of dit nie ten volle doen nie, aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) oorhandig.

André de Ruyter, hoof van Eskom, het Dinsdag by die tweede mediakonferensie in soveel dae gesê Eskom sal nou remediërende stappe doen teen munisipaliteite – en sommige nywerheidsgebruikers – wat nie aan die voorwaardes vir beurtkrag voldoen het nie.

Kennisgewings word aan al dié gebruikers gestuur en die hulp van Nersa is ingeroep omdat dit die reguleerder se plig is om die vermindering af te dwing.

Monde Bala, verspreidingshoof van Eskom, sê Eskom hanteer die inwerkingstelling van beurtkrag namens sommige munisipaliteite – veral die kleiner plaaslike owerhede – terwyl die ander, ook die metropole, dit self hanteer. Indien Eskom se kliënte nie na wense gehoor gee aan die versoeke nie, kan hy die krag self afskakel om druk op die netwerk te verlig.

De Ruyter het ook ʼn beroep op die media gedoen om nie na die beurtkrag as ʼn algehele ineenstorting, ʼn sogenaamde “blackout”, te verwys nie. “Wat ons in werking stel, is beurtkrag. Jy mag dalk dink dit is ʼn eufemisme, maar ʼn algehele ineenstorting is presies wat ons probeer verhoed.”

Hy het onder meer na algehele ineenstortings van die netwerk op plekke soos Zambië verwys. De Ruyter sê in so ʼn geval is daar ʼn algehele verlies aan kragverspreiding. “Dit is die katastrofiese uitkoms wat ons probeer stuit, deur aanvraag deur middel van beurtkrag te bestuur.”

De Ruyter sê Eskom bedryf een van die grootste netwerke ter wêreld met nagenoeg 30 kragsentrales. Dit sluit in twee hidro-kragsentrales, ʼn kernkragsentrale en drie pompopgaarskemas met ʼn gesamentlike opwekkingsvermoë van sowat 45 000 MW, asook transmissielyne van 391 000 km.

“Dit is ʼn nasionale bate waarna omgesien en wat behoorlik in stand gehou moet word.”

Die situasie waarin die land hom die afgelope week bevind, is een wat Eskom tot elke prys probeer vermy, sê De Ruyter. Hy het ook opnuut benadruk dat Eskom ten volle toegewyd is om krag aan die sowat 60 miljoen inwoners van Suid-Afrika te lewer.

“Ons doen alles moontlik om die situasie na die beste van ons vermoë te pak.”

Hy het die land om verskoning gevra omdat die beurtkrag tydens die matriekeksamen in werking gestel moes word en sê die kragvoorsiener gaan uit sy pad om ekstra kapasiteit by die netwerk te voeg sodat beurtkrag opgeskort kan word.

De Ruyter sê die kragvooruitsig het aansienlik verbeter sedert Eskom fase 4-beurtkrag in werking moes stel en in hierdie stadium sal dit, soos beplan, tot Saterdag geld.

Eenhede by Matimba en Majuba sal na verwagting vanaand aanlyn gebring word en sowat 800 MW – hopelik betyds vir die aandspitstyd – by die netwerkkapasiteit voeg.

  • Eskom sal solank beurtkrag voortduur, daaglikse nuuskonferensies hou om Suid-Afrikaners op die hoogte van die situasie te hou. Die volgende konferensie sal na verwagting Donderdag om 10:00 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ons wil graag hoor wat sê Ted Blom. De Ruyter steek baie van die probleme of wat noem hulle dit vandag “Uitdagings” weg. Ted Blom sal ons die korrupsie en diefstal uitwys. Asb MM

Trotse Boervrou

Indien André de Ruyter en sy span nie oorgeneem het nie, en die bietjie van Eskom wat oor was probeer red het nie, sou Suid-Afrika lankal reeds in donker gehul gewees het. Dankie vir elke liewe een van hierdie hele span. Volgens myns insiens het julle reeds die onmoontlike vermag. Die enkele mense wat so kritiseer, moet asb verder dink as wat hul neuse lank is en eerder hierdie mense ondersteun. Die meeste mense waardeer wat julle ookal probeer. Sterkte vorentoe. Dit is ‘n baie strawwe pad wat voorlê.

Werner

Slegte nuus te min te laat.

Pieter

Onthou Ramphosa het met die laaste verkiesing gespog hoe die ANC elektrisiteit na talle mense gebring het na apartheid. Natuurlik sonder dat die verbruiker betaal. ‘n Sosialis/kommunis deel immers uit totdat die geld klaar is, dit is onvolhoubare beleid. Die ineenstorting van die kragnetwerk is deels hieraan te danke en onbetaalde kraglewering aan die ANC se kamerade in die buiteland. Situasie sal net slegter word, veral na die onlangse verkiesing uitslae. ANC swaai septer in meeste munisipaliteite.

Johann

So Mnr De Ruiter? Verduidelik asb vir my hoe ESKOM steeds PREPAID krag verkoop, terwyl ESKOM WETEND NIE KRAG HET OM TE VERKOOP NIE?

Dis mos BEDROG? Of is dit hloot n lekker CASH COW wat ESKOM verseker van geld in die sak terwyl ESJOM bloot nie die produk hoef te lewer nie?