Soos sake nou staan, sal beurtkrag nié vroeër as Maandag opgehef kan word nie.
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het Woensdag gesê die kapasiteit van die land se kragnetwerk is vandeesweek uiters beperk weens verskeie uitdagings wat Eskom nog te bowe moet kom.
Onbeplande onderbrekings staan tans op 1 4 758 MW. “Dit is gelykstaande aan drie Medupi-grootte kragstasies wat nie beskikbaar is nie,” het De Ruyter vanoggend tydens ’n mediakonferensie daarop gewys.
De Ruyter het wel sy versekering aan verslaggewers gegee dat die kragvoorsiener alles in sy vermoë sal doen om beurtkrag vroeër op te hef. Eskom kan dit egter nie in dié stadium waag om sy reserwes op te gebruik nie en daar is tans “geen alternatief” as die verwagte vlak 2-beurtkrag tot Maandag 05:00 nie.
Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het op sy beurt gesê Eskom moet nie oorhaastig wees met ’n aankondiging van verkorte beurtkrag nie. Intussen bestaan die risiko vir beurtkrag die komende winter steeds.
“Ons het nie genoeg kapasiteit in die land nie. Ons moet dit verstaan. Ons kan niemand verwyt nie, maar ons het ’n ou stelsel wat nie goed onderhou is nie en die afgelope 15 jaar in die skuld is.”
Hy wys daarop dat Eskom nou soveel moontlik instandhoudingswerk moet doen terwyl hy steeds aan die land se vraag na elektrisiteit moet voldoen.
“Ons sal alles doen om nie beurtkrag in te stel nie. Ons verstaan ons mandaat en dít is om krag te voorsien aan die land. Maar ons bevind ons in ’n moeilike posisie.”
Eenhede skop die een ná die ander uit
Maroela Media het vroeër berig beurtkrag is Dinsdag om 17:00 ingestel weens nege kragopwekkers wat die gees gegee het, asook vertragings in die terugkeer na diens van kragopwekkers.
Oberholzer het vanoggend gesê Saterdag was eintlik ’n redelike stil dag vir die kragnetwerk met slegs twee eenhede wat uitgeskop het. Die eenhede is kort daarna weer in diens gestel, maar toe skop nóg vier eenhede Sondag uit.
Die eenhede was teen Maandagmiddag weer in diens, maar nóg agt eenhede het daardie dag uitgeskop. Dié onderbrekings het 3 300 MW uit die kragnetwerk gehaal met slegs een van die eenhede wat weer in diens gestel kon word.
Nóg vier kragopwekkers het Dinsdagoggend uitgeskop of die gees gegee wat daartoe gelei het dat nog 2 000 MW verlore gegaan het.
Drie eenhede sal na verwagting vandag weer in diens gestel word.
Rhulani Mathebula, algemene bestuurder by Eskom, het op sy beurt gesê 4 500 MW is in gevaar weens eenhede wat dreig om die gees te gee.
“Ons grootste bekommernis is al die ineenstortings om verskeie redes. Baie van die eenhede is weer in diens gestel, maar weens ketelpyplekkasies is groot eenhede steeds buite werking en dit gaan tyd neem om te herstel.
“Elke uitdaging lei tot ernstige beperkings in kapasiteit.”
Minder beurtkrag as verlede jaar
Op ’n vraag van ’n verslaggewer oor hoe die toepassing van beurtkrag verlede jaar met die beurtkraglading vanjaar vergelyk, het Eskom se bestuur geantwoord dat beurtkrag vir 29 dae vanaf 1 Januarie 2021 tot einde April 2021 ingestel is.
Dit is vier dae minder as die 25 dae beurtkrag wat vanjaar in dieselfde tydperk ingestel is. Dit is wel kommerwekkend dat fase 4-beurtkrag vir vier van die 25 dae ingestel moes word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
34 Kommentare
Ek sal sê die werkers het die gees gegee, en nou moet húlle almal uitgeskop word.
Gees gegee….hoop dit gebeur met die ANC in 2024. Kan nie dink aan nog 10 jaar saam met die klomp skelms nie! Ons sal miskien in 2024 met kerse saam moet stem!
Snaaks voor 1994 het ons nie krag probleme gehad nie. Elke dorp saam met eskom het ook sy eie kragstasie gehad en kon aanvul. Toe moes alle kragstasies gesluit word want volgens die unies sal escom nou alle krag voorsien. Hulle was gewaarsku dat daar meer kragstasies gebou moet word. Hulle die ANC het dit afgemaak dat hulle net geld wil mors.
Met al die Rastellende Aksie, Staatskaping, bedrog, diefstal en korrupsie is dit geen wonder nie. En die betalende gebruikers is al leeg gemelk. Dis nou indien Eskom wel iets het om te verkoop.
ALLE blaam MOET voor deur van ANC regime gelê word!!!!