‘Ons harte is gebreek,’ sê Mienke se ouers na nóg ʼn terugslag

Baba Mienke (Foto: Facebook)

Geen verdoemende diagnose sal baba Mienke Mulder se ouers laat ophou glo dat hul eens opgewekte babadogtertjie eendag ten volle genees sal word nie – selfs al beteken dit dat dié ouers dag en nag op hul knieë moet deurbring.

Verna Mulder, Mienke se ma, vertel Woensdag aan Maroela Media sy en haar man, Ryno, se “harte is gebreek” oor die nuus dat Mienke binnekort weer geopereer sal moet word. Dít nadat die eenjarige in Maart vanjaar laparoskopiese chirurgie ondergaan het om haar slukderm te vernou omdat sy konstant haar kos en medisyne opgebring het.

Mulder sê Mienke het onlangs weer dieselfde simptome as voorheen begin toon, maar dié keer het dit daartoe gelei dat sy aan vloeistowwe verstik het, daarom het dokters die gesin aangeraai dat Mienke weer opgeneem sal moet word.

Sy vertel Woensdag in ʼn telefoniese onderhoud aan Maroela Media sy en Ryno weier egter volstrek om na die doemprofete te luister omdat hulle oortuig is dat dieselfde genade wat hulle tot in dié stadium van Mienke se siektestryd gedra het, hul dogtertjie ook sal genees.

“My hart is gebreek omdat ek nie weer my babadogtertjie in die teater wil sien nie,” sê sy. “Ek bid dus dat [die toestand] baie vinnig beter word. Die Here ken my hart, so ek los [my bekommernisse] by Hom. Hy weet wat die beste is, en ek weet Hy sal vir my ʼn antwoord gee.”

Sy sê hoewel hulle oor die laaste paar maande soms mismoedig geraak het, het die egpaar nooit ophou glo dat Mienke wél ten volle gaan herstel nie – selfs nie eens toe serebrale gestremdheid einde verlede jaar by Mienke gediagnoseer is nie.

“Serebrale gestremdheid is net ʼn term wat deur dokters gebruik word. Ons sal hulle verkeerd bewys,” vertel sy. “Hoe dan anders? Mense van buite sal dit dalk nie kan sien nie, maar ons sien elke nou en dan verbetering in haar gesondheid, en juis daarom bly ons hoop en glo.”

Mienke kan steeds nie self eet, sit of praat nie. Mulder sê die gesin neem haar egter steeds een keer per week vir onder meer spraak- en fisioterapie, en dié terapie het al resultate begin toon.

“Mienke kon voorheen nie eens haar koppie regop hou nie omdat sy nie beheer oor haar eie nekkie gehad het nie. Nou kan ʼn mens duidelik sien hoe sterk haar nek geword het. Haar vuiste was voorheen ook heeltyd gebal, en deesdae is haar hande, arms en bene baie meer ontspanne. Sy beweeg selfs haar arms, bene en nekkie – iets wat voorheen glad nie moontlik was nie. Ja, sy lag nog nie, praat nie of maak nie enige babageluidjies nie, maar ons weet daar kom nóg verbetering.”

Verna en baba Mienke (Foto: Facebook)

Nadat die gesin vroeër bekommerd was oor Mienke se sig, sê Verna die dokters het nou bevestig dat Mienke wel nié blind is nie. “Sy moes onlangs ʼn bril kry omdat sy swak sig in haar een oog het,” verduidelik Mulder. “Maar ons sal nie dat enigiets ons onderkry nie. Ek is steeds vol vertroue dat sy heeltemal gesond gaan word en dat sy weer ʼn normale dogtertjie gaan wees. Ek vertrou met my hele hart dat sy nog eendag saam met haar sussie sal rondhardloop. Dit gaan baie tyd en harde werk en baie geloof verg, maar ons gaan dié pad stap omdat ons gesien het wat geloof kan vermag.”

Mulder sê dit gaan ook baie beter met haarself nadat sy in Februarie weens ʼn hartstilstand in die hospitaal opgeneem is. Sy is vyf jaar gelede met ʼn harttoestand gediagnoseer en sê sy en Ryno kén paaie vol beproewings.

“Soms is my gesondheid op en soms af. Deesdae is dit weer beter – en dit móét wees sodat ek kan bly veg vir my klein Mienkie.”

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas toe sy glo aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal verpleeg. Die gesin het vroeër gevra vir gebede en vertel dat hulle vasklou aan hul geloof.

Besoek die Facebook-blad Please Pray for Mienke vir daaglikse inligting oor Mienke se vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Willem ·

Vat haar na prof Prinsloo homeopaat in Pretoria. Dis naby stormvoël weg.

DPJ ·

Dit is werklik verblyfend om te sien hoe julle aan jul geloof vashou. Met God drie enig aan julle kant is enige iets hontlk,

Genieve ·

Mag die Here van wonders n God van naby vir haar wees ja ons glo saam met julle dat die Here van die leerskare haar op n wonderbaarlike manier sal aanraak…baie sterkte vir julle.

Elvira ·

Bly glo en dank o s liewe vader elke dag vir sy genade en haar genesing. Bid vir haar.

Jenny Thom ·

Goeiedag
Wil sommer net vinnig getuienis gee.
My dogter is doof, blind en spasties gebore. Haar eerste oogoperasie was op 5 weke, ‘n klein ou bondeltjie mens. Na etlike operasie het sy vir die 1ste keer op 6 maande op ‘n rattle gefokus en geglimlag. Haar ander ogie is op 1 jaar verwyder, en het sy dus ‘n glasogie. Wonderlik groot en genadig is ons Majesteit YHWH. Sy is nou 42 jaar oud, werk vir die afgelope 12 jaar by ‘n wonderlike instansie waar nog etlike dowe persone werksaam is. Nooit in my wildste drome sou ek ooit kon dink dat die kleine mensie vir haar mamma op haar “oudag”sal sorg nie. Ons kommunikeer as gevolg van haar gehoor getremdheid minimaal en is sy so tuis in haar eie wêreldjie met haar rekenaar, TV en “gadgets” wat haar hele lewe is. Al die Lof, Eer en Roem aan my Majesteit YHWH Wie haar so goedgunstiglik benadig en barmhartig was. Wat op dese aarde sou ek tog sonder haar gemaak het.?? Moet nooit ophou bid, vertrou en glo nie. Baie sterkte, onthou ons dien ‘n Lewende en Getroue Elohim.

Hester de Bruim ·

Kry haar by Dr Bartlett Garden City die beste in die wereld ek het ook kinders sy sal gesond word en ons bid ook vir julle God is groot vertrou maar net

Oom Kalahari ·

Jul Geloof is sterk en met Gebed sal God vir jul die weg baan. Ons wens jul en Mienkie alle sterkte en gebede gaan uit vir haar genesing.

Isabel ·

Moet nie moed opgee nie!! Speel vir haar baroque musiek. Bid, bid bid! Glo, glo, glo! My kleinkind is volkome genees deur die Bloed van Jesus. Ek weet wonderwerke gebeur nog. Vader, in Jesus Heilige Naam spreek ek nou volkome genesing oor Mienke uit. Mienke wees volkome genees en leef ‘n vol lang lewe. Amen.

izette ·

By God is alles moontlik…ook die onmoontlike….
Sterkte vir julle as ouers en gesin…..
Bid vir julle….

Glo en vertrou ·

Suster Mulder, kom ons glo en vertrou en los alles in God se hande.

Verstom ·

Hy bly Koning van ewig af. Soos jy sê, hy ken jou hart en Hy alleen gaan jou kind genees. Bly julle op jul knieë en Hy sal Sy beloftes ten uitvoere bring.

Yolandi Pretorius ·

Julle geloof id vir my inspirerend. Ek glo saam julle en spreek genesing in Mienkeke se liggaam. We anticipate the inevitable supernatural intervention of God. En sy gaan n getuienis wees van God se krag.

Gesiggie ·

Mienke…mag die Engele van Jesus met jou wees, mag Jesus jou elke dag net meer en meer genees en aan Mamma en Pappa soveel Blessings gee, want jy is n engel kind van God en sal getuig eendag dat wat almal gedink het is onmoontlik, het Jesus als moontlik gemaak. Mamma Verna klou vas aan Jesus se kleed, en hou aan so gelowig wees want God is Good All the Time… I Believe in Angels Mienke sal weer 100% herstel en rondbaljaar saam haar sussie. Alle sterkte aan jul, ek sal Mienke opdra in my gebede.

Suzette ·

Ek glo en vertrou ook dat hierdie poppie volkome genees sal word om eendag te kan getuig hoevéél mense sy saamgebring het want sy is n klein wonderwerk en het spesiale ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.