Ons het goeie vordering gemaak in Marikana, sê Lonmin

Khaya Ngcwembe, uitvoerende menslike hulpbronbeampte by Lonmin (Foto: ANA)

Die platinumvervaardiger Lonmin het gesê hy het beduidende vordering gemaak om gestand te doen aan sy toewyding tot die Marikana-gemeenskap.

“Behuising was ʼn sleutelpunt in die maatskappy se maatskaplike en arbeidsplanne met moderne behuisingsontwikkelings wat vir talle werknemers opgerig word,” het Khaya Ngcwembe, uitvoerende menslike hulpbronbeampte by Lonmin, Woensdag gesê.

Hy het die toespraak gemaak namens uitvoerende hoof Ben Magara wat nie die Marikana-gedenkdiens kon bywoon nie, weens familieverpligtinge.

Op 16 Augustus 2012 het 34 Lonmin-mynwerkers gesterf toe polisiebeamptes op ʼn skare betogende mynwerkers losgebrand het by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg in Noordwes. Byna 70 ander is gewond. Die werkers het ʼn maandelikse salaris van R12 500 geëis. Hulle het op die berugte Marikana-koppie gekamp en geweier om die gebied te verlaat totdat die Lonmin-bestuur met hulle kom praat het. ʼn Week voor die tragedie is tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee Lonmin-veiligheidswagte, doodgemaak.

“Lonmin se finansiële belegging in behuising sedert 2013 sal teen die einde van vanjaar R500 miljoen haal, fondse wat dit moontlik gemaak het om alle enkelgeslaghostelle te omskep in 2 162 enkel eenhede en 759 familie-eenhede. Altesaam 1 240 woonstelle is ook deur Lonmin gebou en sal teen die einde van 2018 beset word.”

Die Benchmark Foundation het in sy verslag, “Platinum for the Worl Market, Iron Shacks for the Workers”, gesê die situasie in Marikana is nie net ʼn versuim van die Suid-Afrikaanse regering nie, maar ook ʼn storie van “korporatiewe onverantwoordelikheid”. Lonmin het in 2006 ʼn maatskaplike- en arbeidsplan (SLP) ingedien waarvolgens die maatskappy homself daartoe verbind het om 114 hostelblokke te omskep en teen 2011 altesaam 5 500 nuwe huise te bou.

“In 2012, toe die slagting plaasgevind het, het Lonmin slegs drie van die 5 500 huise gebou wat hulle in hul SLP beloof het. Teen 2017 het Lonmin die hostelle omskep, maar slegs 500 bykomende woonstelle gebou. Lonmin blameer finansiële probleme vir die gebrek aan implementering van die SLP en die onvermoë om vinniger lone te verhoog,” aldus die verslag wat in Mei 2018 vrygestel is.

Die studie het die situasie in Marikana sedert 2012 tot 2017 ondersoek.

Lonmin het gesê families is ook deel van die 1608 Memorial Education Trust, wat opgerig is om seker te maak dat die kinders en familielede van die werknemers wat in 2012 gesterf het, opleiding tot op universiteitsvlak sal ontvang. “Tot dusver het die maatskappy R8,9 miljoen spandeer aan opleiding, behuisingsfooie, vervoer, uniforms en opvoedkundige projekte.”

Die maatskappy het gesê hy het goeie vordering gemaak om beter salarispakkette vir sy werknemers saam te stel. “Een van die belangrikste ontwikkelings is die nuwe kontantpakkette vir rotsbooroperateurs, wat nou tussen R15 770 en R17 950 verdien. Dié pakkette sluit ook ʼn mediese fonds en die verskaffing van finansiële bystand in waar nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Gee asb tog vir elke familie en almal wat nog kla R10milj en ‘n huis en ‘n kar en maandelikse toelaag want anders gaan die storie nooit ophou nie. Vreemde siele doen ondersoeke en maak bevindings en die stertjie word nou al so lank dat die punt gemis word. Die stakers moet eenvoudig kry wat hulle wou gehad het… So doen asb. Ons het nou al een dag wat toegwy word aan die betoging en daagliks is daar nog nuwe betogings en die polisie mag nou nie eens water aanbied vir dorstiges nie of daar is nog vakansiedae op die jaarlikse kalender.

Jane ·

Hoekom gaan julle so aan oor Marikana? Kry nou einde. As die mense nie GEWELDDADIG geraak het nie het die polisie hulleself nie verdedig nie. Hierdie ‘onskuldige’ betogers het polisiemanne EN sekuriteitswagte wreedaardiglik vermoor, die polisie mag niks doen teen klipgooiende massas wat hulle met machetes bestorm en petrolbomme gooi nie? Hoekom is ‘n gewelddadige betoger se lewe MEER werd as ‘n SEKURITEITSWAG wat ook maar net sy werk probeer doen het en ‘n Polisieman se lewe?? Hou op om GEWELDDADIG te betoog en ander se lewens in gevaar te stel, dan sal die polisie nie genoop wees om met geweld terug te slaan nie. Volgens my verdien die ‘slagoffers’ se families niks nie, want hulle het eerste die wet oortree. Ons het nog nooit behuising gekry nie, ook nie ‘n vervoertoelaag nie .. wees TEVREDE met jou werk en klou vas aan wat jy het. Lonmin gaan in elk geval binnekort waarskynlik sluit, kyk wat julle dan uit hulle kan kry ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.