‘Ons het nodig om te rou’

Monique Taute (AfriForum: Hoof van Veldtogte), Gerrie Nel en Renisha Jimmy.

Die gesin van Reshall Jimmy wat in Desember 2015 doodgebrand het toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het, het gesê hulle hoop geregtigheid sal nou geskied sodat hulle kan rou.

Renisha Jimmy, Reshall se suster, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê haar broer se dood het haar familie gebreek. Daar is tydens die mediakonferensie bekend gemaak dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die Jimmy-gesin sal verteenwoordig tydens die geregtelike ondersoek wat op 4 Februarie 2019 sal plaasvind.

“Dit is regtig ʼn baie, baie moeilike pad wat ons gestap het. Ons hoop dit kan tot ʼn einde kom sodat ons kan rou aangesien ons nog van dag een af net baklei vir ʼn vorm van geregtigheid.”

Volgens Jimmy het Ford haar broer se naam deur die modder gesleep. “Dit is gesê hy is geskiet; toe word dit beweer hy het selfmoord gepleeg. Ons is al deur só baie en het só hard baklei. Ford moet verantwoordelikheid neem vir wat hulle gedoen het. Hulle mag nie daarmee wegkom dat hulle ʼn bespotting maak van iemand wat soveel gehad het om te bied en soveel gehad het om voor te leef nie.

“Ons het alles opgeoffer en baklei al vir die afgelope drie jaar. Ons sal nie ophou voor Ford verantwoordelikheid neem dat hulle Reshall van sy lewe beroof het nie.”

Renisha Jimmy en Rod Montano.

Rod Montano, die Jimmy-familie se regsverteenwoordiger, het gesê in die familie se pogings om Ford aan te vat oor wat met Reshall gebeur het, is hulle van bakboord na stuurboord gestuur. Hy het gesê die familie is dankbaar vir Nel en AfriForum se hulp. Volgens Montano sal die voorverrigtinge van die geregtelike ondersoek Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof plaasvind en sal uitstaande kwessies rakende die ondersoek onder die loep geneem word.

Adv. Nel het gesê indien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om nie strafregtelike vervolging in te stel ná die geregtelike ondersoek nie, sal AfriForum se vervolgingseenheid met private vervolging voortgaan.

Hy het gesê daar sal tydens die ondersoek getuienis gelei word van al die relevante partye, hetsy in die vorm van beëdigde verklarings of mondelinge getuienis van die betrokke partye en kenners.

Reshall Jimmy (Foto: Kaveen Jimmy/Facebook)

Die NVG het vroeër besluit om Ford nie te vervolg nie, maar het die gesin ’n nolle prosequi-sertifikaat (wat private vervolging moontlik maak) geweier aangesien hulle op die uitslag van die ondersoek wag. Nel voeg by dat dit onaanvaarbaar is vir internasionale “korporatiewe boelies” soos Ford om hulself as verhewe bo die reg te beskou: “Ons was verbaas dat Ford alle kommunikasie met die slagoffers gestaak het en tydens gesprekke met die gesin stellings soos ‘We have deep pockets,’ gemaak het.”

Sedert AfriForum se betrokkenheid het Ford twee privaat regsverteenwoordigers aangestel om +die dialoog voort te sit” maar die burgerregtewaghond sê hy het tot dusver, nes die gesin oor die afgelope drie jaar, geen werklike poging tot kommunikasie ervaar nie. Volgens Nel is hierdie saak ’n verdere stap in AfriForum se strategie om die beginsel van privaat vervolging te vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stan ·

Voel jammer vir die familie. Het respek vir hulle deursettings vermoë om vir Reshel se waardigheid en geregtigheid te bly veg, tot die bittere einde. Dankie aan Afriforum vir hulle bydrae en sterkte om hierdie reus aantepak.

Abe ·

Ja,Stan,
‘Stem saam met alles wat jy se. Ek sien uit na die verloop van die saak en hoop MM sal ons asb. op hoogte hou. Dit kan ‘n baie belangrike saak in die SA regspleging word.

Tiaan ·

Ford is so arrogant om self ʼn nuwe weergawe van die Kuga te verkoop, ten spyte van die vorige een se reputasie en dat dit niks meer werd is nie. Niemand wou dit inruil of koop nie want dit slaan aan die brand. Ford neem hulle geen verantwoordelikheid vir hulle nalatige ontwerp wat veroorsaak het dat olie uitlek en aan die brand slaan nie.
Wat meer verstommend is dat mense aanhou om hul produkte te koop, maar nou ja… Ford moet maar net aanhou om nog meer goedkoop plastiek op daai Ranger te plak. Die eienaar sal self die fake intake op die bonnet en die John Deere plakker opsit!!

Nicoleen ·

Dis soos jy sê. Ons Kuga het ons in Nov 2016 gekoop en die Des 2016 het hierdie probleem voorendag gekom. Ons Kuga was vir al die Re-calls. Sy waterbottel was ovaal gewees en moes vervang word. Wat ‘n gesukkel was dit dat ons ‘n leen voertuig moes kry vir die tydperk wat hulle hom daar gehou het. Ons wil hom nou inruil op ‘n Bussie maar met die wat sy waarde so geval het is dit vir ons onmoontlik want die aflos is nou soveel meer as die boekies waarde so ons moet die res inbetaal. Gedink ons koop ordentlik om darm ‘n betroubare voertuig te hê nou is jy bang elke keer wat jy met hom ry of alles ok is en niks gaan gebeur nie. So ons verloor alles wat ons reeds op hom betaal het. Ons gaan nie in ‘n posisie wees om hom te vervang met iets anders agv sy waarde wat so geval het nie. Maar wat gee hulle om sodra hulle hulle pond ontvang het is hulle gelukkig.

Sannie ·

Ford …. die naam laat my hoendervleis uitslaan… my man se ranger kuier so 4 x n jaar by hulle. Altyd sy skuld nie Ford sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.